ADVERTISEMENT:

 

SAPD

Dwelmhandel: Polisie sal werk maak van probleem

 

Die Makhado Polisie het vandeesweek amptelik gereageer op van die onthullings wat Stefan van den Heever gemaak het in sy eksklusiewe onderhoud met die koerant twee weke gelede.

Stefan het in sy onderhoud in detail vertel by wie en waar hy dwelms gekoop het toe hy nog ‘n verslaafde was. Hierdié inligting is nie dadelik bekend gemaak nie, want iemand wat nie formeel aangekla is of gepleit het in ‘n hof nie, se identiteit kan nie bekend gemaak word nie.

Pa Conrad en Stefan het voor hulle die inligting gedeel het met die koerant, dit reeds meer as twee jaar vantevore met die Makhado Polisie gedeel. Hulle het die name, adresse en gewilde uithangplekke (vanwaar die handelaars smous) meer as een keer aan die polisie gaan uitwys.

Dit was aanvanklik ietwat van ‘n stryd om bevredigende antwoorde van die polisie te kry. Die stasie was in die proses om ‘n nuwe bevelvoerder, in die persoon van kol. Meril Mabata, aan te stel. 

Pa en seun het gesê dat die polisie geen werk gemaak het van hulle inligting nie. Inteendeel, op 12 Junie 2015 het hulle ‘n handelaar in die aanklagkantoor gehad, en tevergeefs probeer om ‘n saak te open teen die man. Ongelukkig kan die man se naam nie bekend gemaak word nie, want hy is nooit aangekla nie.

Die handelaar het Stefan genader terwyl hy saam met sy ouers uitgeëet het by die destydse Corner Grill Restaurant (wat reg langs die polisie se aanklagtekantoor was). Hy het vir Stefan dwelms aangebied, waarop Conrad onmiddellik polisie toe is om te verseker dat die man gearresteer word. ‘n Polisielid het toe glo vir Conrad gesê dat die handelaars in die dorp gewaarsku is om nie dwelms aan kinders te verkoop nie.

Die koerant het intussen deur vertroulike bronne binne-in die polisie vasgestel dat dit besonders moeilik is vir die plaaslike polisie om dwelm-verwante sake te ondersoek. Die hoofrede is omdat hier nie ‘n spesialiseenheid is om die sake behoorlik te ondersoek, sodat daar genoeg bewyse ingesamel kan word vir ‘n suksesvolle vervolging in die hof nie.

‘n Saak kan net suksesvol verhoor word in die hof as ‘n handelaar met dwelms in sy besit betrap word. Daarbenewens word die groot base geteiken, eerder as die handelaars, want (so glo die polisie) dan sal die dwelmprobleem met wortel en tak uitgeroei word. 

Terwyl die koerant navraag gedoen het, het dit aan die lig gekom dat talle van die “petty theft” huisbrake wat tans voorkom, kan verband hou met dwelmmisbruik. Twee verdagtes is voorverlede week aangekeer deur die Soutpansberg Dorpswag en polisie, nadat daar by die huis van mnr. Jerry Cloete ingebreek is en ‘n aardig hoeveelheid huis- en elektriese ware gesteel is. Die inligting is opgevolg en die twee mans, wat familie van mekaar is, is glo in besit van dié goedere gevind. Een het toe glo uitkennings gaan maak van die gesteelde goedere wat hy aan sy dwelmhandelaar verkoop het. Die twee mans is aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde goedere, terwyl die handelaar aangekla is van die besit van onwettige narkotika. Al drie se sake is uitgestel tot ‘n latere datum om die polisie kans te gee om hul ondersoek af te handel.

Dit is om hierdie rede, het Conrad verlede week aan die koerant gesê, dat die polisie moet ophou verskonings soek en hulle werk doen. “Hulle moet die gebruikers saam met die handelaars vang en aankla. Dan sal die dwelmprobleem drasties verminder in Louis Trichardt. Die gebruiker moet weet dat hy in net soveel moeilikheid kan kom as die handelaar en moet ontmoedig word om dwelms te koop,” het Conrad gesê.

Stefan se inligting is hierdie Dinsdag  deur die koerant onder die aandag gebring van Mabata. Sy het haar woord gegee om dit daadwerklik op te volg. Mabata het gesê as plaaslike lede nie opgewasse is vir die taak nie, sal sy sorg dat die inligting by die regte mense by die Hawks uitkom.

 

News - Date: 29 August 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: