ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. Hennie Bonnema (62), saam met sy eerste kleinkind, sy hart se punt, Anelia Bonnema (11 maande). Foto verskaf.

Plaasmoord skok

 

Die streek se vreugde hierdie week nadat sewe vermeende plaasaanvallers suksesvol in die Mara-omgewing aangekeer is, was van korte duur. Woensdagoggend het inwoners van die Soutpansberg wakker geword met die hartseer nuus dat een van Levubu se mees geliefde en welbekende boere wreedaardig vermoor is.

Die 62-jarige mnr. Hennie Bonnema is Dinsdagaand by sy plaaswoning op die plaas Beaufort F 10 in Levubu dood aangetref deur sy oudste seun, Hendrik. Teen Woensdagoggend was die motief agter die sinnelose moord steeds duister.

Hendrik het aan die Zoutpansberger gesê dat hy sy pa nie te ver van sy huis af aangetref het nie. Hy het Dinsdagaand ondersoek gaan instel waarom sy pa hulle nie laat weet het dat hy veilig by sy huis is nie. Hennie het vroeër die aand by sy suster, Marina, en swaer gaan eet.

Hendrik sê hy het sy pa naby die voordeur van sy huis gekry. Hy was reeds dood. Dit wil lyk of die booswigte sy pa ingewag het by die ingangshek. “My pa was nog op pad huis toe gewees. Hy het die hek oopgemaak. Voor hy nog gestop het, het hulle seker op sy bakkie gespring - sy ruit was nog bietjie oop - en toe het hulle hom gesteek met ‘n mes in die regterskouer,” het Hendrik Woensdagoggend gesê.

Hendrik sê sy pa het probeer vlug. “Hy het nog probeer wegkom, maar toe het hulle die sleutels van die bakkie uitgeruk en my pa gesleep tot by die voordeur.”

Die polisie is ontbied en dié het Woensdagoggend bevestig dat net Hennie se bakkiesleutels en selfoon vermis word. Die ondersoekspan kon die vorige aand nie veel vermag in die donker nie, en het Woensdag teruggekeer na Hennie se plaas op soek na meer leidrade.

Hennie het alleen in sy huis gebly nadat sy vrou, Nelia, in November 2014 oorlede is aan kanker. Hy en Nelia het in 1982 in Louis Trichardt kom woon ná hulle troue. In 1984 het Hennie as Kommissaris van Binnelandse Sake bedank en op Levubu begin boer met piesangs, avokado’s en neute.  

Hennie word oorleef deur sy twee seuns, Hendrik en Pieter, hulle eggenote en een kleindogter, Anelia (11 maande). Teen druktyd was daar nog nie begrafnisreëlings bekend gemaak nie.

Die aanval en moord op Hennie kom net meer as ‘n jaar nadat sy broer Jan en skoonsuster Elise Bonnema ook wreed op húlle plaas aangeval is. Die egpaar is in Julie verlede jaar deur twee mans in hulle huis met pangas aangeval. Jan was juis besig om terug te stap huis toe en die veiligheidshek te sluit, nadat hy pas vir Hennie afgesien het wat by hulle kom eet het. Jan moes steke kry nadat sy linkerhand en kop oopgekap is met 'n panga. Die egpaar se aanvallers het op die vlug geslaan, nadat hulle vermoedelik geskrik het vir ‘n mansstem wat hard deurgekom het op die televisie, wat nog aan was, en moontlik gedink het daar was nog mense in die huis.

Intussen ag Stefan Otto en sy gesin van die Mara-omgewing hulself gelukkig dat hulle ‘n plaasaanval oorleef het die afgelope naweek. Stefan se plaaswerkers het hom Vrydagaand omstreeks 21:00 geskakel om te kom kyk waarom die waterpomp by die landerye nie wil werk nie. Hy sou eers later uitvind dat dit ‘n klugstorie was van sewe aanvallers wat hom uit die veiligheid van sy huis probeer lok het.

Die groep booswigte het toegang tot die plaas verkry en twee werkers by die lande vasgebind, aangerand en gedwing om vir Stefan te bel. Hierna het die rowers die elektrisiteitstoevoer na die Ottos se huis afgesit, maar vermoedelik op die vlug geslaan toe die alarm geaktiveer is. Intussen kon Stefan se plaaswerkers daarin slaag om te ontsnap en Stefan se pa te bel en te vertel wat gebeur het.

Die plaaswag is onmiddellik ontbied en het al sewe verdagtes aangekeer toe hulle in ‘n motor probeer vlug het. Drie ongelisensieerde vuurwapens, ‘n mes en ‘n byl is in die voertuig gevind en deur die polisie gekonfiskeer.

Die vermeende rowers het Maandag vlugtig in die Mara Landdroshof verskyn en hulle saak is uitgestel tot14 November, waarna hulle na verwagting in die Louis Trichardt Distrikshof sal verskyn.

 

News - Date: 24 October 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: