ADVERTISEMENT:

 

Die Erfenisstigting het verlede week inwoners van Louis Trichardt kom toespreek. Afgeneem tydens die geleentheid is ‘n paar gaste saam met verteenwoordigers van die Erfenisstigting. Voor, van links na regs, staan Pétria de Vaal-Senekal, Riana Mulder (Erfenisstigting) en Zabeth Botha (Erfenisstigting). Agter is Dennis Schnehage, Jaco Voigt, Ian Purdon en voorslagwynmaker Bertus Osbloed van Niekerk vanaf die Kaap.

Inwoners kan self help om erfenis te bewaar

 

Die Erfenisstigting het verlede Woensdagaand bietjie in Louis Trichardt kom draai om met inwoners te praat oor die moontlike stigting van ‘n “satelliet” kantoor vir die bewaring van die streek se kulturele erfenis.

Die Erfenisstigting is reeds vir meer as ‘n dekade ‘n belangrike rolspeler in die  Erfenisbewaringswêreld, veral wat betref die bewaring van die Afrikaner-erfenis. Die organisasie is op die been gebring weens die leemte wat ontstaan het met die gebrek aan regeringshulp ten opsigte van die bewaring van die Afrikaner-erfenis. Die organisasie kry geen befondsing vanaf die regering nie en steun baie swaar op die hulp en ondersteuning van lede-organisasies soos die ATKV, AfriForum, Rapportryers en talle ander vriende. Vandag onderhou hulle talle nasionale kultuurhistoriese geboue en terreine, selfs die Louis Trichardt-gedenktuin in Maputo.  

“Gedurende 2016 is ons by verskeie geleenthede genader om Erfenisbewaringsprojekte saam met ander organisasies aan te pak, en die idee het ontstaan om dit te kombineer in een landwye bewusmakingsprojek,” het me. Riana Mulder van die Erfenisstigting tydens die vergadering gesê. Dit is dan ook die doel waarom daar op Louis Trichardt besoek afgelê is.

Mulder het gesê dat hul doelwit sal wees om ‘n bestuurskomitee vir elke streek aan te wys. Enige iemand met ‘n passie vir die bewaring van ‘n streek se kultuurerfenis kan op die komitee dien. Die komitee sal verder opgedeel word in ‘n tegniese- en fondsinsamelingspan. Wat die tegniese span betref, is dit belangrik dat plaaslike konstruksiemaatskappye, bouers en selfs tuindienste betrokke raak. Persone met finansiële bestuursondervinding sal op hulle beurt goed inpas as dit kom by fondsinsameling. “Die komitee se taak sal wees om dinge wat werklik hier hoort, hier te kry en te behou vir die nageslag,” het Mulder gesê.

Met dié doel voor oë, is dit die Erfenisstigting se visie dat hulle, met die hulp van streekskomitees, ‘n databasis van foto’s, inligting van historiese monumente, huise, strukture ensovoorts in elke streek kan opbou. “Daar kan selfs Video-onderhoude met senior inwoners gehou word wat vertel van die streek se kulturele erfenis,” het Mulder gesê. Wat die identifisering van bedreigde terreine en monumente betref, kan streekskomitees ook ‘n belangrike rol speel in die beplanning en implementering van dringende bewaringsaksies (binne die beperkinge van die wet) en gereelde onderhoudswerk verrig.

Met verwysing na wetgewing beplan die Erfenisstigting ook vanaf vroeg volgende jaar talle gemeenskapswerkwinkels, met Louis Trichardt wat in Februarie 2017 eerste aan die beurt sal kom. Hierdie werkswinkels sal ‘n wye veld van onderwerpe dek, insluitend wetgewing; wat ‘n gemeenskap self kan doen; praktiese wenke vir die identifisering, dokumentering en digitalisering van alle plaaslike historiese terreine; die identifisering van bedreigde terreine wat dringende aksies benodig;  wat die skoonmaak en instandhouding van historiese terreine behels; fondsinsamelingsaksies; volhoubare toekomsplanne; en watter rol die Erfenisstigting kan speel.

Verlede Woensdag se vergadering is goed ondersteun deur inwoners aan huis van Pétria de Vaal-Senekal en dit was duidelik dat daar ‘n opgewondenheid was om ‘n streekskomitee vir Louis Trichardt tot stand te bring. Hierdie komitee beloof om ‘n realiteit vir Louis Trichardt te word, met ‘n stigtingsvergadering wat die werkswinkel in Februarie sal voorafgaan. Mulder het gesê dat spesifieke datums later aan inwoners gekommunikeer sal word. Ná afloop van die vergadering kon gaste lekker saamkuier met voorslagwynmaker Bertus Osbloed van Niekerk vanaf die Kaap wat ‘n paar van sy wyne kom bekendstel het. Bertus het 'n unieke verbintenis met die Soutpansberg, deurdat hy getroud was met Selma Albasini, 'n direkte afstammeling van Joao Albasini. Sy is in April 2014 oorlede.

Vir meer inligting, skakel Pétria by tel. 082 555 1672 of Riana van die Erfenisstigting by 087 150 6582 of stuur ‘n e-pos aan haar by [email protected].

News - Date: 03 December 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: