ADVERTISEMENT:

 

Ses van Hoërskool Louis Trichardt se bergfietsryers is na afloop van die Tour de Lip, die vierde en laaste rondte van die provinsiale hoërskool Spur XCO-bergfietsliga, op individuele puntestand gekies om die Limpopo te gaan verteenwoordig tydens die nasionale Spur XCO-kampioenskappe by Hoërskool Bekker in Oktober. Hulle is, van links na regs, Joleen de Swart, Christelle Coetzer, Dominique Nel, Marno van Zyl, Richard Lambert en (inlas) Turner de Swart. Foto verskaf.

Triegies is top skool in Limpopo Spur XCO-liga

 

Hoërskool Louis Trichardt het Saterdag die titel van top bergfietsry-hoërskool in Limpopo gemaklik teruggeneem by verlede jaar se wenners, Stanford Lake College, ná afloop van die laaste rondte van die provinsiale hoërskole Spur XCO-bergfietsliga.

Triegies het opgetree as gasheer van die Tour de Lip, tradisioneel die vierde en laaste been van dié gewilde nasionale bergfietsliga. Alhoewel laerskole ook aan die liga deelneem, kwalifiseer slegs hoërskoolkinders vir deelname aan die nasionale kampioenskap wat vanaf 7 tot 9 Oktober by Hoërskool Bekker (Magaliesburg) aangebied word.  

Die Triegie-ryers het Saterdag die Tour de Lip vol vertroue aangepak, met ‘n 80-punte voorsprong op die provinsiale punteleer – ‘n voorsprong wat hulle deurlopend gehandhaaf het. Dit was danksy die harde werk wat die span reeds gedoen het by die vorige drie ligabepalings, naamlik die Tour de Gat (Phalaborwa), Tour de Pot (Mokopane) en Tour de Lake (Stanford). Triegies het ook Saterdag gedomineer en is as algehele wenskool in Limpopo gekroon met ‘n totaal van 520 punte, ‘n volle 169 punte voor Stanford Lake (351 punte) in die tweede plek. Uit die 15 hoërskole in Limpopo wat aan vanjaar se Spur-reeks deelgeneem het, was Hoërskool Merensky derde met 216 punte, Hoërskool Piet Potgieter vierde met 186 punte en PHS van Polokwane vyfde met 140 punte.

Saterdag se ligabepaling het aan baie deelnemers ‘n laaste kans gegee om as individue te kwalifiseer vir deelname aan die nasionale kampioenskap by Bekker. Die Tour de Lip is bekend as een van die moeiliker, meer tegniese wedrenne in die reeks, en het die baan vanjaar weer gesorg dat deelnemers moes hard werk vir ‘n plek. Buiten vir die normale kwota van valle, was daar ook een of twee opskuddings.

Een van die grootste opskuddings die dag was in die junior-mansafdeling. Triegies se Marno van Zyl was Saterdag weereens die gunsteling om te wen. In daardie stadium was hy onoorwonne in die reeks en het hy Saterdag ook weggespring in die geel trui as provinsiale voorloper. Kort na die wegspring het Van Zyl egter ‘n pap wiel gekry, nadat ‘n klip sy agterband se sywand gesny het. Aangesien deelnemers nie op die baan tegniese bystand mag ontvang nie, moes Van Zyl toe bykans vier kilometer met sy fiets hardloop tot by die tegniese sone by die wegspring waar die band vervang kon word. Dit het hom waardevolle tyd gekos. Met minder as ‘n sekonde te spaar voordat hy deur wedrenvoorloper Matthew Wilkinson (Stanford) verbygesteek sou word en dit ‘n einde sou maak aan sy wedren, het hy weer weggespring. Van Zyl het verbete teruggeveg, maar hy het doodeenvoudig net te veel tyd verloor. Tog kon hy daarin slaag om al vier sy rondtes te voltooi en algeheel negende te eindig uit 26 ryers.

Met Van Zyl sy podium plek kwyt, het die Stanford-ryers amper skoonskip gemaak in die junior-mansafdeling. Wilkinson wen in ‘n tyd van 01:07:12, met spanmaat Paul Dando in die tweede plek in ‘n tyd van 01:09:14. Douglas Archer van Ridgeway College ry ‘n skitterende wedren en verhoed ‘n Stanford “whitewash” deur algeheel derde te eindig in ‘n tyd van 01:11:20. Nog Triegie-ryers wat Top-10 plekke behaal het was Chris Knoesen (6de) en James Raper (7de). In die junior-vroueafdeling eindig Triegies se enigste deelnemer, Joleen de Swardt, algeheel derde in ‘n tyd van 01:23:09.

In die Youth-mansafdeling tree Triegies se Richard Lambert onoorwonne uit die stryd met nog ‘n skitterende vertoning van hom. Hy voltooi sy drie rondtes in ‘n wentyd van 00:47:59. Benjamin Baber (Tuisskool Waterberg) was tweede in 00:49:40, met Piet Potgieter se Carel Smit in die derde plek in 00:51:10. Ander Triegie-ryers wat Top-10 plekke in die wedren behaal, is Heine de Jager (5de) en Turner de Swardt (6de).

Hoërskool Louis Trichardt spog ook met ‘n podium plek in die Youth-meisiesafdeling met Christelle Coetzer wat algeheel tweede eindig in 01:02:28, ten spyte van ‘n harde val tydens die wedren. Eerste plek het gegaan aan Emma van Coller (Tuisskool Waterberg) in 00:57:19, met Stanford se Lara Dando derde in 01:11:54. Triegies spog met nog twee Top-10 plekke in dié afdeling, naamlik Karla van Zyl (5de) en Mekayle Geyer (8ste).

In die sub-junior mansafdeling sorg Triegies se Rohan Cronjé vir ‘n verrassing deur algeheel tweede te eindig in 00:36:12 oor drie rondtes. Cronjé het die afgelope paar maande baie tyd in die saal spandeer en Saterdag het hy ‘n voorsmakie gegee van wat van hom verwag kan word. Die wedren is gewen deur Piet Potgieter se Arno Smit in 00:35:12, met nog ‘n Triegie-ryer wat baie potensiaal toon, De Wet du Toit, in die derde plek in 00:36:26. Nog drie Triegie-ryers het onder die top 10 in dié afdeling geëindig, naamlik Calvin Lee (6de), Ethan Herman (7de) en Eugene van den Heever (10de). Wat die sub-junior- meisiesafdeling betref, het Triegies se Dominique Nel vir haarself 'n derde plek losgery in 00:55:05, met spanmaat Jennavieve Truter in die vierde plek. Die afdeling is gewen deur Kingfisher Privaatskool se Jani Jordaan in 00:49:10, met Laerskool Louis Trichardt se Simoné Oberholzer in die tweede plek in 00:50:57.

Ná afloop van Saterdag se finale provinsiale rondte kwalifiseer ses van Triegies se ryers om Limpopo te gaan verteenwoordig tydens die nasionale hoërskole Spur XCO-kampioenskappe op 9 Oktober by Bekker. Dit nadat hulle op punte individueel onder die top drie in die provinsie geëindig het. Marno van Zyl sal, danksy eerste plekke by die eerste drie ligas, by Bekker as Limpopo se nommer 1-ryer in die junior mansafdeling wegspring. Die onoorwonne Richard Lambert sal as die provinsie se nommer 1-ryer in die Youth-mansafdeling (0/16) deelneem, terwyl Christelle Coetzer en Dominique Nel as Limpopo se nommer 1 ryers in onderskeidelik die Youth- en sub-junior meisiesafdeling na Bekker gaan. Broer en suster Turner en Joleen de Swardt sal Limpopo as provinsiale nommer drie’s verteenwoordig in onderskeidelik die Youth-mans- (0/16) en junior meisiesafdeling.

Dié ses ryers sal ook hul skool op 8 Oktober by Bekker verteenwoordig in die Top Skole-liga. As wenskool kan Hoërskool Louis Trichardt 12 kinders inskryf vir die Top Skole-afdeling. Die ander ses Triegies wat hul skool die Saterdag gaan verteenwoordig, is Heine de Jager, James Raper, Rohan Cronjé, De Wet du Toit, Karla van Zyl en Jennavieve Truter.

Sport - Date: 25 September 2016

Recent Articles

Search for a story:

 

Saterdag was weereens ‘n bewys dat enige iets in bergfietsry kan gebeur. Triegies se Marno van Zyl was die gunsteling om weer die junior-mansafdeling te wen. In daardie stadium was hy onoorwonne in die reeks en het hy Saterdag ook weggespring in die geel trui as provinsiale voorloper. Kort na die wegspring het Van Zyl egter ‘n pap wiel gekry. Aangesien deelnemers nie op die baan tegniese bystand mag ontvang nie, moes Van Zyl toe bykans vier kilometer met sy fiets hardloop tot by die tegniese sone by die wegspring waar die band vervang kon word. Van Zyl het verbete teruggeveg, maar hy het doodeenvoudig net te veel tyd verloor. Tog het hy daarin geslaag om al vier sy rondtes te voltooi en algeheel negende te eindig uit 26 ryers. Foto verskaf.

Hoërskool Louis Trichardt is Saterdag na afloop van die Tour de Lip, die laaste rondte van die provinsiale hoërskole Spur XCO-bergfietsliga, gekroon as wenskool in Limpopo. In die tweede plek was Stanford Lake College, met Hoërskool Merensky derde. Afgeneem is die trotste Triegie-fietsryspan wat Saterdag hul skool se plek as provinsiale wenners help verseker het. Foto verskaf.  

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: