Raad hoes ná balju kom klop

Article By: Linda van der Westhuizen
Date: 23 July 2010

Article Vote Current Rating
The article has been Rated none stars

Die Musina Munisipaliteit moes die afgelope week noodgedwonge bykans R100 000 in hofkoste opdok, nadat die balju daar opgedaag het om hulle bates op te skryf.

Die balju op Musina het bevestig dat hy op 15 en 16 Julie besoek gebring het aan die munisipaliteit met die opdrag om van hul bates op te skryf en te verwyder. Dit volg nadat die munisipaliteit in gebreke gebly het om die hofkoste ten bedrae van R98 564.92 te betaal in die saak van mnr. Hannes du Toit teen die Musina Munisipaliteit.

Du Toit, ‘n gekwalifiseerde elektrisiën, het die Musina Munisipaliteit hof toe gesleep ná hy ernstig beseer is in ‘n elektriese ongeluk in April 2006, terwyl hy as kontrakteur in diens was van die munisipaliteit. ‘n Elektriese stroom van 11 000 volt het Du Toit van ‘n leer geruk, waarna hy 9.5 meter ver geval het. Hy het ernstige brand- en beenbeserings opgedoen.

Die saak het in die Hooggeregshof van Pretoria gedraai, met Regter Bredenkamp wat op 24 Februarie vanjaar beslis het dat die munisipaliteit 100% nalatig was. Hy het in Du Toit se guns uitspraak gelewer en gelas dat alle hofkoste in die saak deur die munisipaliteit betaal moet word. Die munisipaliteit se versekeraar, Lion of Africa, is per brief van die beslissing in kennis gestel, maar geen betaling is gemaak nie.

Ná die balju se besoek verlede week, is die wiele egter gou aan die rol gesit en die versekeraar het opgedok. Dit het egter nie die beslagleggingsbevel tot niet gemaak nie, net tydelik gestuit.

“Die beslagleggingsbevel bly staan,” het mnr. Leon Maré, Du Toit se prokureur, Maandag gesê. Hy het verduidelik dat ander uitstaande koste van die regsproses, soos die rente op die bedrag van die eerste hofsaak vanaf die datum van uitspraak, nog van die munisipaliteit verhaal moet word.

Intussen het Du Toit nog nie ‘n sent gesien nie. Die mediese behandeling en verskeie operasies die afgelope vier jaar het sy mediese fonds en pensioen totaal uitgeput. Daar wag vir Du Toit nog ‘n neurologiese operasie, omdat die linkerarm en -skouer se senuwees steeds vasdruk. In nog ‘n operasie moet die penne uit sy regterbeen verwyder word.

“Die operasies wag en daar het nog nie ‘n sent te voorskyn gekom nie. ‘n Mens voel soms of jy teen ‘n muur te staan kom. Dit werk maar sielkundig en liggaamlik op ‘n mens. Maar ek wil nie kla nie. Ons sit maar op hete kole en wag dat iets moet gebeur,” het Du Toit gesê.

Die “iets” wat moet gebeur, is die verhoor van die quantum of hoeveelheid van die bedrag wat as vergoeding aan Du Toit betaal moet word. In Maart het Maré die bedrag op R5 miljoen of meer geskat. Dit is ‘n konserwatiewe bedrag as die mediese kostes en verlies aan inkomste in ag geneem word. Maré meen dat daar geskik gaan word.

Toe hulle gevra is vir kommentaar oor die aangeleentheid, het die munisipaliteit by monde van sy woordvoerder, mnr. Wilson Dzebu, gesê dat hulle onbewus is van enige besoek wat die balju aan die munisipaliteit sou gebring het.


(17-11-06)
Matriekseun in mesgeveg doodgesteek

‘n Agtienjarige matriekleerling van Hoërskool Eric Louw op Musina, Stephan van der Merwe, is Saterdagoggend omstreeks 03:00 dood aan veelvuldige steekwonde, na ‘n mesaanval by die Impala Lily Motel op dié grensdorp.
Comments: 0
Rating: none    The article has been Rated none stars

(09-04-10)
Stormwind swiep deur grensdorp

Bykans 32 huise en ondernemings is beskadig of dakloos gelaat nadat ‘n hewige haelstorm en gepaardgaande sterk wind Musina vroegaand op Maandag, 5 April, getref het. Verslag is ontvang van haelkorrels so groot soos duifeiers.
Comments: 0
Rating: none    The article has been Rated none stars

(17-12-04)
Staat vat Sutherland en Ras se bates

Die Staat het Maandag beslag gelê op die bates van bekende plaaslike sakeman, Ronnie Sutherland (59), en lugmagkorporaal, Dawid Ras (33).
Comments: 0
Rating: none    The article has been Rated none stars

(15-01-10)
Vervalste R100-note wek kommer onder Musina sakelui

Groot kommer het die afgelope Kersvakansie onder sakelui van Musina geheers, nadat dit aan die lig gekom het dat vervalste R100-note in die omgewing die rondte begin doen het.
Comments: 0
Rating: none    The article has been Rated none stars

(22-07-05)
Stank veroorsaak onmin tussen bure

Die stank van verrottende dierkarkasse het die afgelope naweek groot ongerief veroorsaak vir ‘n inwoner in die omgewing van Blouberg Dierekliniek.
Comments: 0
Rating: none    The article has been Rated none stars

 

 

No additional Photos attatched to this article

 

 

 

 


No additional Files attatched to this article

 

 

 

 
Opinion Poll

Businesses in Louis Trichardt CBD are upset over loss of revenue during the recent Air Force parade in town. Do you think they are overreacting?