ADVERTISEMENT:

 

Hier is ons wenners vir 2015!

- Date: 05 December 2014

Written by: Andries van Zyl / Viewed: 8778

Search for a story:

Die Zoutpansberger en Limpopo Mirror se jaarlikse kalenderfoto-kompetisie het vanjaar weereens ‘n paar praginskrywings opgelewer.

Net meer as 40 van die streek se fotograwe het ingeskryf, vir ‘n totaal van by die 200 foto’s. Vanjaar was dit weereens moeilik vir die beoordelaars om slegs 12 weninskrywings te kies. Diegene wat nie gewen het nie, moet glad nie teleurgesteld wees nie, want enige van die oorblywende agt foto’s wat deel was van die top 20 keuses vir finale beoordeling kon net sowel gewen het.

Die oorgrote meerderheid van vanjaar se inskrywings was weereens natuur- en dierelewefoto’s. Daar was talle wat dadelik uitgestaan het, maar daar was ook dié foto’s wat met ‘n bietjie meer “afronding” soveel beter kon gelyk het. In dié verband gee die beoordelaars ‘n paar wenke vir volgende jaar se kompetisie:

* Die beste tyd om natuur– en dierelewefoto’s te neem is vroegoggend en laatmiddag wanneer die opkomende of ondergaande son die kleure in die foto soveel ryker maak;

* Belê gerus in ‘n paar goeie filters vir jou kamera. ‘n Polariserende filter help baie om die kleure in die foto uit te bring en soveel helderder te maak;

* As diere of landskaptonele gefotografeer word, vermy mensgemaakte voorwerpe soos paaie of telefoonpale en –drade in die foto;

* Let op die komposisie van die foto (met die klem op die twee-derdes reël). Skuif die voorwerp in die foto twee-derdes links of regs in die foto. Voorwerpe wat bloot in die middel van die foto geplaas word, maak meestal nie ‘n goeie foto nie; en

* Belê in ‘n goeie lens, veral as daar van ‘n telefotolens gebruik gemaak word. Die optiese kwaliteit van die lens maak dikwels die verskil tussen ‘n baie goeie of swak foto.

Soos gewoonlik was daar weer ‘n paar fotograwe wat meer as een weninskrywing opgelewer het, alhoewel niemand tydens die beoordelingsproses geweet het wie die fotograwe was nie. Daar was nuwe wenners, maar ook fotograwe wat al vorige jare weninskrywings opgelewer het. Daar sal binne die volgende week telefonies met elk van die wenners geskakel word om te reël vir die betaling van die foto’s – R700 vir elk van die 12 wenfoto’s.

Die fotograaf wat die beste gevaar het, was Christo Tait met drie wenfoto’s. Hy sal prysgeld van R2 100 huis toe neem. Martie de Jager en Jaco Lyon lewer elk twee weninskrywings en palm elkeen R1 400 vir hulle moeite in. Die res van die wenfotograwe wat elk R700 in hul sak sal druk is Ashleigh Cloete, Ronel van der Schyff, Sandra Boshoff, Peet Snyder en Eben van de Vyver.

Die 12 wenfoto’s word opgeneem in ‘n A2-formaat, volkleur 2015-kalender. Alhoewel die kalender deur die Zoutpansberger en Limpopo Mirror gebruik sal word vir bemarkingsdoeleindes, sal die kalenders ook aan die publiek beskikbaar gestel word om te koop teen ‘n minimale bedrag van R50. Die kalenders is tans by die drukkery om klaargemaak te word.

Vir meer inligting, skakel Andries van Zyl by tel. 015 516 4997 tydens kantoorure. Meegaande is die wenfoto’s.

 

ADVERTISEMENT