ADVERTISEMENT:

 

Raad vra om verskoning vir swak ouditverslag

 

Die Makhado Munisipaliteit het verlede week verskoning aangebied en verklarings probeer gee aan die Munisipale Openbare Rekeninge Komitee (MORK) vir die slegte ouditverslag vir die tydperk 2015/16.

Die MORK het verlede Donderdag by die munisipaliteit vergader om die ouditverslag te bespreek. Een van die komitee se grootste bekommernisse was dat die ouditeur-generaal (OG) se verslag weereens verskeie onreëlmatighede uitgewys het. Die komitee se voorsitter, rdl. T.M. Malange, het dit as onaanvaarbaar beskryf.

Die funksie van die MORK is om ‘n wakende ogie te hou oor die munisipale raad se uitvoerende amptenare om te verseker dat belastinggeld en munisipale hulpbronne so doeltreffend moontlik gebruik word.

Malange se komitee was veral ontsteld oor die feit dat die Makhado Munisipaliteit vir die soveelste opeenvolgende jaar deur die OG aangespreek is oor dokumente wat laat ingedien word en oor rekenkundige personeel wat nie behoorlik gekwalifiseer is nie. Volgens die komitee was dit veral kommerwekkend dat die munisipaliteit nie die balansstate kon toon vir debiteure waar ruiltransaksies ter sprake was nie asook verklarings vir ongemagtigde uitgawes nie.

Die rede hiervoor, volgens die Makhado Munisipaliteit, is omdat die rekenkundige sagteware (MunSoft) wat hulle gebruik het tot dusver “foutief en onvoldoende” was. Volgens die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Johannes Kanwendo, kon die MunSoft-sagteware nie die verslae en ander dokumente verskaf in die spesifieke formaat soos wat die OG dit vereis nie. Kanwendo het egter die komitee die versekering gegee dat daar dringend hieraan aandag gegee word. Die munisipaliteit se IT-afdeling is, volgens Kanwendo, tans besig om die MunSoft-program te herprogrammeer, sodat dit dokumente in die regte formaat sal kan gee in die toekoms. Die program word ook nou so aangepas dat dit sal inskakel met die res van die rekenaarprogramme wat gebruik word, sodat joernale en state betyds gegenereer kan word vir die OG.

Daar was ook ‘n vermorsing van geld in die elektrisiteitsafdeling van die munisipaliteit waaroor die MORK navraag gedoen het. Volgens die MORK is daar in die tydperk vir die 2015/16 finansiële jaar nagenoeg R32 miljoen afgeskryf in elektrisiteitsverlies. Dit het neergekom op ‘n 19% verlies, wat volgens die MORK baie meer is as die maksimum aanvaarbare verlies van 10%.

Hierop het Kanwendo aangedui dat die munisipaliteit besig is met ‘n tenderproses sodat ‘n aanstelling gemaak kan word om ‘n dringende elektrisiteitsoudit te doen. Dié proses kan tot so lank as agt maande duur, maar intussen het die munisipaliteit self die verlies verminder na 17%, het Kanwendo gesê.

Tydens die vergadering het dit ook aan die lig gekom dat die Makhado Munisipaliteit gebuk gaan onder ‘n erge personeeltekort. Kanwendo het egter aan die MORK die versekering gegee dat dié en ander tekortkominge dringende aandag geniet van die munisipaliteit se aksieplan-komitee wat op die been gebring is kort nadat die OG se verslag vir 2015/16 bekendgemaak is.

“Ons wil alles in orde kry sodat ons nie weer ‘n keer ‘n slegte OG-verslag kry nie,” het Kanwendo gesê. Hy het die MORK die versekering gegee dat die bekommernisse en vrae wat hulle uitgelig het so vinnig as moontlik aangespreek sal word.

News - Date: 23 March 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: