ADVERTISEMENT:
Wyle oom Isak Roos (72).
Inwoners het met groot hartseer verneem van die skielike dood van oom Isak Roos (72) van Ons Tuiste Ouetehuis in Louis Trichardt.
Oom Isak het Vrydag, 17 Maart, nog saam met sy eggenote, tannie Erika, gaan ontbyt eet in die eetsaal by Ons Tuiste. Hy was sy kenmerkende self gewees – ‘n glimlag op die gesig en ‘n grappie om te vertel.
Die plan was dat oom Isak en tannie Erika ná ontbyt saam met hul dogter, Annelle, Pretoria toe sou ry om bietjie by die egpaar se seun, Hannes, te gaan kuier. “Sy laaste woorde aan oom Ben Harris by die eetsaal was: 'Ben, as ek nou terugkom, gaan ek vir jou baie musiek gee',” sê tannie Erika. Oom Isak het ‘n ongelooflike liefde vir klassieke musiek gehad en het graag sy musiek met ander gedeel.
Oom Isak het egter bietjie ongesteld gevoel en het besluit om eerder die uitstappie na Pretoria te kanselleer en bietjie op sy bed te gaan lê. ‘n Rukkie later het tannie Erika agtergekom daar is groot fout met oom Isak en hulp is ontbied. Hy is per ambulans deurgejaag na die Zoutpansberg Privaathospitaal, maar is kort daarna dood verklaar. Hy het vermoedelik ‘n massiewe hartaanval gehad.
Annelle sê dat haar pa se gesondheid die afgelope tyd nie te goed was nie. “Hy moes iets vermoed het. Ons probeer al lank dat hy moet ophou bestuur. Woensdag het hy sy kar se sleutels vir my ma gegee en gesê: Hier is vir jou ‘n kar. Ek het klaar gery,” sê Annelle.
Oom Isak en tannie Erika het sowat nege jaar gelede vanaf Pretoria na Louis Trichardt verhuis, nadat hy aanvanklik net vir dogter Annelle hier kom help het met bouwerk. Hy is oorspronklik vanaf Vereeniging, waar hy ook gebore is. Sy hele lewe was oom Isak in die boubedryf. “Terwyl hy hier was, het hy verlief geraak op Louis Trichardt. Hier was baie minder verkeer en hy was mal daaroor om Sondae die kerkklokke in die dorp te hoor. Toe hy terug kom huis toe, sê hy vir my: Vrou, ons trek. Tot vandag toe het ek nog nie gesê dit is reg nie,” vertel tannie Erika met ‘n glimlag. Sy en oom Isak bly so amper ‘n jaar in een van die woonstelle by Ons Tuiste.
‘n Roudiens vir wyle oom Isak vind eerskomende Saterdag, 25 Maart, om 11:00 vanuit die NG Kerk Soutpansberg-gemeente plaas. Die diens sal waargeneem word deur ds. Etienne van Staden. Hy word oorleef deur sy eggenote van 46 jaar, tannie Erika, kinders Sulette, Annelle en Hannes, sewe kleinkinders, suster Maryna en broers Koos en Johan.
News - Date: 24 March 2017
Search for a story:
ADVERTISEMENT
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.
Email: [email protected]
ADVERTISEMENT: