ADVERTISEMENT:

 

Die Munisipale Swembad soos hy in 2014 gelyk het terwyl daar nog besig was om met restourasie werk.

Drie jaar later en swembad is nog steeds stukkend

 

Dit is nou al meer as drie jaar later, en steeds is daar geen einde in sig wat betref die munisipale swembad in Louis Trichardt nie. Die herstelwerk aan die (stukkende) swembad beloop ook na skatting meer as R700 000.

Tydens ‘n oorsigvergadering van die Munisipale Openbare Rekeninge Komitee (MORK) van die Makhado Munisipaliteit, is dié klaarblyklike vermorsing van geld bespreek. Die MORK het verlede Donderdag hul jaarlikse vergadering gehad waartydens die ouditeur-generaal (OG) se verslag vir die boekjaar 2015/16 bespreek is.

Een van die probleme wat deur die OG uitgelig is, is die afwykings vanaf die munisipaliteit se amptelike verskaffersbeleid. Dié onreëlmatighede het gelei tot onregmatige spandering van R153 miljoen. Volgens die MORK was die munisipale swembad maar net een van vele munisipale projekte wat ‘n vermorsing van geld was. Die komitee het die interim munisipale bestuurder, mnr. Johannes Kanwendo, gepols oor die feit dat die tendertoekenningskomitee nie saamgestel is volgens wet nie.

Volgens Kanwendo was daar ongerymdhede wat opgemerk is in die toekenning van sekere tenders. Die swembad se herstelprojek het egter voortgegaan, sodat daar nie ‘n oponthoud was in die lewering van dienste nie.  Hy was egter van mening dat die munisipaliteit waarde vir hul geld ontvang het vir die herstelwerk wat aan die swembad gedoen is.  

Volgens Kanwendo was daar geen vertraging nie. Die werk is voltooi en die swembad het vir agt maande lank gefunksioneer. As “bewyse” hiervoor het hy verwys na kwitansies wat uitgereik is aan mense wat betaal het om die swembad te gebruik. Dit het later geblyk dat die swembad se vloer weer begin lek het en, het Kanwendo verduidelik, is daar besluit om die hele swembad oor te doen.

Die kontrakteur, Harold Moswobi Construction and Property Developers, is teruggeroep om verdere herstelwerk te doen. Kanwendo het die MORK die versekering gegee dat die herstelwerk geen ekstra kostes tot gevolg sal hê vir die munisipaliteit nie. Die MORK het egter nagelaat om Kanwendo te vra hoekom die waarde van die projek, wat in 2014 aangekondig was as R500 000, nou drie jaar later volgens Kanwendo ongeveer R700 000 beloop.

Met die aankondiging van die swembadprojek destyds het die munisipaliteit aan die Zoutpansberger bevestig dat die diensverskaffer sowat R173 000 ontvang het. Die waarde van die werk wat toe reeds aan die swembad gedoen is, het R168 560 beloop en daar was ‘n retensiefooi van R16 000.

Die MORK het verlede week aan die munisipaliteit ‘n ultimatum gestel en gesê die swembad moet reg wees voor Junie 2017. Hulle het ook gevra dat die munisipaliteit nooit weer gebruik van dié kontrakteur se dienste nie.

News - Date: 25 March 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: