ADVERTISEMENT:

 

Polisiebeamptes begelei een van die vier verdagtes wat ná Maandag se wilde skietgeveg gearresteer is, na ‘n polisie vangwa.

Vier vasgetrek ná wilde skietgeveg in woonbuurt

 

Die polisie in Louis Trichardt het Maandag op dramatiese wyse toegeslaan op ‘n huis waar ‘n groep gewapende mans blykbaar geskuil het.

Die huis in Douthwaitstraat, skaars ‘n straatblok vanaf Laerskool Louis Trichardt, is omsingel, ná ‘n wenk van ‘n lid van die publiek dat vier mans daar skuil en in besit is van vuurwapens.

Kort nadat ‘n groot groep swaargewapende polisiebeamptes op die huis toegesak het, het die verdagtes op die vlug geslaan. Dit het aanleiding gegee tot ‘n hewige skietgeveg tussen die polisie en die verdagtes. “Ek bly in Rissikstraat en die voorval het reg agter my tuinwoonstel plaasgevind. Die polisie het in my erf ook skote afgeskiet,” het inwoner me. Antoinette van Wyngaard vertel. Sy sê sy het altesaam 18 skote getel. “Ek is net baie bly niemand is beseer in my erf nie. Dit was vir my skrikwekkend om te verneem wat agter ons erf aan die gang is. Aan die polisie wil ek net sê: 'Job well done!'” het Van Wyngaard gesê.

Dié wilde skietery in die normaalweg stil woonbuurt het ‘n groot skare belangstellendes uit hul huise gelok. Baie het eers gedink dit was klappers wat afgegaan het en was geskok om te hoor dat dit wel geweerskote was. Van hulle het op die toneel opgemerk dat die leë huis waar die verdagtes blykbaar “gewoon” het (Douthwaitstraat 64) summier gesloop moet word. “Dit is niks meer as ‘n bouval en 'n nes vir allerhande onheiligheid nie,” het een inwoner opgemerk.

Die plaaslike polisie kon daarin slaag om vier verdagtes aan te keer. Kort daarna het die polisie twee swartkruit rewolwers, asook ‘n groot hoeveelheid onwettige ammunisie, insluitend 9mm- en .22-rondtes, in die leë huis gevind. Daar is ook ‘n hoeveelheid vermoedelik gesteelde goedere, asook toerusting wat vir inbrake gebruik word, in die huis gevind.

Kol. Bez Bezuidenhout, wat by die operasie betrokke was, het op die toneel opgemerk dat onbewoonde huise in Louis Trichardt vir hulle ‘n probleem is, veral as dit oorgeneem word deur kriminele. Hy het inwoners uitgenooi om hom te skakel indien hulle weet van onbewoonde huise of persele waar kriminele elemente skuil. Hy kan geskakel word by tel. 082 414 8474.

Teen druktyd was dit nie seker of die verdagtes al in die hof verskyn het en op watter klagtes hulle sou verskyn nie.     

News - Date: 25 March 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Swaargewapende polisiebeamptes en lede van die Soutpansberg Dorpswag vergader voor die huis in Douthwaitstraat, nadat vier verdagtes wat daar geskuil het, Maandag aangekeer is.

Omstanders het op die toneel opgemerk dat die leë huis te Douthwaitstraat 64 summier gesloop moet word. “Dit is niks meer as ‘n bouval en 'n nes vir allerhande onheiligheid nie,” het een inwoner opgemerk.

‘n Lid van die polisie se forensiese afdeling, besig om te kyk na die groot hoeveelheid onwettige ammunisie wat in die bouvallige huis gekry is. Foto: SAPD.

Die twee swartkruit rewolwers wat ook in die huis gevind is, nadat die polisie vier verdagtes aangekeer het. Foto: SAPD.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: