ADVERTISEMENT:

 

Sommige van die 212 voertuie wat op 17 Februarie deur provinsiale polisie-kommissaris lt-genl. Nneke Ledwaba beskikbaar gestel is aan van die kleiner polisiestasies in die provinsie.

Vrae oor voertuie nie vir media bedoel

 

Dit wil voorkom dat die plaaslike polisie se stryd teen misdaad gekniehalter word deur ‘n tekort aan voertuie.

Dié aantygings is afkomstig vanuit die polisie se eie stalle en is gemaak kort nadat provinsiale polisiekommissaris lt-genl. Nneke Ledwaba op 17 Februarie 212 nuwe polisievoertuie beskikbaar gestel het aan die kleiner polisiestasies in die provinsie. Van die 212 voertuie is vier aan Musina, agt aan Makhado, 31 aan Thohoyandou en 12 aan Giyani se polisiestasies toegewys.

Kort nadat daar hieroor berig is in die Zoutpansberger se susterskoerant, die Limpopo Mirror,  is daar betroubaar verneem dat die Makhado polisiestasie feitlik geen voertuie meer tot hul beskikking het nie. Die agt nuwe voertuie was glo nêrens te sien by die stasie nie. Die voorsitter van die Makhado Sektor Polisiëringsforum (SPF), mnr. Dirk Meissenheimer, het egter by navraag gesê dat die bestuur van die Makhado polisiestasie nog nooit aan die SPF te kenne gegee het dat daar ‘n tekort aan voertuie is nie.

Hierdie bewerings is opgevolg in Musina deur ‘n bron wat noue bande het met die stasie. Die bron het aan die koerant gesê het dat daar in 2008 laas nuwe Nissan Tiida’s aan die stasie gegee is.

Nog ‘n polisiestasie wat glo sukkel met ‘n voertuigtekort is die Waterval Polisiestasie in die Elim-area. Volgens inligting beskikbaar aan die koerant moet hierdie stasie se speurders beurte maak met die twee voertuie wat tot hulle beskikking is om hul pligte uit te voer. Van hulle moes al in die verlede van hul privaatvoertuie gebruik maak om sake te ondersoek.

Die polisie se provinsiale kommunikasiekantoor is op 3 Maart genader vir kommentaar oor beweringe dat polisiestasies feitlik geen voertuie meer het nie en dat hulle nog nie hul nuwe voertuie ontvang het nie.

Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Moatahe Ngoepe het verlede Vrydag op die medianavraag reageer.

Ngoepe het gesê dat die verskillende polisiestasies nie oor dieselfde kam geskeer kan word nie. Hy het gesê dat elke polisiestasie op sy eie meriete beoordeel word en dat die uitreik van voertuie ‘n interne bestuursfunksie is waaroor daar nie in die media kommentaar gelewer word nie. Volgens Ngoepe kan die polisie belemmer word in hul werk as kriminele oor hul interne sake in die koerant lees. Hy kon derhalwe nie bevestig of die drie betrokke stasies (Makhado, Musina en Waterval) genoeg voertuie tot hul beskikking het nie, selfs nadat die koerant hom meegedeel het dat die Makhado polisie nie verlede week die slagoffers van ‘n ongeluk kon help nie weens ‘n tekort aan voertuie.

Christa Kock van Die Vleismark  het verlede Donderdag ‘n ongeluk by die Makhado polisiestasie gerapporteer. Haar besigheidsvoertuig is afgeskryf, nadat dit gestamp is deur ‘n man wat versuim het om te stop by die Rissik- en Krugerstraat kruising. Die bestuurder het van die toneel probeer vlug, maar is voorgekeer deur personeel by die Hyundai-agenstakp. Dit sou later aan die lig kom dat die man ook nie ‘n bestuurderslisensie by hom gehad het nie, en dat die bakkie wat hy bestuur het nie aan hom behoort het nie.

Nadat Christa amper twee ure tevergeefs gewag het op die Makhado polisie om iemand uit te stuur na die ongelukstoneel, is sy meegedeel dat die polisie nie in daardie stadium ‘n voertuig tot hul beskikking gehad het nie. Christa is ook meegedeel dat die Makhado polisiestasie klagtes moet prioritiseer “omdat hulle net genoeg voertuie het om klagtes van moord, roof en ongelukke waar iemand dood is” te kan bywoon. Daar is glo net nie genoeg voertuie vir die minder ernstige klagte nie.

Ngoepe kon nie hierop kommentaar lewer nie, maar het wel gesê dat as lede van die publiek voel hulle is onregverdig behandel deur die polisie, dat hulle dit eerder met die plaaslike stasiebevelvoerder moet opneem as die media. Dieselfde, het Ngoepe verder gesê, geld vir polisielede wat beweer daar is ‘n tekort aan voertuie. “Enige polisielid wat beweer dat daar ‘n tekort aan voertuie is, is besig om te lieg. As dit die geval was, sou ons van hierdie lede verwag het om met hul bevelvoerders te kommunikeer in stede daarvan om deur ander kanale te kla,” het Ngoepe gesê.

 

News - Date: 26 March 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: