ADVERTISEMENT:

 

Smeltkroes of koolstofdioksied houertjie? Lesers se menings oor wat presies hierdie yster "sinkertjie" is, het verskil van mekaar. Foto verskaf.

Lesers krap steeds kop oor vreemde kegeltjies

 

Die eienaardige artefakte wat onlangs in die Soutpansberg ontdek is, het nou ook lesers aan die raai.

Daar is in verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger berig oor dié eienaardige artefakte wat deur ’n besoeker aan die area, mnr. Willem Pelser, ontdek is. Hy het twee van die metaal-kegeltjies in die Wylliespoort-area ontdek.

Met die eerste oogopslag lyk die ontdekkings amper soos sinkertjies wat vir visvang gebruik word. Hulle is amper vier-en-‘n-half sentimeter lank en ongeveer twee sentimeter breed. Die artefakte het, net soos ‘n bottel, ‘n boepens en word dan al nouer aan die bokant (of onderkant). Hulle is ook heeltemal hol aan die binnekant en vermoedelik van yster gemaak.

Party lesers was eers ietwat deurmekaar en het gedink die koerant vra hulp om die vuurhoutjieboksie te identifiseer wat saam met die sinkertjies afgeneem is. Nadat die misverstand uitgeklaar is, was daar wel mense wat dit gewaag het om ‘n raaiskoot te waag. Die teorieë van wat die sinkertjies is, het verskil.

Ina Versfeld wou weet of dit nie dalk botteltjies is waarin die gifplant se sap gebêre is om later aan pylpunte te smeer om prooi mee te jag nie. “Die plaaslike bewoners van jare gelede het diere gejag met pyl en boog, waarvan die punte van die pyle in hierdie plantsap gedruk was. Dit het diere lam gemaak, sodat hulle maklik geslag kon word vir ete,” het Ina per e-pos laat weet. 

Nog ’n leser, mnr. Frik Breytenbach, meen dat dit klein bakkies is wat dekades gelede deur die plaaslike bevolking gebruik is om peperkorrels mee te maal. Sy oupa, Freek Kotzee, het jare gelede vir die spoorweg gewerk en baie van dié “sinkertjies” opgetel en rondgevra daaroor.

Die koerant het self ook kers gaan opsteek by plaaslike argeoloog mnr. Stephan Gaigher, en foto’s van die sinkertjies vir hom aangestuur. Hy is van mening dat die sinkertjies uit ’n fabriek kom, omdat hulle simmetries dieselfde lyk. Hy vermoed dat dit dalk Seltzer Water Chargers (waterlaaiers) kan wees. Dit is klein koolstofdioksied houertjies wat vandag nog vervaardig word om sodawater mee te maak. Stephan sê dat die eerste botteltjie reeds so vroeg as 1880 in gebruik was en selfs vroeër as ’n Franse-weergawe.

‘n Vriend van Stephan en mede-argeoloog, mnr. Sidney Miller, meen weer as die “sinkertjies” werklik hol is aan die binnekant, dit moontlik smeltkroese kan wees. Smeltkroese is jare gelede gebruik om klein hoeveelhede lood in te smelt vir die giet van koeëls. “... waarskynlik van die Venda of Shangaan jagters wat nie laaigoed gehad het [en] groot hoeveelhede lood soos die boere nie,” het Sidney laat weet.

Tot dusver kon daar nog nie ’n konneksie gekry word tussen die “sinkertjies” en die kopersmelters van Musina nie. Net soos Stephan, het die koerant ook nog ander kenners gaan soek om te help met die identifikasie van die “sinkertjies”. Teen druktyd het nog nie almal geantwoord nie.

Lesers wat kan help met die identifikasie van die “sinkertjies” kan met die koerant skakel by Tel 015 516 4996, of met Isabel by 073 349 1587.

News - Date: 23 April 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: