ADVERTISEMENT:

 

Mike die kat veg steeds om lewe ná skoot deur sy kop

 

Mike die kat het verlede week diep in die harte gekruip van Louis Trichardt se inwoners.

Hy was verlede week in ‘n kritieke toestand, nadat hy in die kop geskiet is. Mike (of Mishmish soos hy ook bekendstaan) was ‘n straatkat, totdat hy deur die TNR (Trap Neuter Release) projek gered is en daarna deur die Blouberg Dierekliniek in Louis Trichardt aangeneem is.

Soos wat Mike se storie versprei het, so het die woorde van bemoediging ingestroom vir hom en die mense wat hom versorg.

Daar was ook inwoners wat in afgryse was en hulle sterk uitgespreek het oor die voorval. “Dit is so wreed en hartseer! Hoop die sondebok word gou gevang. Meer as net ‘n appeltjie met hom te skil,” het Eldene Anderson geskryf op die koerant se Facebook­-blad. Celesté Badenhorst het gemeen die verantwoordelike persoon is siek in die kop.

Mike is Woensdag naby die Borrels Kleuterskool, ‘n entjie op van Blouberg in Munnikstraat, opgetel deur Sarah Coronaios. Sy het nie geweet Mike behoort aan die kliniek nie, en het aanvanklik gedink hy is deur ‘n kar raakgery. Dit is eers nadat daar X-strale geneem is van Mike se wond dat daar kon bepaal word dat hy in die kop geskiet is. Die koeël is net onder sy oortjies deur en het sy brein rakelings gemis.

Nadat die storie van Mike op sosiale media gebreek is, het meer as een inwoner wat in die omgewing van Munnikstraat woon soortgelyke nagmerrie-ervarings met hul troeteldiere met die koerant gedeel.

Die Zoutpansberger het die “bloedspoor” gevolg en met slagoffers gaan praat wie se troeteldiere onder die “Sadis van Munnikstraat” deurgeloop het. ‘n Voormalige inwoner van Stubbsstraat, mnr. Richard Pretorius, se bokhondjie Beertjie is in Januarie in die gesig geskiet. Nog ‘n gesin, wat nie in die koerant geïdentifiseer wil word nie, het al 10 katte in die laaste twee jaar verloor. Van die katte is vergiftig (nadoodse ondersoeke is gedoen) en ander het net verdwyn.  

Wie presies die “sadis” is wat troeteldiere in die area teiken, bly egter ‘n  raaisel. Elke troeteldiereienaar het ‘n leidraad gehad. Die koerant het verneem dat een so ‘n verdagte geïdentifiseer en gekonfronteer is, maar dat die persoon alle skuld ontken het.

Volgens die Makhado polisie is sulke gevalle, waar daar iemand verdink word, moeilik om te ondersoek. 'n Persoon kan nie net sommer willens en wetens ondersoek word sonder dat daar enige bewyse is nie. Die polisie se raad aan die eienaars was om die voorval aan te meld, sodat daar ‘n rekord is. Hierdie klagtes kan saamgevoeg word as die skuldige wel in die toekoms voor stok gekry word.  

Buiten dat die skuldige persoon aangekla kan word van dieremishandeling, kan hy/sy ook vervolg word omdat hy/sy ‘n wapen in ‘n dorpsgebied afgevuur het. In terme van die wapenwet is dit net so onwettig om ‘n windbuks as ‘n ligte jaggeweer in ‘n publieke of woonarea af te vuur. In so 'n geval kan die persoon ‘n kriminele rekord hê of sy wapenlisensie kan teruggetrek word.

Mike se toestand het in die week 'n klein bietjie verbeter. Teen Dinsdag het hy klein hoeveelhede sagte kos begin eet. Hy het boodskappe van bemoedigend van oraloor, selfs oorsee, gekry. 

"Dit is vir my duidelik dat die persoon wat Mike geskiet het nie respek het vir mens of dier nie. 'n Lewe is 'n lewe en mens kan dit nie net neem nie. As die diere jou pla, is daar soveel ander opsies beskikbaar, maar skiet is nie een van hulle nie," het Mike se mensema, Marinda van der Walt, gesê.

 

News - Date: 14 May 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Mike (of Mishmish soos hy ook bekendstaan) ontvang nog steeds behandeling.

Beertjie, die bokkiehond wat in Januarie in die gesig geskiet is. Hy het gelukkig oorleef. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: