ADVERTISEMENT:

 

Phillip Olivier wat verlede Vrydag gearresteer is op klagte dat hy honderde duisende rande van die SBBV, waar hy as bestuurder opgetree het, gesteel het.

Vrae oor vermiste belastinggeld

 

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV), ‘n burgerregte organisasie wat plaaslik op die been gebring is om inwoners teen munisipale wanbestuur te beskerm, moet nou self verduidelik hoe daar moontlik honderde duisende rande uit hul eie rekening verdwyn het.

Dit volg nadat die SBBV se voormalige bestuurder, Phillip Olivier, verlede Vrydag gearresteer is op klagte dat hy honderde duisende rande van die SBBV, en derhalwe die belastingbetalers, gesteel het.

Die Zoutpansberger het betroubaar verneem dat Olivier se verhouding met die SBBV sedert die begin van die jaar vertroebel het. Talle SBBV-lede het begin kla dat, ten spyte daarvan dat hulle maandeliks geld aan die SBBV oorbetaal vir die vereffening van hulle munisipale rekenings, hul elektrisiteit weens nie-betaling afgesny word. Dit het die SBBV genoop om inderhaas ‘n forensiese oudit te doen, wat daartoe gelei het dat die SBBV blykbaar in Maart ‘n kriminele klag teen Olivier by die Makhado polisie ingedien het.

Die ondersoek het glo daarop gewys dat Olivier, die enigste persoon met toegang tot die SBBV se bankrekening, na bewering geld uit die rekening onttrek het en na sy eie privaatrekening en sy vrou se besigheidsrekening oorbetaal het. Die totale bedrag van die beweerde onregmatige onttrekkings beloop glo ‘n rapsie meer as R500 000.

Die Zoutpansberger het ook verneem dat Olivier glo ‘n verdere bedrag van R200 000 in sy prokureur se rekening inbetaal het, maar hierdie geld is as't ware “gevries” nadat die SBBV twee weke gelede ‘n dringende hofinterdik bekom het wat toegang tot die geld verbied totdat die ouditeurs en die polisie hul ondersoek afgehandel het.

Die SBBV is in Maart 2007 op die been gebring. Die organisasie se hoofdoel was om druk uit te oefen op die Makhado Munisipaliteit om beter dienste te lewer aan die gemeenskap. Die organisasie het veral opgang gemaak wat betref die dispuut wat hulle met die Makhado Munisipaliteit verklaar het. Dit het behels dat belastingbetalers maandeliks hul heffings aan die munisipaliteit weerhou het deur hul heffings by ‘n plaaslike prokureursfirma in trust in te betaal. In daardie stadium het die prokureursfirma die trustrekening administreer.

In 2013 is ‘n gedeelte van die gelde (R973 000) terugbetaal aan die Vhembe Distriksmunisipaliteit, nadat hulle die verskaffing van water as diens by die Makhado Munisipaliteit oorgeneem het. Die SBBV het egter voortgegaan om die basiese elektrisiteitsheffing en –verbruik elke maand aan die Makhado Munisipaliteit oor te betaal, terwyl die eiendomsbelasting teruggehou is. In 2013 het dié bedrag amper R6 miljoen beloop.

Kort hierna het die SBBV egter begin om dié fondse, wat in trust gehou is, aan die Makhado Munisipaliteit terug te betaal. Hierdie besluit is geneem tydens ‘n algemene jaarvergadering van die SBBV op 29 Julie 2013, na aanleiding van die hofuitspraak in die Rademan vs Moqhaka-saak. In gevolge dié uitspraak is ‘n munisipaliteit geregtig om betalings vir verskillende items op ‘n munisipale rekening te konsolideer en kan die verbruiker nie spesifiseer dat sy/haar betaling vir slegs ‘n bepaalde item, soos byvoorbeeld elektrisiteit, mag gaan nie.

Twee jaar later, in 2015, het die SBBV aangekondig dat hulle voortaan hul eie fonds gaan administreer en dat lede nie meer hul gelde in die prokureursfirma se trustrekening hoef in te betaal nie. SBBV-lede kon vrywillig die bedrag op hul maandelikse munisipale rekening by die SBBV gaan inbetaal teen ‘n 3% administrasiefooi, waarna die SBBV die rekening sou behartig en enige verwante probleme wat mag opduik namens die lid sou uitsorteer. Ná hierdie besluit geneem is, is daar bitter min weer van die SBBV gehoor. Van die lede en voormalige lede waarmee die Zoutpansberger die afgelope week gesels het, het gesê hulle was onder die indruk dat die SBBV doodgeloop het.

Dit is egter nié die geval nie. Volgens die SBBV se voorsitter en nou interim bestuurder, mev. Inga Gilfillan, staan die SBBV nog sterk en het hulle reeds verskeie vergaderings gehou sedert die begin van die jaar. Opvolgvrae rondom die finansiële tameletjie waarin die SBBV hul tans bevind, is Dinsdag aan Gilfillan gestuur. Sy wou haar egter nie te veel uitlaat oor die huidige hofsaak nie. “Ek het die vrae na die bestuur verwys vir antwoorde. Die saak is ook onderhewig aan ‘n kriminele polisie-ondersoek, asook ‘n siviele geding wat deur (prokureur) André Naudé hanteer word,” het Gilfillan in ‘n e-pos aan die koerant gesê. Sy het bygevoeg dat geaffekteerde lede almal in kennis gestel is van die situasie waarvan die SBBV hulle sedert Januarie 2017 bevind toe hulle van die ongerymdhede bewus geword het. “Die munisipaliteit is ook in Februarie  dadelik in kennis gestel aangesien ons betalings moes reël met hulle,” het Gilfillan gesê.   

Intussen is Olivier na sy vlugtige hofverskyning verlede week op borg van R2 000 vrygelaat. Sy saak is uitgestel tot 14 Junie vir die afhandeling van die polisie-ondersoek.

News - Date: 28 May 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: