ADVERTISEMENT:

 

Nico Scheepers. Foto verskaf.

Nico fokus nou op silwerskerm

 

Hier in die Soutpansberg het Nico Scheepers weinig bekendstelling nodig. Dié talentvolle en innoverende storieman is al ‘n gesoute regisseur in die verhoogbedryf en nou ook in die filmwêreld.

Nico het verlede week vir ‘n wyle uitgespan by familie hier in sy tuisdorp en die Zoutpansberger het gaan inloer vir ‘n koppie koffie om te hoor waarmee hy hom deesdae besig hou. Sy skedule laat jou amper na jou asem snak.

Vir eers het hy, sê Nico, die wêreld van tienertoneel vaarwel geroep. Lesers sal hom onthou vir sy aktiewe betrokkenheid by Hoërskool Louis Trichardt se toneelgroep. Hy het vanaf 2010 tot 2013 vier toneelstukke vir die skool geskryf vir die jaarlikse ATKV Tienertoneel kompetisie, waarvan die finaal by die jaarlikse Aardklop Kunstefees gehou is.

Sy groot passie, sê Nico, was egter nog altyd die maak van films. Dit is al wat hy wou doen, en nou het sy droom ‘n werklikheid geword. Binnekort sal sy heel eerste kortfilm, Die Maan val Bewusteloos, tydens kykNet se Silwerskermfees later in Augustus te siene wees. Die film is ‘n verwerking van Nico se verhoogstuk met dieselfde titel.

Albert Maritz beskryf die stuk, ná afloop van hierdie jaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees, as een van die mees vernuwende kunsrekwisiete-verbeeldingsvlugte ooit. “Dit is [die] mees volmaakte gevallestudie van ouderdom, veral, Alzheimers, liefde. Die sielkundig slimste skryfwerk om onder jou vel in te kom sedert Dan Sleigh se Eilande, PG se Fees van die ongenooides, Willem Anker se Buys, Fanman van William Kotzwinkle ... Die Maan val Bewusteloos broei briljantheid. Die mooiste beeld van onskuld, aangeraak deur mensehande,” skryf Maritz.  

Nico se werk, sê Maritz verder, is die wêreld se moetste moet-sien en beste uitvoerskoonheid. Dié stuk was in 2016 ook die naaswenner van die ATKV-tienertoneel toe dit opgevoer is deur die Hoërskool Jan van Riebeeck.

Die Maan val Bewusteloos vertel die verhaal van Mia en haar sielswroeging oor waar sy vandaan kom. Al wat sy ken is haar oupa en ouma, en die feëverhale waarmee hulle haar grootmaak. Soos wat sy ouer word, word die vrae meer en moet sy haarself troos met die liefde wat hulle vir haar gee, want antwoorde kry sy nie. Wanneer tragedie tref, moet nuwe bande geskep word om die pad vorentoe te stap. Die rolverdeling sluit in Luca Meyer-Rodenbeck, Cobus Rossouw, Carla Smit en Sandra Kotze.

Buiten vir hierdie stuk, het Nico ook sy hand gewaag aan ‘n komiese reeks vir kykNet. As gevolg van streng kontrakvoorwaardes mag die reeks se naam nog nie bekendgemaak word nie. Die reeks sal vroeg in 2018 opgeneem en uitgesaai word.

Daar is nog geweldige baie projekte waarmee Nico se skedule gevul word. Dit sluit in projekte vir die verhoog en silwerskerm. Een van die projekte, verklap Nico, is vir hom groot nuus en ‘n projek waarna hy vreeslik baie uitsien. Ongelukkig, vir nou, kan hy nie die aap uit die mou laat nie...

News - Date: 12 August 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: