ADVERTISEMENT:

 

Wyle Tania Coetzee. Foto verskaf.

Geliefde diereliefhebber skielik oorlede

 

Inwoners van die Soutpansberg het verlede week nog ‘n geliefde inwoner aan die dood afgestaan.  

Alhoewel Tania Coetzee (50) nie ‘n boorling van die noorde was nie, was sy geliefd en bekend so ver as Musina, Waterpoort en Louis Trichardt. Sy was veral geliefd in Louis Trichardt onder lede van die plaaslike DBV (Dierebeskermingsvereniging) vir haar absolute liefde vir diere.  

Tania is Vrydagoggend, 4 Augustus, ná ‘n baie kort siekbed oorlede in die Zoutpansberg Privaathospitaal hier in Louis Trichardt. Sy was ‘n asmalyer en het die aand vantevore gesukkel met asemhaling weens ‘n erge verkoue. Haar man en die groot liefde van haar lewe, Paul, het haar hospitaal toe gebring. Tania se hart het egter gaan staan en sy kon nie weer bygebring word nie.

Die egpaar het hulle in 2002 noord van die Soutpansberg op die plaas Bakstaan gevestig.

Tania is op 4 Oktober 1966 in Boksburg gebore, waar sy grootgeword en skoolgegaan het. Sy het Paul ontmoet terwyl hy veeartsenykunde gestudeer het op Tukkies. Tania het klasgeloop om ‘n mikrobioloog te word. Hulle het op 18 Februarie 1989 getroud, waarna hulle vir jare lank in die Rayton-area geboer het.

Tania was nie net ‘n akademikus nie, maar ‘n ware boervrou van formaat. In daardie eerste jare, vertel Paul, het sy geboer met hoenders, skape en bokke. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie.

Nadat hulle op Bakstaan kom intrek het, het sy die plaas se lodge ook bestuur vanaf 2002 tot 2013. Haar boerekos het wyd en syd bekendheid verwerf het. “Haar kos was so gewild by die jagters dat groepe van so ver as Europa spesiaal by ons bespreek het, net om haar boerekos te geniet. Haar malvapoeding was so gewild dat die jagters dit elke aand op die spyskaart wou hê,” het Paul vertel. Destyds se Bos en Kombuis (2), die resepteboeke van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging, was uitsluitlik gepubliseer met Tania se wildsvleisresepte.

Met verloop van tyd het Tania ook vir Paul bygestaan met die vestiging van hulle eie boerboekstoet, Grootleeu Bokke. Buiten vir die bokke het Tania ook altyd nog ‘n plekkie in haar hart gehad vir weggooidiere. Behalwe vir die vyf donkies wat hulle onlangs by die DBV aangeneem het, het Tania en Paul ook deur die jare ander weggooihonde en -diere ingeneem. Die twee was ook gereelde ondersteuners van die plaaslike DBV se projekte.

Tania word oorleef deur Paul, haar ma Marthie Oosthuizen (83), jonger broer Willie Oosthuizen, en sy vrou Karien en hulle twee kinders Xander en Tiané.

Tania sal komende Maandag, 14 Augustus, om 13:00 vanuit die NG Kerk Moeder-gemeente begrawe word.

News - Date: 13 August 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Wyle Tania en haar eggenoot Paul. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: