ADVERTISEMENT:

 

Jack en Linda Oosthuysen van Louis Trichardt. Foto verskaf.

Egpaar oorleef wrede aanval op kleinhoewe

 

Jack Oosthuysen en sy vrou Linda van Louis Trichardt se emosies was Woensdagmiddag nog rou.

Die Zoutpansberger het enkele ure nadat hulle wreed aangeval is, met Jack se suster, Annamarie Bothma, gesels oor die aanval in die egpaar se huis op hulle Rondebosch kleinhoewe net buite Louis Trichardt.

Annamarie het gevra dat inwoners saam met die familie sal bid. Sy was Woensdagmiddag saam met Jack by die Mankweng Hospitaal waar hy gewag het op ‘n oogspesialis. “Hy het baie skade aan sy regteroog – daar is baie bloeding agter die oog,” het Annamarie telefonies aan die Zoutpansberger gesê. “Jack het gesê hy dink mens sien net swart as jy blind word, maar al wat hy nou sien is wit ... ons is baie bekommerd dat hy heeltemal die gebruik van sy oog gaan verloor,” het Annamarie gesê.

Jack moes ook heelwat steke aan die agterkant van sy kop kry. Linda het behandeling ontvang, nadat haar linkerarm uit sy potjie geslaan is.

Die egpaar is Woensdag ongeveer 02:00 in hulle huis aangeval. Die Makhado Polisie het bevestig dat ‘n saak van huisroof geopen is en dat daar na drie verdagtes gesoek word.

Volgens Annamarie wil dit voorkom of die rowers die slot van ‘n glasdeur by die skarnier oopgebuig het en só toegang gekry het tot die huis. Die rowers het Jack en Linda oorval in hul slaapkamer en aangerand.

Volgens Annamarie het die rowers eers die bedlampie teen die muur stukkend geslaan. Een het toe met ‘n ysterpyp vir Jack in die gesig en oor die kop begin slaan. Linda het glo dadelik op die vloer gaan kniel en begin bid.

Jack het ‘n hou kon inkry, vertel Annamarie, en het sy aanvaller met sy vuis geslaan. Dié rower het hom toe gewend na Linda en haar ook met die pyp geslaan op haar skouer.  

“My broer is nog baie emosioneel ... hy sê dit was vir hom die ergste om te sien hoe word sy vrou aangeval,” het Annamarie gesê.

Na die rowers klaar was met hul aanval het hulle op die vlug geslaan met ongeveer R3 000 en Jack se selfoon. Dié kontant was in die huis, omdat Jack beplan het om voorraad te gaan koop vir sy besigheid, die Drie Myl Padstal by die Ledig-verkeersirkel wat nie te ver van hulle huis af is nie.

Teen druktyd het die polisie bevestig dat daar nog geen arrestasies gemaak is nie.

News - Date: 20 August 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Dokters hoop om die skade aan Jack se regteroog te herstel, nadat hy wreed aangeval is met 'n ysterpyp. Foto verskaf.

Linda is met 'n ysterpyp oor haar linkerskouer geslaan. Foto verskaf. 

Bloedspatsels lê die wêreld vol nadat mnr. Jack Oosthuizen Woensdagoggend wreed deur drie mans in sy huis op 'n kleinhoewe buite Louis Trichardt aangeval is. Foto: Facebook.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: