ADVERTISEMENT:

 

Twee vir tweede keer slagoffers van roof in twee jaar

 

Daar is min dinge so traumaties as om ‘n slagoffer van ‘n gewapende roof te wees. Wat sekerlik erger is, is om binne twee jaar twee keer beroof te word.

Dit is presies wat met die 49-jarige Gerda Szluha en 59-jarige Ansie Bothma van die Pitstop Drankwinkel in Louis Trichardt gebeur het.

Lesers sal nog onthou hoe hulle op 19 November 2015 aangeval en beroof is deur drie gewapende mans. Hulle was in daardie stadium die slagoffers van ‘n sesde gewapende roof binne vyf dae in die dorp. Verlede Donderdag is beide weer aangeval, nie by die winkel nie, maar wel voor Ansie se huis in De La Reystraat toe Gerda haar ná werk gaan aflaai het.

“Ons het niks vermoed nie. Ek het voor Ansie se huis gestop en die volgende oomblik hoor ek net Ansie gil verskriklik. Toe ek na haar kyk, ruk iemand my deur oop,” het Gerda aan die Zoutpansberger gesê.

Ansie het gegil, want ‘n man met ‘n handwapen het by haar deur gestaan. Gerda sê sy kon nie sien of die man wat haar deur oopgeruk het ook gewapen was nie. In totaal was daar drie aanvallers. “Ek het nie eers die voertuig wat agter ons parkeer het, gesien nie,” het Gerda gesê.

Al wat die aanvallers wou weet, was "Where is the money!" “Ons vermoed hulle het ons vanaf die drankwinkel dopgehou en gedink ons het die dag se geld by ons,” het Gerda gesê.

Die twee het egter niks van die winkel se geld by hulle gehad nie.

Een van die mans het oorgeleun en Ansie se handsak (met al haar persoonlike besittings soos haar identiteitsdokument en bankkaart daarin) gegryp. Dié het by haar voete gelê. Hulle het ook haar selfoon, die koelhouertjie waarin sy elke dag haar kos sit en ‘n klein sakkie kunsmis, wat Ansie vroeër die dag gekoop het, gevat. Gerda se handsak was agter haar sitplek versteek en gelukkig het die rowers dit nie gesien nie, alhoewel hulle Gerda se sakke deurgevoel het. “Ek weet nie hoekom hulle die sakkie kunsmis gevat het nie. Dalk het hulle gedink die winkel se geld is daarin versteek,” het Gerda gesê.

Net so vinnig as wat die aanvallers verskyn het, het hulle weer verdwyn. “Dit het alles so vinnig gebeur ... Hulle het weggejaag in wat gelyk het soos ‘n donkerkleurige BMW,” het Gerda gesê.

Oomblikke later het die skok hulle beetgepak. “Ek registreer nou nog nie regtig nie,” het Gerda gesê. ‘n Persoon wat saam op Ansie se erf woon, het haar gille gehoor, maar aanvanklik nie besef wat aangaan nie. Dit was eers toe Ansie-hulle by die erf ingehardloop kom, dat hulp dadelik ontbied is. “Binne minute was lede van die dorpswag op die toneel, gevolg deur die polisie,” het Gerda gesê.

Die saak is by die Makhado polisie aangemeld vir verdere ondersoek. Teen druktyd was dit egter onduidelik of daar enige vordering in die saak gemaak is, en of enige iemand al gearresteer is.

Daar is baie ooreenkomste tussen die gewapende roof op Gerda en Ansie verlede week en dit wat twee jaar gelede met hulle gebeur het. Beide aanvalle het ná 19:00 op ‘n Donderdag plaasgevind, met drie aanvallers wat betrokke was. “Mense moet asseblief nie dink ons beplan dit so nie,” het Gerda te midde van die skok spottenderwys opgemerk.

Buiten vir die trauma van die aanval, sit Ansie met die frustrasie om al haar kaarte te hernu en aansoek te doen vir ‘n nuwe identiteitsdokument. Die verlore selfoon is ook ‘n kopseer. “Party dae voel jy beter en ander dae voel dit of jou vel te klein is … maar ek is oraait,” het Gerda gesê. Sy sê hulle is sedert die tweede roof baie meer oplettend. “Jy kyk orals om jou rond as jy bestuur, behalwe op die pad,” het Gerda glimlaggend gesê. “Mens verwag tog dat so iets eintlik by die winkel moet gebeur, nie voor jou huis nie,” het Gerda bygevoeg.

Soos ná afloop van die vorige gewapende roof is Gerda en Ansie baie dankbaar. “Ons is dankbaar ons het nie seergekry nie. Ons is ook dankbaar vir al die mense wat ons kom bystaan het. Ons is die dankbaarste dat ons met ons lewens daarvan afgekom het,” het Gerda gesê.

News - Date: 01 September 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: