ADVERTISEMENT:

 

Die “nuwe” Suid-Afrika bied baie uitdagings by skole

 

Dissipline by skole bly ‘n baie aktuele onderwerp en volgens mnr. Louis Cilliers, hoof van Hoërskool Louis Trichardt, het hulle in die “nuwe” Suid Afrika definitief baie meer uitdagings in die onderwys as ooit vantevore.

Dit, het Cilliers gesê, sluit in die uitdagings wat die Departement van Onderwys daarstel. Soms word onderwyspersoneel nie altyd binne ‘n redelike tyd deur die Departement aangestel nie en kan hierdie aanstellings soms jare sloer. Limpopo se kroniese “handboekkrisis” is ook nou al welbekend, met kinders wat ongelukkig raak omdat hulle maande moet wag vir handboeke, selfs nadat ‘n nuwe skooljaar reeds begin het. “En steeds verwag elkeen in die provinsie en in Suid Afrika dat ons matrikulante moet presteer,” het Cilliers gesê.

Dit het alles ‘n invloed op dissipline by skole. “In baie gevalle is ouers ook afwesig, omdat hul in ander dorpe of stede werk, en in baie gevalle ontbreek die dissiplinestrukture wat by die ouerhuise gevestig behoort te word,” het Cilliers gesê.

Volgens Cilliers is die uitdagings in Limpopo se plattelandse gebiede na bewering soveel meer as in ander provinsies. Hy sê daar is skole waar leerders net doen wat hul wil en ongelukkig kies van hulle ook om geensins skool toe te gaan nie. “Daar is ‘n kultuur van wetteloosheid en leerders het die gevoel dat hul onaantasbaar is en dat die skool se gedragskode en algemene reëls nie op hul van toepassing is nie. Leerders het ook die kultuur wat deur die onderwysdepartement geskep is dat hul gepromoveer kan word tot die volgende graad sonder om regtig hard te werk. Die feit dat lyfstraf afgeskaf is, dra ook nie by tot die dissipline in skole nie. Die ergste wat kan gebeur is waarskynlik om detensie te gaan sit,” het Cilliers gesê.

Cilliers het gesê dat dissipline in die skoolopset van kardinale belang is en die bousteen is vir sukses en effektiewe onderwys. “Dissipline gee kinders daardie duidelike grense waarbinne hul kan beweeg en optree. In enige skool is daar kinders wat altyd hul samewerking gee en hul bes doen om te presteer. Ongelukkig is daar ook leerders wat alles in hul vermoë doen om klasse te ontwrig en disrespekvol op te tree teenoor sy/haar maats en ook hul opvoeders. By hul huise is hul die absolute engeltjies voor hul ouers en by die skool tree hul teenstrydig op met hoe hul by hul huise optree,” het Cilliers gesê.

Volgens Cilliers probeer hulle by Hoërskool Louis Trichardt volgens ‘n waardesisteem leef en volg hulle ‘n “Character for Life” program waar hulle poog om kinders daagliks bewus te maak van die belangrikheid van waardes en hoe om daardie waardes deel te maak van hulle lewens.

“Het ons uitdagings wat sommige leerders se dissipline aanbetref? Ongelukkig is die antwoord ja. Spreek ons dit aan? Definitief. As skool, in samewerking met die skoolbeheerliggaam, praat ons nie net oor die belangrikheid van dissipline nie, maar tree ons daadwerklik op en gebruik ons die skool se gedragskode wat deur die beheerliggaam opgestel en onderskryf word om die leerders met dissiplinêre probleme aan te spreek,” het Cilliers gesê.

Cilliers het verduidelik dat die hoërskool se dissiplinestelsel van so ‘n aard is dat die sondebokke teen hulself diskrimineer. Dissiplinêre verhore vind op interne vlak plaas, en in meer ernstige gevalle word dissiplinêre verhore deur die skoolbeheerliggaam gehou. Cilliers het gesê dat swak en onaanvaarbare gedrag hoegenaamd nie verdra word nie. “Ons is besig met die inwerkingstelling van ‘n nuwe, vaartbelynde klaskamer-bestuursprogram waar die personeellid die inligting invoer op sy/haar rekenaar dat die leerder byvoorbeeld laat is, huiswerk nie gedoen is nie, of dat die kind die klas probeer ontwrig. Die inligting word dan outomaties aan die ouers per SMS gestuur. Op hierdie manier gaan ouers deurentyd op hoogte wees van sy/haar kind se optrede by die skool en vinnig, akkuraat en daadwerklik optree om enige dissiplinêre uitdagings effektief aan te spreek en uit die weg te ruim,” het Cilliers gesê.

Cilliers het afgesluit deur te sê dat dit belangrik is dat al die rolspelers by ‘n skoolinstansie, naamlik die onderwysers, die ouers en die kinders, moet saamwerk en mekaar vertrou. “Dissipline was, is nou en sal ook in die toekoms onmisbaar wees in skole wat effektief en suksesvol wil wees. Sonder positiewe en regverdige dissipline gaan die uitdagings in die onderwys onbeheerbaar raak. As almal saamwerk en ‘n verskil probeer maak in terme van dissipline, moet dit by jouself begin. Dan sal daar ‘n rimpel-effek plaasvind en almal sal kan voordeel trek en elkeen sal die waarde van dissipline ervaar en voortbou om gesonde, gedissiplineerde jong volwassenes aan die wêreld te lewer. Met regverdige, streng toegepaste dissipline word geleenthede en ‘n atmosfeer geskep waar almal kan tuis voel en behoort.  By Hoërskool Louis Trichardt sal dissipline altyd deel wees van ons kinders se opvoeding en poog ons om reëls en gedragskodes te vervang met ‘n waardesisteem waarvolgens elkeen behoort te leef, sodat elke kind tot sy/haar volle potensiaal kan ontwikkel,” het Cilliers gesê.

News - Date: 07 October 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: