ADVERTISEMENT:

 

Onwettige hondejagters swaar gestraf

 

Dit wiele van geregtigheid draai stadig, maar hulle draai wel. Dit is presies wat twee onwettige jagters uitgevind het, toe hulle na ‘n twee-en-‘n-half-jaar-lange hofsaak ‘n swaar vonnis opgelê is.

Donald Matombe Nagana en Oupa Mabala Mashamba is op Woensdag, 20 September, in die Louis Trichardt Streekhof daaraan skuldig bevind dat hulle op 16 Julie 2014 drie vlakvarke en een volstruis onwettig met jaghonde gejag het op die plaas Miss Emily in die Bandelierkop-omgewing.

‘n Plaaswerker het die twee en hul jaghonde op die plaas gewaar en die bestuur in kennis gestel. Aanvanklik het die twee die plaaswaglede, wat kom help het om te soek na die onwettige jagters, ontduik.

Nagana en Mashamba het die volgende dag teruggekeer met ‘n bakkie, wat hulle van ‘n vriend van hulle se pa gehuur het, om hulle buit op te laai. Vir die vriend, wat deur sy pa aangesê is dat hy die bakkie moet bestuur, het hulle gesê hulle het toestemming van die plaaseienaar gehad om die varke te jag.

Toe Nagana en Mashamba egter agterkom die plaaswag soek nog na hulle, het hulle probeer wegjaag. Dit was egter ‘n kort jaagtog, waarna die vriend besluit het om eerder te stop. Onseker oor waarom hulle presies deur die plaaswag gejaag word, het die vriend saam met Nagana en Mashamba te voet verder gevlug.

In die vriend se Nissan 1400 bakkie het die polisie, buiten die karkasse, ook 11 honde en ‘n ongelisensieerde 9mm pistool gekry. Die vriend en bestuurder van die bakkie het onraad vermoed en self na die polisie gegaan en hulle vertel wat gebeur het. Nagana en Mashamba is daarna aangekeer. Die bestuurder van die bakkie sou later ook vir die Staat getuig.

Nagana en Mashamba is ná hulle arrestasie vrygelaat op R500 borg. Die saak het vir lank gesloer, omdat daar ‘n dispuut was oor waar presies die pistool gevind is en die getuienis in verband hiermee nie behoorlik deur die polisie vir die hof voorberei is nie.

Nagana en Mashamba het aanvanklik ook onskuldig gepleit op die aanklag van onwettige jag. Hulle verweer was dat hulle die betrokke dag van die misdryf elkeen by hulle huis was en daarom nie die sondebokke kon gewees het nie. Nie een van die twee het egter enige getuienis gebring om hulle alibi’s te staaf nie. 

Die hof het min simpatie met Nagana en Mashamba gehad en beslis dat die getuienis van die bakkie se bestuurder, saam met die van die boere wat die bakkie agterna gejaag het, bo redelike twyfel bewys het dat beide Nagana en Mashamba  wel op die plaas was. Albei is skuldig bevind aan onwettige jag en gevonnis tot vier jaar direkte gevangenisstraf sonder die keuse van ‘n boete.

News - Date: 15 October 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: