ADVERTISEMENT:

 

Wyle Phillip Olivier. Foto verskaf.

Olivier neem sy eie lewe

 

Die voormalige bestuurder van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV), Phillip Olivier, het Dinsdag sy eie lewe geneem.

Volgens Olivier se skoonseun, mnr. JG van den Berg, het sy skoonpa ten tye van sy dood by ‘n vriend gekuier wat in die Alldays-omgewing woon. Olivier se vriend het Dinsdagoggend op sy liggaam afgekom waar Olivier homself opgehang het.

Olivier (57) was die sleutelfiguur in ‘n ondersoek na honderde duisende rande wat uit die rekening van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) verdwyn het. Die SBBV het ‘n kriminele saak teen hom geopen,  nadat hulle agtergekom het daar is geld weg.

Die geskil tussen Olivier en die SBBV het vroeër in die jaar opslae gemaak, nadat die SBBV die saak in die plaaslike howe probeer besleg het. Die SBBV het aansoek gedoen vir ‘n dringende interdik in die Louis Trichardt landdroshof om te keer dat Olivier R200 000 uit ’n trustrekening na ‘n eie rekening oorplaas.

Die saak is later tydelik besleg toe beide partye op 14 Junie ‘n skikkingsooreenkoms aan die Louis Trichardt Distrikshof voorgelê het. Hiervolgens het Olivier onderneem om ‘n bedrag van R505 000 aan die SBBV terug te betaal. Dit het ingesluit die R200 000 wat in die trustrekening gehou is, wat binne sewe dae oorbetaal moes word en reeds terugontvang is deur die SBBV.

Die oorblywende R305 000 moes binne 30 kalenderdae betaal word. Benewens dié skuld, moes Olivier ook R8 900 terugbetaal vir ‘n selfoonkontrak en R5 000 vir ‘n bonus wat uitbetaal is. Olivier is ook verantwoordelik gehou vir die regskoste van R30 714 en die ouditkoste van R15 714.

Olivier het egter versuim om die totale uitstaande bedrag terug te betaal en moes in Augustus weer in die hof verskyn. Nadat hy nie opgedaag het by die hof nie, is ‘n lasbrief vir sy arrestasie op 28 Augustus in die streekshof uitgereik. Sedertdien het hy arrestasie ontduik.

Intussen is daar nog geen duidelikheid oor die presiese bedrag wat die SBBV al terug ontvang het nie. Daar is ook steeds geen duidelikheid oor hoe die SBBV se finansies tans daarna uitsien nie, net soos daar ook nie vaste planne bekend gemaak is deur die SBBV oor hulle toekomstige bedrywighede nie.

Die SBBV sou na verwagting hul finansiële sake bespreek met lede tydens ‘n algemene jaarvergadering (AJV) op Woensdag, 4 Oktober. Die vereniging se state is al vir ‘n geruime tyd uitstaande.

SBBV waarnemende voorsitter mev. Inga Gilfillan het egter hierdie week gesê dat Woensdag se vergadering net ‘n inligtingsvergadering was vir lede. Klaarblyklik was daar ‘n gebrek aan belangstelling en het minder as 20 lede opgedaag vir die vergadering. Derhalwe kon geen toekomsplanne bespreek word nie, want daar was nie genoeg lede om ‘n kworum te verkry nie. Gilfillan het verduidelik dat alvorens die SBBV enige verdere stappe mag neem dit bespreek en voorgelê moet word aan lede by ‘n AJV waar daar 20 of meer lede betrokke is.

Geen finansiële state was ook beskikbaar tydens verlede week se vergadering nie. Volgens Gilfillan is die SBBV se ouditeur nog besig met die finansiële ondersoek wat  ‘n “hele oudit”  insluit. “Ons het nie ‘n algemene jaarvergadering gehou nie, want ons het nie die finansiële state gehad nie. Die vergadering was ‘n ledevergadering om lede in te lig dat die finansiële state nog nie klaar is nie en dat dit baie meer werk is,” het Gilfillan gesê.

Teen druktyd was begrafnisreëlings vir Olivier nog nie beskikbaar nie. 'n Lykskouing sou Woensdag gedoen word waarna die familie die reëlings sou begin tref.

Hy laat sy vrou, drie kinders en vyf kleinkinders agter.

News - Date: 16 October 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: