ADVERTISEMENT:

 

Die 19-jarige Luhan Holtzhausen wys hoe die kapers hom aan die kraag gegryp het en kort daarna uit voertuig geruk het.

Jong sakeman oorleef kapingsdrama

 

Dit was net ‘n jong sakeman van Louis Trichardt se koel kop wat gesorg het dat sy kapingsdrama nie in ‘n noodlottige tragedie ontaard het nie.

Die 19-jarige Luhan Holtzhausen het Vrydag, 17 November, vir ‘n tweede keer die slagoffer geword van ‘n gewapende roof, maar dié keer is ook die voertuig waarin hy gery het gekaap.

Luhan is in vennootskap met pa Hugo en mede-eienaar van Holtzhausen Breeders. Hy het Vrydag juis vanaf hulle plaas op die Vivo-pad na Polokwane gery om geld vir hom en sy pa se besigheid te gaan oplaai.

Kort na 13:00 het hy weer die pad terug na Louis Trichardt aangepak. “So drie kilometer uit Polokwane het ek ‘n rooi Nissan Navara in my tru-spieëltjie opgemerk. Die bakkie het my aandag getrek, want as ek 140 km/h doen, doen hy dit ook, en wanneer ek spoed verminder na 60 km/h, ry hy dit ook en hou dieselfde spasie tussen ons,” het Luhan gesê.  

Dit was toe, sê Luhan, dat hy sy pa skakel en sê hy vermoed hy word agtervolg. “My pa het my aangeraai om spoed te verminder en ‘n U-draai te maak om te sien of die bakkie my steeds agtervolg,” het Luhan gesê.

So gesê, so gedaan. Luhan het spoed verminder en by die piekniekstaanplek (sowat 15 km uit Polokwane) ingedraai om ‘n U-draai te maak. “Die volgende oomblik het die Navara voor my neus ingejaag,” het Luhan gesê.

Twee mans, beide gewapen met pistole, het uit die bakkie gespring en op Luhan afgestorm. “Die mans het verskriklik gevloek en die hele tyd vir my geskreeu: 'Get out of the f@#king car! Get out of the f@#king car!' Hulle was baie aggressief,” het Luhan gesê.

Luhan erken hy het bietjie opgevries, alhoewel hy die heel tyd vir homself gesê het om kalm te bly. “Ek het die venster afgedraai. Die volgende oomblik het die een man my aan die kraag gegryp en al my knope afgeruk. Dit is toe dat hulle my uit die kar uit ruk,” het Luhan gesê.

Volgens Luhan het die een gewapende man in sy voertuig ingespring en die ander een weer terug in die Navara. Beide het haastig weggejaag.

Oorbluf het Luhan besef hulle het nie sy selfoon, wat in sy sak was, gevat nie. Hy het dadelik die polisie geskakel vir hulp en daarna by een van die piekniektafels gaan sit en wag. “Dit is die snaaksste gevoel. Jy sien hoe ry die karre een vir een verby jou, salig onbewus van wat gebeur het. In ‘n stadium het iemand daar gestop om toebroodjies te eet,” onthou Luhan.

Luhan sê die polisie was baie vinnig op die toneel. Blykbaar was daar volgens Luhan binne 15 minute ook ‘n polisiehelikopter in die lug om die gesteelde swart Pajero 3.2 DID te soek. Helaas, die soektog was tevergeefs en ‘n padblokkade buite Polokwane het ook niks opgelewer nie.

Luhan sê hy is seker hy is dopgehou en dat die roof baie goed vooraf beplan is. Van die gebeure wat sy suspisie aanwakker, sluit in die feit dat hy daardie dag met sy sussie se voertuig gery het, want sy eie bakkie was in vir herstelwerk. “Steeds het hulle presies geweet wie ek is en dat ek kontant by my gehad het. Toe hulle my uit my voertuig geruk het, was hulle nie eers gepla daaroor om my vir my selfoon te deursoek nie. Hulle wou net die kar hê,” het Luhan gesê.

Luhan het gesê dat die roof hom baie ontstel het, en dat hy hoop die polisie kry minstens sy sussie se voertuig terug. “Die polisie het vir my ‘n SMS gestuur waarin hulle sê die saak is nou ‘n inter-provinsiale saak, want die Pajero is in 'n ander provinsie opgemerk,” het Luhan gesê.

Luhan is dankbaar hy leef. “Ek is al ‘n vorige keer beroof, so dit het my gehelp om kalm te bly. Dit help nie jy baklei terug nie. Geen geld is ‘n lewe werd nie. Jy kan altyd weer môre geld maak,” het Luhan gesê.

News - Date: 27 November 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: