ADVERTISEMENT:

 

Ou euwels steek nuwe kop uit

 

‘n Ou euwel het die afgelope weke weer sy kop hier in Louis Trichardt uitgesteek.

Diewe wat niksvermoedende motoreienaars beroof, deur in te breek by hulle voertuie met behulp van ‘n afstandbeheer, is weer aktief in die dorp.

In een van dié gevalle is mnr. Jacques Greyling op 22 November amper gevang deur hierdie sogenaamde “remote jammers”. Volgens Greyling het hy drie keer tevergeefs probeer om sy bakkie met sy afstandbeheer te sluit toe hy by die Checkers-sentrum in Louis Trichardt geparkeer het. Soos wat hy weggestap het, het hy ‘n motorwag opgemerk tussen hom en sy bakkie, onrustig begin voel en teruggedraai. Sy bakkie se deure was oop.

Greyling sê sy flikkerligte het elke keer aangegaan wanneer hy die afstandbeheer gedruk het, maar steeds het die deure nie gesluit nie. “Ek is onmiddellik gekonfronteer deur die karwag oor ek myself nie ‘trust’ nie. Wees asseblief versigtig,” het Greyling gesê.

Volgens Greyling het hy nie die saak by die Makhado Polisie aangemeld nie, omdat hy nie na die aanklagkantoor kon deurkom nie. Niemand het die foon geantwoord nie. “Checkers se sekuriteit en die bestuurder het absoluut niks gedoen toe dit aan hulle gerapporteer is nie,” het Greyling verder opgemerk.

In die jongste voorval is ‘n klant op Vrydag, 1 Desember, in die parkeerarea voor Cycle Centre in Eltivillas beroof. Die eienaars van Cycle Centre het die beeldmateriaal van hulle sekuriteitskameras beskikbaar gemaak om ander mense te waarsku om meer paraat te wees.

(Kyk na die video hier).

In die video kan gesien word hoe die klant parkeer, uitklim en so in die loop haar bakkie sluit met haar afstandbeheer. Binne oomblikke is daar twee mans wat die prentjie binne-stap. Eers loop hulle en loer in by die winkelingang. Nadat die diewe seker gemaak het die vrou is besig met aankope, slaan die een toe. Dié dief het ondermeer weggekom met die vrou se handsak en ‘n onbekende bedrag in kontant. In hierdie geval is die saak by die Makhado Polisie aangemeld.

Checkers het verlede week gereageer op medianavrae wat gestuur is kort na Greyling se onderonsie. In ‘n e-pos het Checkers hoofkantoor verduidelik dat Greyling se bekommernis oor “remote jamming” met die bestuur van die kompleks opgeneem is. “As gevolg hiervan,” het Checkers gesê, “is sekuriteit in en rondom die winkel opgeskerp as ‘n voorsorgmaatreël én het die bestuur van die kompleks ook die karwagte vervang.”

Checkers het verder bevestig dat hul onafhanklike sekuriteitsmaatskappy al in die verlede voornemende kriminele se planne in die wiele gery het en ook gehelp het met suksesvolle arrestasies. Die maatskappy het egter bygevoeg dat, veral in die besige feesseisoen, dit nie altyd ‘n maklike taak is om kliënte en hul persoonlike items te beskerm nie. “Daar is nie ‘n waarborg dat diewe elke keer op die sekuriteitskameras op heterdaad betrap, geïdentifiseer en gevang sal word nie,” het Checkers gesê. Daarom het Checkers hulle kliënte gewaarsku om altyd versigtig te wees in ‘n besige area en eerder hul persoonlike besittings aan hulle persoon te dra ten alle tye.

Wat Greyling se klag betref oor die plaaslike polisie se swak telefoonmaniere, is daar ook navraag gedoen. Volgens wat die koerant kon vasstel, het die polisie nie enige tegniese probleme ondervind met hul lyne nie. Die bestuur van die stasie, asook die provinsiale woordvoerder lt.-kol. Moatshe Ngoepe, het bevestig dat daar gekyk sal word na die klagte. Tot op datum is geen terugvoer ontvang nie.

Die koerant het ook die klag onder die aandag gebring van mnr. Dirk Meisseinheimer in sy hoedanigheid as voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF). Hy het bevestig dat die klag al ‘n besprekingspunt was op vorige vergaderings met die polisie en belowe om die saak weer onder hulle aandag te bring.

Meisseinheimer het ook ‘n beroep gedoen dat, indien so iets weer gebeur, die persoon ‘n oomblik sal vat om dit te gaan aanmeld by die stasiebevelvoerder. Hy het verduidelik dat ‘n datum en tyd die bevelvoerder sal help om daadwerklik op te tree teen lede wat in daardie stadium aan diens was. “Asseblief mense, ons kan niks doen as niemand die tyd wil neem om te gaan kla nie,” het Meisseinheimer gesê.

News - Date: 09 December 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: