ADVERTISEMENT:

 

Elmien Fourie. Foto: Facebook.

Malaria eis jong student

 

“Ons het vandag baie reën gehad … maar min het ons geweet … Victor sê dat die wolke gehuil het … oor ‘n aarde engel wat haar by Jesus se voete gaan tuismaak het.”

Dit was een van die honderde boodskappe wat ingestroom het op sosiale media ná die skielike dood van die 20-jarige Elmien Fourie van Musina.

Vriende, familie en ondersteuners regoor Suid-Afrika rou saam met Elmien se ouers, ma Natasja en pa Manie, en ouer broer Jaco oor haar afsterwe Maandag.

Elmien se storie het landsburgers se harte aangeraak toe sy op Oujaarsdag in Evander se staatshospitaal opgeneem is met malaria. Sy het saam met haar ouers oor die feesseisoen by Jaco gekuier in Evander toe sy saam met pa Manie begin siek word het. Al twee is behandel vir malaria, maar Elmien se malaria het vinnig oorgegaan in die gevaarlike serebrale malaria. Manie het herstel en is ‘n paar dae later ontslaan.

Aanvanklik is Elmien behandel vir longontsteking en dehidrasie. Elmien se gesondheid het egter bly agteruitgaan, tot so ‘n mate dat sy oorgeplaas is na die hoësorgeenheid en in ‘n stadium aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel moes word, verskeie bloedoortappings moes kry en ook dialise.

‘n Hulpfonds is op die been gebring vir Elmien, en Musina se inwoners het soos een man ingespring en gehelp om geld in te samel. Hulle het ook saam met die res van die land op hul knieë gegaan om te bid vir Elmien vir beterskap.

Amper twee weke later het dit stadig begin beter gaan met Elmien en kon sy op 15 Januarie oorgeplaas word na ‘n gewone saal. Haar dokters was hoopvol dat sy binnekort sou kon terugkeer huis toe.

‘n Week later moes Elmien egter inderhaas weer teruggeneem word na die hoësorgeenheid. Volgens haar dokters het sy ‘n bakteriële infeksie opgedoen wat haar hart aangetas het. Dokters het gesê die enigste manier om te voorkom dat die infeksie versprei was ‘n ope-hartoperasie.

Niemand het egter verwag dat Elmien se hart enkele ure voor sy Maandag, 29 Januarie, dié operasie moes kry, sou gaan staan nie.

“Die Here het vir Miena kom haal,” het ‘n SMS-boodskap gelees van haar ouers, wat wyd versprei is op sosiale media. “Sy het nie gely nie, en ons het darem kans gehad om afskeid te neem.”

Elmien, lees die boodskap verder, het deur die nag ‘n terugslag beleef. ‘n Breinskandering is gedoen, wat glo gewys het dat sy hewige bloeding op haar brein het. Die bloeding was van so ‘n aard dat ‘n operasie nie ‘n verskil sou maak nie. Elmien se bloeddruk het geleidelik verswak, totdat haar hart opgehou klop het en sy om 14:30 oorlede is.

“Ons gaan jou mis, Angel – nou het jy vlerkies gekry,” was die slotwoorde van die boodskap.

Jaco het Woensdag aan die Zoutpansberger bevestig dat Elmien terugkom huis toe en dat daar komende Saterdag ‘n begrafnisdiens vir haar gehou sal word op Musina. Teen druktyd was daar nog nie nadere besonderhede beskikbaar nie.

Elmien was sedert 2006 saam met haar ouers en broer op Musina woonagtig en het daar haar laer- en hoërskoolloopbaan voltooi. Sy was voor afsterwe ‘n student aan die Noord-Wes Universiteit se Potchefstroomse Kampus, waar sy somatologie studeer het.

News - Date: 05 February 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

Wyle Elmien Fourie (20). Foto: Facebook.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: