ADVERTISEMENT:

 

Die 19-jarige Morgan Meyer en 15-jarige sussie Ismarie. Morgan moes verlede Donderdagoggend verbete veg om ‘n aanvaller uit hul huis in Munnikstraat te hou. In die agtergrond is die eetkamervenster waardeur die aanvaller Morgan geskop het.

Boetie lê die houe in om sussie te beskerm

 

Om jouself vyfuur in die oggend in ‘n lewe-en-dood-stryd te bevind, is sekerlik nie die manier wat enige iemand sy dag wil begin nie.

Dit is presies hoe die 19-jarige Morgan Meyer, ‘n matriekleerling van Hoërskool Louis Trichardt, se dag op Donderdag, 5 April, begin het. Ten tye van die voorval was hy en sy 15-jarige sussie, Ismarie, alleen by die huis, want ma Santie was saam met pa Jorrie in Pretoria waar Jorrie ‘n dringende operasie aan sy been moes kry.

Morgan vertel self dat hy soms sukkel om te slaap. Die betrokke oggend het hy besluit om op die stoep van hul huis in Munnikstraat, Louis Trichardt, te gaan sit. “Dit was so net na vyf toe ek skielik iets hoor. Dit het geklink soos iemand wat ‘n ketting oor staal trek,” het Morgan aan die Zoutpansberger gesê.

Met dié het al vier die familie se honde, wat saam met hom op die stoep gesit het, opgespring en na die agterkant van die huis gehardloop. “Ek het ook opgestaan om te gaan kyk, maar het skaars ‘n paar treë geloop toe ek iets agter my hoor. Dit het geklink soos iemand wat takkies op die grond skuur,” het Morgan vertel.

Morgan het omgeswaai en ‘n man in die donkerte gewaar. “Ek kon nie sien of hy gewapen was nie, maar ons het so gelyk op mekaar gestorm,” het Morgan gesê.

Volgens Morgan het sy rugby- en stoei-agtergrond, en die feit dat hy vir bykans vyf jaar “mixed martial arts” gedoen het, sy optrede bepaal. Hy het laag afgebuk en sy aanvaller so ‘n lekker rugby “tackle” gegee. “Ek het die eerste houe ingekry ... so drie van hulle, maar toe kon hy my afkry. Hy was sterker en vinniger as ek, en hy kon so vier houe inkry,” het Morgan gesê.

Die worsteling, wat op die stukkie grasperk voor die huis begin het, het intussen terug gevorder tot op die stoep. “Dit is waar hy die laaste hou ingekry het. Ek was in ‘n hurk-posisie. Hy het my toe op die regterskouer geskop en ek is deur die eetkamervenster,” het Morgan gesê.

Morgan sê hy kan nie onthou hoe lank hulle gestoei het nie. “Toe ek myself aan die vensterbank optrek, het ek gehoor hoe my hond nader gehardloop kom. Die oomblik toe hy op die stoep kom, toe hardloop die man,” het Morgan gesê.

Morgan, wat in hierdie stadium gebloei het van snymerke wat hy opgedoen het toe hy deur die eetkamervenster geval het, het dadelik familievriende van hulle geskakel vir hulp. Hulle was binne minute op die toneel om te help. Die polisie is ook ontbied.

Volgens Morgan kan niks hom regtig voorberei vir so ‘n situasie nie. “Die eerste waaraan ek gedink het was my sussies se veiligheid. Sy het nog gelê en slaap. Ek het net besluit: Hierdie man sal nie in ons huis inkom nie!” het Morgan gesê.

Dit gesê, het Morgan bygevoeg dat hy nie voel soos ‘n held nie. “Ek is bietjie teleurgesteld dat ek die “fight” verloor het. Ek is kwaad, want hy het weggekom,” het Morgan gesê. Gelukkig was Morgan se beserings nie ernstig nie. Die ergste was die eetkamervenster wat vervang moes word.

En wat het sus Ismarie gedink van die hele petalje? “Sy het wakker geword van die venster wat breek. Sy sou na die tyd vir my sê sy het gedink dit is haar boetie wat weer iets breek,” het Morgan met ‘n glimlag opgemerk.

News - Date: 16 April 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: