ADVERTISEMENT:

 

Afgeneem ná afloop van Saterdag se vergadering oor die regering se voorneme om Artikel 25 van die Grondwet te wysing om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, is (van links na regs) mnre. Door s Le Roux (ondervoorsitter van die SDLU), Bennie van Zyl (hoofbestuurder van TLU SA) en Fanie Havinga (voorsitter van die SDLU).

Onteiening ‘n werklikheid wat bestuur moet word

 

Die regering se voorgestelde wysiging aan Artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, het baie landbouers uiters bekommerd. Om meer lig te werp op die onderwerp, het mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, Saterdag plaaslike landbouers hieroor kom toespreek.

‘n Groot hoeveelheid landbouers het Saterdag by Kennington Lodge buite Louis Trichardt byeengekom om te hoor wat die toekoms vir die Suid-Afrikaanse boer inhou. Van Zyl se boodskap was nie noodwendig wat boere wou hoor nie – dat onteiening ‘n realiteit is. “Dit is ongelukkig so dat mense hierdie ding uiteenlopend sien. Daar is selfs sekere rolspelers in die landbou wat sê: ‘Julle jaag net spoke op. Hierdie is net ‘n ou stofstormpie wat in die pad af kom. Dit is ‘n ou politieke prosessie. As die verkiesing verby is, sal dit weer rustiger wees.’ Vriende, ongelukkig is dit nie so nie,” het Van Zyl gesê.

Die groot vraag wat gevra is, is of landbouers gereed is vir wat kom? “Wat staan ons te doen? As ons niks doen nie, dan het ons ‘n probleem. Dit gaan egter baie wyer as landbouers. Hierdie is Suid-Afrika se probleem. Dit is nie net die boer se probleem nie,” het Van Zyl gesê.

Wat laasgenoemde betref, het Van Zyl gewaarsku dat onteiening nie net tot landbougrond beperk sal wees nie. “Ons praat hier van die beginsel van privaat besitreg, en as die ANC-regering hierdie beginsel gaan wysig en hy gaan ‘n klomp wette maak dat hy ‘n bate kan vat sonder vergoeding, dan beteken dit by implikasie dat hy ook ander bates kan vat as dit sy keuse sal wees.” In dieselfde asem het Van Zyl genoem dat hy nie sê dit gaan definitief gebeur nie, maar in beginsel kan hulle dit doen.

Van Zyl het gesê dat toe die regering die woorde “onteiening sonder vergoeding” geuiter het, daar onmiddellik ‘n bepaalde vakuum geskep is. “As ons nie daardie vakuum gaan vul met logiese, verantwoordelik en rasionale insette nie, sal ons deur ons stilswye daardie proses kondoneer en hulle [die regering] vrypas gee om voort te gaan op daardie trajek,” het Van Zyl gewaarsku.

Van Zyl het dit beklemtoon dat die regering ernstig is oor onteiening. “So, ons moet met groot verantwoordelikheid na hierdie saak kyk. Dit is ‘n baie ernstige saak ... daarom sê ek daar is sekere dinge wat ons moet doen en ons moenie daarvan terugdeins nie. Ons moet verseker weet dat ons nou met groot kundigheid, groeperings bymekaar, met verantwoordelikheid hierdie pad moet stap,” het Van Zyl gesê.

As deel van hierdie verantwoordelike optrede het Van Zyl verwys na die proses wat tans aan die gang is waar landsburgers skriftelike kommentare of versoeke om mondelingse getuienis kan indien ten opsigte van die voorgestelde wysiging aan Artikel 25. Hierdie kommentare moet mnr. Pat Jayiya in die parlement nie later as 15 Junie bereik nie. Jayiya se e-posadres is [email protected]. Slakpos kan ook gestuur word na die Konstitusionele Oorsigkomitee, Parlement, Posbus 15, Kaapstad, 8000. Van Zyl het egter gewaarsku dat burgers ook verantwoordelik moet optree in die opstel van hulle kommentare. “Ek pleit by u – moenie uself weens emosie in die tronk in praat of doen nie,” het Van Zyl gesê. Hy het ook burgers gewaarsku om nie emosioneel opgesweep te raak deur mekaar op sosiale media aan te hits nie. Fopnuus, het Van Zyl gesê, hou veral ‘n gevaar in.

Van Zyl het gesê dat die TLU SA as ‘n verantwoordelike vesting vir die kommersiële boere advies kan verskaf oor hoe om hulle kommentaar saam te stel. Dit sluit in dat landbouers soveel moontlik individuele en kollektiewe insette moet indien. “Ons mag nie hieroor stilbly nie,” het Van Zyl gesê. Ander riglyne wat die TLU SA aan landbouers gee, is dat die beginsel van onteiening sonder vergoeding verwerp moet word en dat die wysiging van Artikel 25 teëgestaan moet word. “Privaat eiendomsreg moet erken en beskerm word. Dit is die fondasie vir beleggingsvertroue en ‘n voorvereiste vir die opbou en uitbreiding van die ekonomie tot voordeel van alle inwoners van die land. Die voortdurende onsekerheid oor eiendomsreg kos ons land beleggings en ‘n algehele verlies aan sakevertroue, met die gevolg dat werk nie geskep word nie,” is die TLU SA se standpunt hieroor. Die unie argumenteer dat die Staat eerder die bestaande restitusieproses verbeter, die grootskaalse korrupsie daarin beperk en die proses versnel, sodat dit binne sewe jaar afgehandel kan word.

As deel van die regering se dryf om Artikel 25 te wysig, het die provinsiale leier van die DA, mnr. Jacques Smalle, ook die vergadering gewaarsku dat die voorgestelde onteiening almal sal raak. “Alle vorme van eiendom sal in die gedrang kom, nie net grond nie, en dit is ons plig om eiendomsregte te beskerm. Die openbare deelname vir die beoogde wysiging van die Grondwet word baie ernstig opgeneem en alle voorleggings sal deur die hersieningskomitee bespreek word. Die DA word verteenwoordig deur adv. Glynnis Breytenbach, mnr. James Selfe en dr. Annelie Lotriet,” het Smalle gesê.

As deel van die proses het die regering vier openbare verhore oor die voorgestelde wysiging van Artikel 25 in Limpopo geskeduleer. Die verhore vind plaas op 27 Junie (Groblersdal), 28 Junie (Mokopane), 29 Junie (Giyani) en 30 Junie (Thohoyandou). “Dit is uiters belangrik dat almal vir die Grondwet opkom deur die verhore by te woon. Die algemene gevoel is ook dat die organisasies en politieke partye wat ten gunste van  die wysiging is hulle lede in groot getalle gaan mobiliseer.

“Nou is nie die tyd vir ons om in ‘n gemaksone te verkeer nie. Ons moet aktief betrokke raak om ons Grondwet en eiendomsregte te beskerm,” het Smalle ná afloop van die vergadering in ‘n verklaring gesê. Hy het Van Zyl se woorde tydens die vergadering beaam toe hy gesê het: “Die tyd van op die kantlyn sit is verby.” Van Zyl het inwoners versoek om ter voorbereiding van wat kom, in te skakel by hulle plaaslike gemeenskapstrukture, soos die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, asook ander plaaslike veiligheidstrukture soos plaas- en dorpswagte. “Ons kan mekaar lank besig hou met die negatiwiteit eerder as die realiteite van hierdie land. Ons moet daarvan kennis neem – ons kan nie oningelig wees nie,” het Van Zyl gesê.

News - Date: 20 May 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: