ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. David Erasmus Diener, alombekend as Dave.

Hartseer totsiens aan geliefde hoof

 

Die Soutpansberg is beslis armer daaraan toe met die nuus van die skielike dood van Laerskool Messina se legendariese skoolhoof, mnr. Dave Diener.

Inwoners het verlede Vrydag, 11 Mei, met die skoknuus wakker word dat die 63-jarige Diener vroegoggend by sy huis aan ‘n hartaanval oorlede is.

Daar is min mense wat met dieselfde toewyding en ywer die onderwys gedien het as Diener. Hy sou met sy aftrede in 2019 altesaam 40 jaar in die onderwys diens gedoen het.

Diener se eggenote, Marietjie, het Woensdag haar man beskryf as ‘n uiters hardwerkende mens met ‘n absolute passie vir die onderwys. Dit is egter duidelik dat die onderwys deel is van die hele Diener-familie se DNA, met Marietjie en twee van hul dogters wat ook onderwysers is. Dogter Annene Veldman is ‘n volwaardige onderwyser, terwyl een van hul tweelingdogters, Anke, tans ‘n studente-onderwyser by die skool is.

“As man was hy ‘n geweldige steunpilaar vir baie mense. Kinders was sy passie. Hy het homself uitgeleef by die skool. Alhoewel hy emosioneel ‘n introvert was, was hy beslis sosiaal ‘n  ekstrovert,” het Marietjie gesê.

Buiten vir sy passie vir die onderwys, was Diener ook bekend vir sy passie vir sport. “In sy jonger dae was hy ‘n uiters goeie rugbyspeler en fantastiese atleet. Hy was ‘n verskriklike goeie sportman. Hy kon alles doen,” het Marietjie gesê en met ‘n glimlag in haar stem bygevoeg: “Hy was ‘n groot Stormers ondersteuner en sou nooit verander nie!”

Marietjie onthou haar man ook vir sy siening oor harde werk. “Hy was ongelooflik pligsgetrou en het geglo dat jy nooit, ooit vanaf jou werk wegbly sonder ‘n baie, baie goeie rede nie. Hierin was hy ‘n baie goeie voorbeeld vir sy kinders ... In al die jare dink ek hy was net twee keer nie by die werk nie, een keer vir sy pa se begrafnis en die ander keer vir sy ma se begrafnis,” het Marietjie gesê.

Marietjie het gesê dat hulle as familie maar deur ‘n moeilike tyd gaan, wat te verstane is. Die kinders vat dit veral swaar. "Hy was vir hulle ‘n goeie pa, wat vir hulle goeie riglyne gegee het. Hulle het altyd geweet: Pa is daar vir ons," het Marietjie gesê.

In lewe het Diener feitlik legendariese status in die onderwys bereik. Hy is wyd gerespekteer deur mede-skoolhoofde en onderwysers van ander skole. Die kinders wie se lewens hy egter in sy bykans 40 jaar as onderwyser aangeraak het, het ook aan hom hulde bring. Dit was duidelik uit die reaksie wat nuus van sy dood op die Zoutpansberger se Facebook-blad ontlok het. Binne ‘n dag nadat die kennisgewing geplaas is, het meer as 5 000 mense reeds die berig gelees. Honderd-drie-en-twintig mense het teen Woensdag die slegte nuus met vriende en familie via die sosiale media gedeel, terwyl ander kommentaar gelewer het op die nuus. “Hy gaan 'n groot leemte los op al die plekke waar hy gedien het en in kinders se lewens waar hy betrokke was. Hy het 'n groot aandeel in my en my seuns se sport suksesse gehad,” skryf Rina Hartzenberg in haar kommentaar. “Sjoe, wat ‘n groot skok. Dit was waarlik ‘n baie goeie hoof. ‘n Man met ‘n goeie hart,” het Cindy Bernard op haar beurt geskryf.

Laerskool Messina het self ook besluit om op ‘n baie spesiale manier hulde te bring aan ‘n man wat bykans vier dekades van sy lewe aan die skool gewy het, deur die hou van ‘n spesiale “afskeidsdiens” Maandag by die skool. Dit was ‘n aandoenlik seremonie, met die kinders en personeel wat onder meer kaartjies en boodskappe van vertroosting op ‘n groot ou kremetartboom aangebring het.

“Dit is met groot pyn en hartseer dat Laerskool Messina moet afskeid neem van ons geliefde skoolhoof, mnr. David Erasmus Diener. Hy was vir amper 40 jaar betrokke by Laerskool Messina en sou aan die einde van 2019 afgetree het. Hy was ‘n hardwerkende hoof wat die bus bestuur het, gras gesny het en nog steeds by atletiekafrigting betrokke was. Mnr. Diener was baie lief vir die kinders en personeel van die skool en het altyd gestrewe om sy skool te verbeter. Hy los ‘n groot leemte by die skool, in die gemeenskap en op die gholfbaan. Ons harte is baie seer, hy was ‘n legende. Rus in vrede, mnr. Diener,” was die boodskap van die skool.

‘n Roudiens vir Diener het Woensdag vanuit die NG Kerk in Musina plaasgevind. Hy word oorleef deur sy eggenote Marietjie, die egpaar se tweelingdogters Anke en Deidre, Marietjie se kinders Adele, Annene en Petri, suster Sistine en broer Wilhelm.

“Ek wil graag die skool bedank vir die deernis waarmee hulle sy dood hanteer het. Dankie aan my kinders en familie vir julle bystand in hierdie moeilike tyd. Dankie ook aan Freek en Cobus van Sanlam Blouster wat al die papierwerk vir my hanteer. ‘n Groot dankie gaan ook aan dokters Benji Pretorius en Richard Schmidt. Dankie dat julle altyd daar was vir hom,” het Marietjie gesê.

News - Date: 21 May 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

Laerskool Messina het self ook besluit om op ‘n baie spesiale manier hulde te bring aan ‘n man wat bykans vier dekades van sy lewe aan die skool gewy het, deur die hou van ‘n spesiale “afskeidsdiens” Maandag by die skool. Dit was ‘n aandoenlik seremonie, met die kinders en personeel wat onder meer kaartjies en boodskappe van vertroosting op ‘n groot ou kremetartboom aangebring het.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: