ADVERTISEMENT:

 

Wyle Juanita Voges (44) – vir jare ‘n voorbeeld en inspirasie vir baie. Foto verskaf.

In lewe was sy vir soveel 'n inspirasie en voorbeeld

 

Die 44-jarige Juanita Voges van Louis Trichardt, wie se lewe as tetrapleeg vir baie as absolute inspirasie gedien het, is Maandag in die MediKliniek in Tzaneen oorlede.

Juanita, eens ‘n briljante jong sportvrou wat marathons gehardloop het en muurbal gespeel het, se lewe het op 26-jarige ouderdom ingrypend verander toe sy op 19 Desember 1999 in ‘n swembad geduik het en haar nek gebreek het. Sy is feitlik heeltemal verlam vanaf die nek ondertoe gelaat.

In lewe het Juanita se verhaal mense se harte aangegryp. Sy het nooit moed opgegee in haar geloof dat sy eendag dalk weer sal kan loop nie. Nie net het haar veggees vir baie as inspirasie gedien nie, maar ook haar onwrikbare geloof. ‘n Sprekende voorbeeld hiervan was haar woorde aan die Zoutpansberger tydens ‘n onderhoud in Mei 2008. “Ek glo die Here wil my genees en kan my enige oomblik genees. Maar as ek meer vir Hom kan beteken soos ek nou is, dan sal ek dit enige tyd so wil doen.”

Juanita sou wel nooit weer kon loop nie. Tog het sy die lewe ten volle geniet vanuit haar woning by Loeriepark waar sy tuisversorging ontvang het.

“Die laaste paar maande het sy vir my geweldig vinnig agteruit gegaan ... Sy het net al hoe maerder en maerder geword,” het Alicia Thomas, Juanita se susterskind, Woensdag aan die Zoutpansberger gesê.

Soos die noodlot dit wou hê, het Juanita sowat drie weke gelede ‘n verkouevirus opgedoen. “Sedert haar ongeluk het sy maar 40% longkapasiteit gehad. Sy was dus baie bang om siek te word,” het Alicia gesê.

“Dit het omgesit in brongitis. Sy het maar altyd met haar asemhaling gesukkel, maar dit het die laaste tyd baie vererger,” het Marcia, Alicia se ma en Juanita se suster, gesê.

Juanita se gesondheid het bly verswak, tot so ‘n mate dat sy op 10 Mei in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem moes word. Bloedtoetse het gewys dat haar infeksietelling ongelooflik hoog was. “Die dokter het haar toe op ‘n drip met antibiotika gesit. Dit het gehelp en haar infeksietelling het afgekom,” het Alicia gesê.

Dit was vir die familie sleg om te sien dat haar infeksietelling afkom, maar Juanita self word nie beter nie. “Hulle het toe begin om haar suurstof te gee. Op Woensdag, 16 Mei, het haar hart gaan staan, maar hulle kon dit weer aan die gang kry. Dit was toe dat die dokter gesê het sy moet oorgeplaas word na die MediKliniek in Tzaneen,” het Alicia gesê.

Juanita is opgeneem in die kliniek se intensiewe sorgeenheid. Twee pype moes help om vog vanaf haar longe te dreineer en sy moes van suurstof voorsien word om haar te help asemhaal. “Jy moet onthou, sy was vir drie weke ná haar ongeluk in ‘n koma. Sy het altyd gesê sy wil nooit weer daardie pype en goed in haar keel hê nie. Dit was vir ons moeilik gewees, want hier teen die einde het sy vir ons oor en oor gesê sy wil nie meer nie, sy is moeg,” het Alicia gesê.

Juanita is Maandag omstreeks 09:30 oorlede. Dokters het longontsteking aangeteken as oorsaak van dood. “Ek dink haar liggaam was net te swak om verder te baklei,” het Alicia gesê. “Dit was vinnig – binne ‘n halfuur. Sy het absoluut rustig gegaan. Gelukkig was haar broer Marc en sy vrou darem ook daar. Ek dink partykeer sy het net vir haar boetie gewag,” het Marcia gesê. Sy sê Juanita het ‘n dapper stryd gestry. “Ek dink dit is vir haar ‘n absolute verlossing. Ek dink dit is wat sy wou gehad het,” het Marcia gesê.

Juanita was ‘n laatlammetjie met 22 jaar wat haar en suster Marcia geskei het. “Sy was soos ‘n kind in ons huis. Ons het selfs saam gaan vakansie hou,” het Alicia gesê.

Juanita is op Messina gebore, maar het later na Tzaneen verhuis waar sy tot en met die ou Standerd 7 by Merensky skoolgegaan het. Sy het egter haar Standerd 8, 9 en matriek in 1991 aan Hoërskool Louis Trichardt voltooi.

“Weet jy, Juanita was nooit negatief nie en het nooit gekla oor iets nie. Sy was altyd te bang sy pla iemand,” onthou Alicia haar tannie. “Sy was ‘n absolute voorbeeld vir ons gewees – ‘n inspirasie. Sy het altyd gesê sy kan dalk nie iets doen nie, maar sy kan vir iemand bid. Haar geloof was baie sterk,” het Marcia bygevoeg.

‘n Roudiens vir wyle Juanita vind eerskomende Maandag, 28 Mei, om 11:00 vanuit die Agapé-gemeente in Louis Trichardt plaas. Sy word oorleef deur haar broer Marc en suster Marcia. “Sy was net een ongelooflike mens gewees. Sy was sag en wou nooit konflik hê nie. Sy was altyd so dankbaar oor alles,” het Alicia afgesluit.

News - Date: 27 May 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

Juanita Voges was eens ‘n kranige sportvrou. Hier is sy afgeneem tydens die Wally Hayward maraton in 1998, ‘n jaar voordat sy haar nek gebreek het in ‘n duikongeluk. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: