ADVERTISEMENT:

 

Mnre. Doors le Roux (met die mikrofoon) en Stephen Hoffman (regs) was deel van die groep boere wat Saterdag tydens die volgende ronde openbare verhore oor die Staat se voorgestelde wysiging van Artikel 25 van die Grondwet hulself uitgespreek het teen die wysiging om onteiening sonder vergoeding goed te keur. Foto verskaf.

Boere maak stemme dik oor voorgenome onteiening

 

Inwoners van die Soutpansberg en omstreke het Saterdag ook die kans gekry om insette te lewer ten opsigte van grondbesit tydens die volgende ronde openbare verhore vir Limpopo oor die moontlike wysiging van Artikel 25 van die Grondwet.

Die verhoor in Thohoyandou is goed ondersteun met mense wat hul “vir” en “teen” argumente kom voer het oor die regering se moontlike voorneme om grond te onteien sonder vergoeding.

Soos duidelik geblyk het uit voorafgaande verhore, was daar ‘n sterk gevoel onder gemeenskappe om grond sonder vergoeding te onteien en derhalwe die regering magtiging te gee om Artikel 25 te wysig. Tans laat Artikel 25 reeds onteiening toe, onderhewig aan sekere vereistes.

Die ras-kwessie tussen wit en swart in die land het weereens die middelpunt van meeste insette gevorm, met die meerderheid individue, gemeenskapsleiers en verteenwoordiger van politieke partye wat die nou al geykte argument geopper het dat alle grond in Suid-Afrika deur witmense gesteel is.

Aan die ander kant van die kleurspektrum het heelparty plaaslike boere, as lede van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU), asook privaat grondeienaars, die vergadering bygewoon om hulle insette  te lewer. Die meerderheid van die boere is gekant teen die voorgenome wysiging van Artikel 25. Boere se gevoel hieroor is mooi opgesom in die woorde van bekende plaaslike boer Doors le Roux. “Uit die aard van die saak is ek teen die verandering van die Grondwet. Die rede is heel eenvoudig. As jy enige iets van enige iemand vat en jy vergoed nie daardie persoon daarvoor nie, noem ons dit diefstal. Dan steel jy dit van hom. So, net diewe en kriminele kan ‘n proses van diefstal ondersteun,” het Le Roux gesê.

Nog ‘n bekende plaaslike boer, mnr. Stephen Hoffman, het namens die SDLU ‘n voorlegging gemaak. In sy openingsrede het hy gevra dat die regering die status quo handhaaf ten opsigte van die wysiging van Artikel 25, omdat dit die SDLU se mening is dat so ‘n wysiging ‘n uiters negatiewe impak op die land se ekonomie sal hê.

Volgens Hoffman verskaf die Soutpansberg se boere werk aan sowat 70 000 mense en as hulle afhanklikes bygereken word, word sowat 450 000 mense deur die inkomste vanaf boere onderhou. Hy het bygevoeg dat, buiten vir Staatsalarisse wat in die streek spandeer word, landbou in die vere noorde van die land die enigste ander sektor is wat geld genereer uit natuurlike hulpbronne. “Om produktiewe grond te vat van iemand wat dit as ‘n besigheid bedryf sal wees soos om die kloppende hart van die ekonomie uit te haal,” het Hoffman gesê. Hy het gewaarsku dat enige skade wat aan die landbou aangerig word, voedselsekuriteit onmiddellik uiters nadelig sal beïnvloed.

Hoffman het ook gesê dat die reg om eiendom te besit ‘n internasionale beginsel is wat nie onderhandelbaar is nie. “Geen besigheidsman sal belê of ontwikkel in ‘n land waar daar onsekerheid is oor die veiligheid van jou bates nie,” het Hoffman gesê.

Hoffman het in sy afsluitingswoorde gesê hulle besef daar moet verandering kom, maar dat mense eerder moet saamwerk. “Om te probeer om die verkeerde dinge van die verlede met die verkeerde dinge van vandag reg te maak, sal net die verkeerde dinge van die toekoms vermenigvuldig, tot so ‘n uiterste dat ons die toekoms van ons kinders steel,” het Hoffman gesê.

News - Date: 08 July 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

Die ras-kwessie tussen wit en swart in die land het weereens die middelpunt van meeste insette gevorm, met die meerderheid individue, gemeenskapsleiers en verteenwoordiger van politieke partye wat die nou al geykte argument geopper het dat alle grond in Suid-Afrika deur witmense gesteel is. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: