ADVERTISEMENT:

 

As jy kla, betaal jy duurder

 

Ná die omstredenheid wat die 2014-2018 waardasierol vir die Makhado munisipaliteit gekenmerk het, sou mens verwag dat daar met meer omsigtigheid te werk gegaan word met die opstel van ‘n nuwe rol. Dit blyk egter dat daar soortgelyks baie vrae en min antwoorde oor die 2018-2023 waardasierol is.

Die nuwe waardasierol, wat op 1 Julie in werking getree het, is opgestel deur Geospatial Valuation Technologies vanaf Port Elizabeth nadat die Makhado Munisipaliteit die amper R10 miljoen tender aan hulle toegestaan het. Die rol is voltooi en toe aan die publiek beskikbaar gestel vir inspeksie, kommentaar en besware met ‘n sluitingsdatum van 4 Mei.

Dit was juis in hierdie stadium wat inwoners ernstig begin kopkrap het oor presies wie hiérdie Port Elizabethse maatskappy is wat die waardasies gedoen het? Een plaaslike eiendomskenner, me. Gwen Loots van Realty 1, het haar openlik uitgespreek teenoor die munisipaliteit se besluit om die tender aan ‘n “buitestaander” toe te ken. “Ek stem nie saam met meeste van hulle waardasies nie … In my opinie is die gebruik van waardeerders van ander dorp ‘n fatale oefening en ‘n geldmors …” het Loots gesê.

Loots se reaksie was geskoei op eiendom binne die dorpsgebied. Die grootste skok het egter vir eienaars van landbougrond gewag. Me. Erika Helm van die TLU SA het in ‘n verklaring uitgevaar teen die maatskappy wat die waardasierol opgestel het. Sy kon ook nie sin maak van hoe die waardeerders by plase se eiendomswaardes uitgekom het nie. In baie gevalle is grondwaardes summier met tussen 100% en 300% verhoog. In ‘n gevallestudie wat die Zoutpansberger gedoen het, is bevind dat een boer se plase (gesamentlik 8 444ha), wat volgens die 2014/18 waardasierol vir net onder die R38 miljoen gewaardeer is, skielik volgens die 2018/23 waardasierol nou vir net onder die R71 miljoen gewaardeer is. “Sjoe, teen daardie waardasie kan ek nou maar aftree … Ek is selfs bereid om al my grond teen daardie prys aan die Staat te verkoop, met afslag!” het die boer opgemerk.

Boere wat soortgelyks ongelukkig was met die buitensporige waardasies op hulle plase kon toe beswaar aanteken om hul waardasie te wysig na meer realistiese en markverwante prys. Een van hierdie boere was mnr. Doors le Roux. Le Roux besit ses stuks grond as deel van die plaas Welgevonden op die Thohoyandou-pad.

Groot was Le Roux se ontnugtering toe hy sien dat die Port Elizabethse waardeerders na sy beswaar al sy eiendom vir bykans 80% meer gaan waardeer het. “Dit is absoluut bog!” het Le Roux gesê.

Gedeelte 34 van die plaas is in 2014 vir R438 000 gewaardeer en verhoog na R680 000 gedurende die 2015 aanvullende waardasierol. In 2018 is dieselfde eiendom se prys met 230% verhoog na R2 250 000 en nadat Le Roux beswaar aangeteken het, is sy eiendom herwaardeer vir R4 048 183 (495,32% verhoging vanaf 2015). Dieselfde was die geval op sy ander eiendom. Gedeelte 22 is in 2014 vir R201 000 gewaardeer, opgeskuif na R310 000 in 2015, toe vir R1 050 000 in 2018 waardeer en weer herwaardeer vir R1 850 000 (496,77% verhoging vanaf 2015). Gedeelte 25 is in 2014 vir R421 000 gewaardeer, verhoog na R650 000 in 2015 en gewaardeer vir R2 150 000 in 2018. Dit is toe herwaardeer vir R3 883 000 (497,38% op van 2015) nadat Le Roux gekla het. Gedeelte 20 van die plaas is in 2014 vir R407 000 gewaardeer, verhoog na R760 000 in 2015 en vir R2 100 000 gewaardeer in 2018, waarna die eiendom herwaardeer is R3 754 000 (393,95% op vanaf 2015). Gedeelte 26 is in 2014 vir R393 000 waardeer, opgeskuif na R900 000 in 2015 en toe gewaardeer vir R2 050 000 in 2018. Toe Le Roux daaroor kla, is sy eiendom herwaardeer vir R3 632 000 (303,56% op van 2015). Die laaste eiendom, Gedeelte 35, is in 2014 vir R409 000 gewaardeer, opgeskuif na R800 000 in 2015 en vir R2 100 000 gewaardeer in 2018. Ná beswaar aangeteken is, is die eiendom vir R3 775 000 (371,88% op van 2015) waardeer.

Volgens Geospatial Valuation Technologies se nuwe waardasies is Le Roux se grond deur die bank sowat R41 500 per hektaar werd. “Die plase bestaan meestal uit styl berghange waar beeste nie eens kan loop nie. Ek weet nie hoe hulle by hulle waardasies uitgekom het nie,” het Le Roux gesê.

Geospatial Valuation Technologies het op ‘n vraag oor die waardasiemetodologie in Maart vanjaar gesê dat hulle fisies elke eiendom wat hulle waardeer het, besoek het, alhoewel ‘n fisiese besoek nie volgens wet verpligtend is nie. In gevalle, het die maatskappy gesê, mag hulle gebruik maak van vergelykende, analitiese en ander sisteme soos lugfotografie om eiendomme te waardeer.

Op 26 Junie vanjaar is Geospatial Valuation Technologies in a medianavraag weer versoek om te verduidelik hoe hulle by die “nuwe” waardasie van Le Roux se eiendomme uitgekom het. Na herhaaldelike versoek om per e-pos terug te antwoord, het die Zoutpansberger op Vrydag, 6 Julie, ‘n oproep ontvang van Geospatial Valuation Technolgies se mnr. Clyde Lawrence.

Lawrence het aangedui dat hulle nie kommentaar gaan lewer nie, omdat die kwessie nou sub judice is. “Die klaer moet maar appèl aanteken,” is al wat Lawrence gesê het. Aangesien die term sub judice ‘n regsterm is met betrekking tot hofsake is Lawrence gevra of hulle maatskappy dan nou weliswaar in ‘n hofgeding betrokke is oor die waardasie rol? Geen kommentaar hieroor is ontvang nie.

Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi is ook gevra vir kommentaar wat betref die nuwe waardasierol. Volgens hom was daar egter nie baie klagtes nie. “In vergelyking met vorige waardasierolle het ons nie baie klagte ontvang nie. Klagtes was meestal van huiseienaar en ‘n minimale getal klagtes van plaaseienaars,” het Bobodi gesê.

News - Date: 16 July 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: