ADVERTISEMENT:

 

Die plase Lukin en Salaita wat deur MC Mining benodig word vir hulle Makhado Projek en nou blykbaar deur die Staat sonder vergoeding onteien gaan word. Foto: Google Maps.

Paniek oor grondlys

 

Die Soutpansberg het nie die ANC-regering se voorneme om plase te onteien sonder vergoeding vrygespring nie, met twee plase in die streek wat hiervoor uitgesonder is. Die vraag is egter: Hoekom juis hierdie twee plase?

AfriForum het op 12 Augustus 'n lys van plaasname gepubliseer wat hulle klaarblyklik vanaf ‘n vertroulike bron ontvang het. Die lys, wat na bewering binne die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming versprei is, bevat die name van 195 plase en eiendomme wat vir onteiening geoormerk word.

Heel bo-aan die lys is die name van die plase Salaita 188 MT en Lukin 643. Beide plase is geleë net noord van die Soutpansberg, in die Nzhelele vallei. Toevallig lê die plase langs mekaar en toevallig behoort beide plase aan Akkerland Boerdery, ‘n maatskappy. Dit is egter nie waar die toevallighede aangaande hierdie twee eiendomme stop nie.

Afriforum se publikasie van die lys het nie net paniek by genoemde grondeienaars veroorsaak nie, maar ook ‘n landswye debat oor die egtheid daarvan. Die departement betwis die bestaan van die lys, so ook Agri SA. “Agri SA bevraagteken die status en inhoud van die uitgelekte lys van plase wat na bewering vir onteiening sonder vergoeding (OSV) geoormerk is. Dié lys is die naweek bekendgemaak en het tot paniek onder grondeienaars gelei. Dit volg op 'n aanvanklike bangmaak-taktiek deur die ANC om 139 plase vir OSV te teiken,” het Agri SA se media verklaring Maandag gelees.

In die verklaring word Dan Kriek, president van Agri SA, aangehaal dat hulle besig is om die geloofwaardigheid van die lys van plase te verifieer. “Dit is onverantwoordelik van AfriForum om onbevestigde inligting te publiseer, juis omdat dit opruiend is,” het Kriek gesê. Volgens Kriek het ‘n blitsopname gewys dat die lys onakkurate inligting bevat wat maklik was om te verifieer. Die verklaring lees verder dat onteiening nie oornag kan gebeur nie en dat daar bepaalde prosesse gevolg moet word, insluitend dat die boer in kennis gestel moet word.

Die TLU SA het minder gematig reageer op die publikasie van die lys. “Boere wie se grond geteiken word vir onteiening, hetsy sonder of teen ‘n simboliese laer as markwaarde vergoeding, moet weier om hulle grond af te staan, want dit is niks anders as diefstal nie.” Dit was die oproep by TLU SA Noordstreek se algemene raadsvergadering Maandag in ‘n mediaverklaring. In die verklaring vra die TLU Noord dat boere alle moontlike mag moet gebruik om onteiening teen te staan, “omdat nie hulle of hulle voorouers enige grond gesteel of andersins onregmatig bekom het nie.”

Volgens die voorsitter van TLU SA Noord, mnr. Henk van de Graaf, is hierdie sterk standpunt ingeneem nog voordat daar kennis geneem is van enige lys met plaasname wat skynbaar vir onteiening geoormerk is. “Boere sien dit as kwaadwillig en ‘n oorlogsverklaring, en die regering moet besef dat hy met vuur speel en afstuur op ‘n uiters plofbare situasie, wat tot niemand se voordeel gaan wees nie,” het Van de Graaf gesê.

Terug na die toevalligheid rondom die plase Lukin en Salaita.

Die meer oplettende lesers sal die name onthou as twee van die plase wat volgens die destydse Coal of Africa Limited (nou bekend as MC Mining) se besigheidsplan sou deel vorm van hulle Makhado Projek. Nadat hulle prospekteerregte op die plaas bekom het, het hulle gepoog om toegang tot die plaas te kry. Die eienaars het egter toegang teëgestaan en uiteindelik het die saak ‘n draai gaan maak in die Noord Gauteng Hooggeregshof in 2012. In 2014 het die hof egter beslis dat die eienaars nie die myn toegang tot hul plaas kan weier nie. Nodeloos om te sê, dit het geensins bygedra daartoe om die gespanne verhouding tussen die myn en die eienaars van die plase op te klaar nie.

Die Zoutpansberger het Dinsdag ‘n telefoniese onderhoud gevoer met mnr. Johan Steenkamp, een van die direkteure van Akkerland Boerdery.

Volgens Steenkamp is daar ‘n lang aanloop tot die huidige stand van sake. Hy het gesê dat, ongeag hul stryd met MC Mining, hulle op 26 Maart vanjaar ‘n brief van die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, me. Maite Nkoana-Mashabane, ontvang het. In die brief word hulle in kennis gestel dat beide Lukin en Salaita onteien gaan word sonder vergoeding en dat hulle sewe dae het om die plaas se sleutels te oorhandig. “Dit was die dag voor die langnaweek, met Vrydag wat ook ‘n vakansiedag was. Ons moes behoorlik rondskarrel om ‘n advokaat te kry om ‘n dringende hofbevel te kry om die ding te stop,” het Steenkamp gesê.

‘n Hofbevel is bekom en die saak is na die Grondeisehof verwys. “Ons was heel verbaas toe ons Sondag sien ons name is sommer heel bo-aan die lys van plase wat gaan onteien word. Dit nogal terwyl ons saak nog voor die Grondeisehof dien en daar nog nie uitspraak is nie,” het Steenkamp gesê.

Volgens Steenkamp word Akkerland Boerdery kommersieel as wildboerdery bedryf. “Ons boer met goeie gene wild en spits ons ook toe op toerisme,” het Steenkamp gesê. Hy meen egter die werklike rede waarom die regering die grond wil hê kan wees oor wat onder die grond is. “Volgens my is dit ‘n sameswering om die plase verniet in die hande te kry. Dit het alles te doen met die myn. Die Makhado rif (steenkool) is sowat R70 miljard werd en sowat 50% van die rif lê onder Lukin en Salaita,” het Steenkamp gesê.

Oor wat hulle volgende stap gaan wees, is Steenkamp in hierdie stadium onseker. “Ek kan nie vir jou sê nie. Ek het reeds Maandag met AfriForum gesels, en hulle gaan deel wees van die proses,” het Steenkamp gesê. Hy het die TLA Noord se standpunt beaam. “Ons gaan hierdie ding beveg,” het hy gesê.

Steenkamp-hulle het die twee plase oor ‘n periode van 21 jaar opgebou. “Hoe gaan mens vorentoe onder hierdie omstandighede?” het Steenkamp gevra.

News - Date: 19 August 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: