ADVERTISEMENT:

 

Inwoners van die Makhado munisipale area wat meer noukeurige hulle maandelikse munisipale rekenings deurgaan vir afwykings sou dalk opgemerk het dat van hulle vir etlike maande nie meer erfbelasting hoef te betaal nie. Op hierdie inwoner se Junie rekening word “Rates” nog aangedui word, maar daarna het die “Rates” kolom van sy rekening verdwyn.

“Kersgeskenk” kan vir baie ontaard in Kersfeesskok

 

Heelwat oplettende belastingbetalers in die Makhado munisipale area het agtergekom dat hulle vir etlike maande blykbaar nie meer erfbelasting hoef te betaal nie. Hierdie “Kersgeskenk” sal egter vir baie in ‘n Kersfeesskok ontaard, aangesien die munisipaliteit van voorneme is om alle agterstallige belastings terugwerkend oor die feesseisoen te vereffen.

Die Zoutpansberger het die afgelope paar weke verskeie klagte ontvang van inwoners wat gesê het hulle kan nie verstaan waarom die Makhado Munisipaliteit opgehou het om erfbelasting te hef op hulle maandelikse munisipale rekening nie?

Die koerant het by verdere ondersoek gevind dat dit wel die geval was – sekere inwoners blyk onthef te wees van erfbelasting, terwyl andere steeds verplig is om erfbelasting te betaal. Die groot vraag was waarom?

Een inwoner, mnr. Nic Hoffmann, het gesê dat hy uit radeloosheid die Makhado Munisipaliteit gekonfronteer het. “’n Beampte het my meegedeel dat hulle bewus is van die probleem. Op my vraag wat die probleem is, het hy gesê dit het iets te doen met die nuwe waardasierol wat in Julie geïmplementeer is,” het Hoffmann gesê.

Nog ‘n inwoner, mnr. George Janse van Rensburg, het ook gesien hy hoef blykbaar nie meer erfbelasting te betaal nie. “Wat gaan ek doen as hulle dit eendag weer begin hef? Gaan ek die agterstallige erfbelasting alles op een slag moet betaal?” wou Janse van Rensburg weet. Hoffmann het gesê dat hy voorsorg getref het vir so ‘n moontlikheid deur steeds elke maand ‘n geskatte bedrag erfbelasting by te betaal.

Die Zoutpansberger het vir die afgelope drie weke probeer om ‘n verduideliking vanuit die Makhado Munisipaliteit te verkry. Die verduideliking sou egter eers hierdie week kom.

Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het in antwoord Dinsdag per e-pos erken dat die munisipaliteit tans probleme ondervind met die hef van erfbelasting. “Op sommige rekeninge word erfbelasting gehef en op andere nie,” het Bobodi gesê. Volgens hom is die probleem te danke aan “tegniese probleme” wat ontstaan het met die invoer van die nuwe waardasierol se inligting op hul rekenaarsisteem. “Nie alle rekeninge is geaffekteer nie, net sekeres,” het Bobodi gesê.

Die ooglopende vraag was egter hoeveel rekeninge deur die tegniese fout geraak word? Die Makhado Munisipaliteit kan beslis nie bekostig om enige verdere verlies aan inkomste te ly nie, veral nie gesien in die lig daarvan dat hulle bykans R62 miljoen “verloor” het deur dit by die omstrede VBS Mutual Bank te belê nie. Die Noord Gauteng Hooggeregshof het Dinsdag gelas dat die bank gelikwideer word.

In antwoord op die vraag oor die hoeveelheid rekeninge wat geraak word, het Bobodi gesê dat ‘n totaal van 9 472 belastingbetalers tans nie vir erfbelasting aangeslaan word nie. Konserwatief bereken, op ‘n bedrag van R300 erfbelasting per maand, beteken dus dat die Makhado Munisipaliteit tans net meer as R2,8 miljoen per maand aan inkomste verloor. Die finansiële prentjie lyk nog meer beroerd as daar in ag geneem word dat, volgens Bobodi, erfbelasting reeds sedert 30 Junie vanjaar nie meer op hierdie 9 472 rekeninge gehef word nie. Konserwatief gesproke kyk mens dan na meer as R14 miljoen in verlies aan inkomste.

So, wanneer gaan die munisipaliteit die “tegniese fout” regstel en hoe gaan hulle die agterstallige erfbelasting weer verhaal? Die vraag bly steeds: Gaan inwoners kan afbetaal of gaan die agterstallige belasting in een bedrag betaalbaar wees?

Volgens Bobodi sal die agterstallige belastings op die November en Desember munisipale rekenings verhaal word. Hy het inwoners daarop gewys dat, aangesien die eiendomme waarop daar tans nie erfbelasting gehef word nie deel is van die algemene waardasierol, die eiendomme volgens die nuwe erfbelastingskaal belas sal word, terugwerkend vanaf die datum wat die implementering van die nuwe waardasierol op 1 Julie vanjaar. Op ‘n positiewe noot het Bobodi darem gesê dat inwoners toegelaat sal word om reëlings te tref vir die afbetaling van die agterstallige erfbelasting.

Bobodi het ook raad gehad aan inwoners, sou die probleem dalk langer vat om uit te sorteer. “My raad aan inwoners is om voorlopig aan te hou betaal die bedrag erfbelasting wat op hulle munisipale rekenings verskyn het tot op 30 Junie vanjaar,” het Bobodi gesê.

 

 

News - Date: 18 November 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

Shared caption

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: