ADVERTISEMENT:

 

Interdik stop Eskom om Musina se krag te sny

 

Die organisasie Sakeliga het ‘n interdik teen Eskom bekom wat die kragreus verbied om Musina se elektrisiteitvoorsiening weens die wanbetaling van die dorp se plaaslike munisipaliteit te onderbreek.

Die dringende aansoek is Dinsdagoggend deur regter Khumalo in die Hooggeregshof in Pretoria in Sakeliga se guns beslis en sal geldig bly tot Sakeliga se hersieningsaansoek voor die hof dien. Dit sal dan uiteindelik die regsbeginsels vestig, het Sakelui in ‘n persverklaring gesê, vir die hantering van toekomstige kragonderbrekings wat in soortgelyke gevalle deur Eskom beoog word.

Sakeliga is 'n organisaie wat namens hulle sowat 12 000 lede veg vir grondwetlike orde, vrye markte, welvaart en 'n gunstige sakeklimaat. 

“Wat ‘n hersieningsaansoek só belangrik maak is dat dit uiteindelik ‘n nasionale oplossing kan bied vir gemeenskappe wat weens wanbetalende munisipaliteite benadeel word. Daar is tans meer as dertig dorpe wat op Eskom se webtuiste gelys word wat nes Musina kragonderbrekings in die gesig staar,” het mnr. Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, in die mediaverklaring gesê. “Ons kan egter nie toelaat dat betalende elektrisiteitsverbruikers se krag afgesny word net omdat een arm van die staat, ‘n plaaslike munisipaliteit, nie sy rekeninge aan ‘n ander arm van die staat, Eskom, betaal nie. Sakeliga se hersieningsaansoek gaan dié toetssaak wees wat uiteindelik ook op nasionale vlak in belang van plaaslike gemeenskappe en plaaslike ekonomieë toegepas kan word,” het Le Roux bygevoeg.

Sakeliga het intussen ‘n ondersteuningsblad op sy webtuiste beskikbaar gestel waar gemeenskapslede van dorpe wat deur soortgelyke probleme geteister word, die komende hofsaak teen Eskom oor kragonderbrekings kan steun. Volgens Sakeliga het meneer Zweli Mkhize, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, onlangs by die parlement verslag gelewer dat munisipale skuld aan Eskom vanjaar in ses maande van R13,6 miljard tot R17 miljard toegeneem het.

Sakeliga het in hul verklaring aangedui dat dit reeds die vierde keer vanjaar is dat hulle en Eskom in regsaksie teen mekaar betrokke is. In Mei vanjaar het Sakeliga gehelp om te keer dat Eskom elektrisiteitvoorsiening aan die Kgetlengrivier-munisipaliteit onderbreek. In Julie vanjaar het Eskom, in die aanloop tot ‘n dringende interdikaansoek deur Sakeliga, ‘n betalingsooreenkoms met die Musina Plaaslike Munisipaliteit aangegaan. Sakeliga het ook in Augustus, as amicus curiae (onpartydige adviseur) in die geding tussen Resilient Properties en Eskom unieke regsbydraes gelewer oor die beginsels wat behoort te geld vir Eskom wanneer hy skuld van plaaslike munisipaliteite probeer invorder.

‘n Hofdatum vir Sakeliga se hersieningsaansoek moet nog bekom word.

 

News - Date: 23 November 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: