ADVERTISEMENT:

 

As gevolg van die Suidelike Sypikslang se lang tande kan hierdie slang glad nie veilig met die hand hanteer word nie. Hierdie slang byt ook nie soos 'n gewone slang nie, maar steek eerder met sy giftande deur sy kop van kant tot kant te gooi. Foto: Johan Marais/African Snakebite Institute.

Pik nie dodelik nie, maar uiters pynlik!

 

Seker die slang wat vir die meeste byte in sy verspreidingsgebied verantwoordelik is, is die Suidelike Sypikslang (Atractaspis bibronii).

Hierdie klein, 30-tot-40 cm donker slangetjie kom ook in die Soutpansberg voor. “Die rede vir die baie byte is omdat hulle verwar word met onskadelike spesies soos die Kaapse Wolfslang of Pers Glansslange, en dan opgetel word,” het plaaslike slangkenner en -vanger Jan “Slang” van Rooyen gesê. 

Alhoewel hierdie slang nie dodelik is vir die mens nie (sy gif is te min vir teengif), word hy steeds as gevaarlik beskou as gevolg van sy pynlike, sitotoksiese byt, of dalk eerder steek. “Byte kan ernstig raak as dit nie reg behandel word nie. Byte is baie pynlik en gaan gepaard met swelling en nekrose om die bytplek. As die byt reg behandel word, is daar gewoonlik  nie veel skade na ‘n byt nie,” het Van Rooyen gesê.

Die sypikslang kan uitgeken word aan sy donkerbruin tot swart rug, ligte pens, klein ogies en rukbewegings as hy gesteur word. “As gevolg van die slang se lang tande, wat met gemak verby die onderste kaak steek, kan hierdie slang glad nie veilig met die hand hanteer word nie. Hierdie slang byt ook nie soos 'n gewone slang nie, maar steek eerder met sy giftande deur sy kop van kant tot kant te gooi,” het Van Rooyen gesê.

Van Rooyen het inwoners aangeraai om nie eers te probeer om die slang op te tel as dit in ‘n huis gewaar word nie. “Gebruik ‘n besem om die slang in ‘n veilige houer in te vee en kontak ‘n slangvanger of laat die slang los op ‘n veilige plek. In die natuur moet die slang net eenvoudig nie gepla word nie en met rus gelaat word,” het Van Rooyen gesê.

Vir meer inligting oor hierdie slang of met bystand tydens ‘n slangbyt, het Van Rooyen inwoners uitgenooi om met hom te skakel by tel. 081 217 9213. Vir die verwydering van probleemslange of die identifikasie van slange kan hy of Frikkie Venter by tel. 082 058 7601 ook geskakel word.

 

News - Date: 03 December 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

Die sypikslang kan uitgeken word aan sy donkerbruin tot swart rug, ligte pens, klein ogies en rukbewegings as hy gesteur word. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: