ADVERTISEMENT:

 

Daar is altyd 'n glimlag op die gesig van Heidi-Lene. Dokters by die Steve Biko Hospitaal moet nou besluit oor die pad vorentoe vir haar. Foto verskaf.

Heidi-Lene wag nog vir lewensreddende operasie

 

Heidi-Lene Jonck (23) van Louis Trichardt het sedert haar bootongeluk op 11 Maart vanjaar op die Albasinidam, wat bykans haar lewe geëis het, al ‘n moeilike pad gestap. Sedertdien het haar lewe by meer as een geleentheid al in die weegskaal gehang.

In die Zoutpansberger se laaste berig oor Heidi-Lene het haar suster, Elze-Marie du Preez, vertel van hoe amper Heidi-Lene in haar slaap kon versmoor het. Hulle het net betyds uitgevind dat littekens, wat veroorsaak is deur die uitgerekte tydperk wat ‘n suurstofpyp in haar keel was, begin groei het en stadig maar seker besig was om vir Heidi-Lene te versmoor. Die vergroeisels kon tydelik oopgerek word, maar ‘n operasie sou nodig wees om die vergroeisels permanent uit te sny.

Op 6 Desember het Elze-Marie egter laat weet dat hulle nie genoeg geld bymekaar kon kry om die delikate permanente prosedure in ‘n privaathospitaal vir Heidi-Lene te laat doen nie. “Ons kon ongelukkig nie in die kort tydjie genoegsame fondse bekom om Heidi-Lene se operasie aan haar lugweg privaat te laat doen nie, maar Dr Maringa [‘n oor-, neus- en keelspesialis] het uit sy pad gegaan om Heidi-Lene by Steve Biko hospitaal in te kry en ook dit reggekry dat die hoofchirurg van die Oor-, Neus- en Keel-afdeling [ENT] by Steve Biko Hospitaal Heidi-Lene as pasiënt inneem. Dr Maringa het ons meegedeel dat ons in baie goeie hande sal wees.”

Heidi-Lene is van Vrydag, 7 Desember, by die Steve Biko hospitaal in Pretoria opgeneem. “Ons is nog nie heeltemal seker wat die volgende stap sal wees by die ENT-afdeling nie,” het Elze-Marie gesê, “maar wat ons wel weet is dat God in beheer is.”

Dr Maringa het deeglike verwysingsbriewe gegee, asook al die besonderhede van wat hy reeds vir Heidi-Lene gedoen het. Hy het die familie oor en oor verseker dat hy Heidi-Lene in uitsonderlike goeie hande oorgee. “Ons is so baie dank aan Dr Maringa verskuldig. Hy het uit sy pad gegaan om dit vir Heidi-Lene moontlik te maak,” het Elze-Marie gesê.

Heidi-Lene het Maandag vir X-strale, ‘n breinskandering en EKG by die hospitaal gegaan. Volgens Elze-Marie sal die dokters later besluit wat om te doen. “Die dokters dink hulle gaan net vir nou weer die lugweg rek en dan in Januarie weer kyk. Die spesialiste sluit volgende week Vrydag, so hulle gaan haar by die teater indruk. Sy gaan vir vier of vyf dae in die hospitaal moet bly. Sy is veilig ingeboek by die kindersaal met twee ander vrouens. Die staf praat Afrikaans ook en hulle is baie vriendelik en behulpsaam,” het Elze-Marie gesê.

Die prosedure om haar lugweg weer oop te rek  “koop” vir Heidi-Lene weer 3 tot 4 weke tyd tot Januarie, wanneer die spesialiseenheid weer oopmaak. Dan sal hulle weer besluit wat die volgende stap vir haar is. “Hulle het ons wel meegedeel dat die waglys vir die operasie redelik lank is en dat, indien die rekprosedure nie genoegsaam is nie, dat hulle moontlik ‘n trageotomie sal moet doen terwyl sy wag vir die groter operasie,” het Elze-Marie gesê.

Al is dit vir hulle ‘n baie stresvolle tyd, is hierdie twee susters positief en dankbaar vir al die hulp en liefde wat hulle ontvang. “God is reeds by môre en alles sal uitwerk soos dit moet,” het Elze-Marie gesê.

Die Tafelronde Zoutpansberg 66 administreer al die donasies wat ontvang is vir Heidi-Lene. Die rekeningbesonderhede, met verwysing Heidi-Lene, is Round Table 66, Eerste Nasionale Bank, rekeningnommer 528 668 32 804 en takkode 260149. ‘n Facebook-blad is vir Heide-Lene geskep met videogrepe en nuus oor haar vordering. Die naam van die blad is Heidi-Lene Jonck By Faith You Will Walk Again.

 

News - Date: 16 December 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Jo Robinson

Jo joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2018 pursuing a career in journalism after many years of writing fiction and non-fiction for other sectors.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: