ADVERTISEMENT:

 

Oom Hansie (middel) en tannie Corrie Uys (tweede van links) moes bontstaan met al die gaste verlede week. Vrydag het 'n ou vriend van die familie en voormalige burgemeester van die dorp, Daan Nel (heel links) kom geluksê. Kort daarna het sy swaer, Ted Uys, en Martie Rossouw (heel regs) kom inloer.

Oom Hansie vier 90 kleurvolle jare

 

Een van die streek se kleurrykste karakters, oom Hansie Uys, het verlede Vrydag sy 90ste verjaardag gevier. Oom Hansie, ‘n jarelange inwoner van die Soutpansberg, was deel van die heel eerste matriekklas van Hoërskool Louis Trichardt.

“Op sy dae was hy een van die vinnigste vleuels in die destydse Rhodesië,” onthou Oom Hansie se swaer, Ted Uys. Oom Ted was een van die vele gaste wat Vrydag by oom Hansie en sy vrou, tannie Corrie, se woning op Louis Trichardt opgedaag het. Tannie Corrie moes regstaan met die tee en eetgoed, maar daaraan was geen tekort nie. Haar bakvermoë mag dalk ‘n bydraende rede wees vir die feit dat hulle al bykans 60 jaar getroud is.

Oom Ted is self geen jongeling nie en vier later vanjaar sy 94ste verjaardag. Die twee van hulle het in die vroeë 1950’s op tabakplase in die buurland gaan werk. Hulle het saam rugby gespeel en oom Ted reken daar was min verdedigers wat oom Hansie kon vang as hy eers op spoed gekom het. “Hulle wou hom later kies vir die Suid-Rhodesiese span, maar toe is ons terug na Suid-Afrika,” vertel oom Ted.

Oom Hansie is in 1929 op Standerton gebore, maar het op Springs grootgeword. Toe die gesin in 1943 na die noorde van die Soutpansberg verhuis het, het die jong Hansie eers in Pretoria gebly en skoolgegaan by Afrikaans Hoër. Ietwat oorhaastig het hy besluit om skool na standerd agt te los. Hy het gou sy fout besef, maar toe besluit om sy matriekjaar eerder in Louis Trichardt te voltooi.

“Mnr. Marius Brönn, die hoof, het my toegelaat om in matriek te wees sonder standerd nege en met net drie kwartale in 1947 oor,” vertel oom Hansie. Die besluit was egter nie gewild onder al die personeellede nie en veral die vise-hoof van destyds het sy bes probeer om mnr. Brönn verkeerd te bewys. “Hy het my voor almal as die swakste en treurigste matrikulant in die destydse Britse Statebond genoem,” onthou oom Hansie.

Dit was egter oom Hansie wat die laaste hou ingekry het. Hy het al ses sy vakke in die matriekeindeksamen geslaag. Slegs 15 van die skool se 20 matrieks kon dit regkry. “Jy kry onderwysers wat opvoeders is en dan dié wat opvoeters is,” spot oom Hansie. Hy het egter baie lof vir die onderwysers van destyds wat sy lewe help vorm het. “Daar was onderwysers soos mnr. Brönn, oom Koos van der Fyver en oom John Byles,” vertel hy. Mnr. Jannie Mulder, hul geskiedenisonderwyser, was selfs bereid om op hulle troue seremoniemeester te wees.

Ná skool het oom Hansie voltyds en deeltyds studeer en verskeie vaardighede aangeleer. Hy het diplomas verwerf in meganiese en elektriese ingenieurswese. Hy het hom bekwaam as ‘n dieselwerktuigkundige en het geleer hoe om bedrading te doen. Hierdie vaardighede het hom latere jare goed te pas gekom as elektrisiën op Louis Trichardt. Hy het vir etlike dekades instandhouding gedoen by onder meer die Brenner meulens en Hunt, Leuchars en Hepburn se saagmeulens.

Baie inwoners ken die Uys-egpaar egter as ywerige versamelaars. Of dit nou ou motors of koekoekklokke is, oom Hansie en tannie Corrie sal nuuskierig naderstaan. Oom Hansie het in ‘n stadium met een van die land se grootse versamelings van modeltreine gespog. “Daar was naderhand sowat 1 500 meter elektriese drade, sowel as dorpies en plase, brûe en tonnels op hierdie mini-spoorwegterrein,” skryf Paul Prinsloo in sy boek “Burgers van die Soutpansberg”. (Prinsloo het ‘n reeks boeke geskryf oor bekende karakters uit die streek).

Oom Hansie spog egter met ‘n reeks ander “beroepe”, waarvan een dié van streeksjoernalis was. Hy het vir baie jare diens gedoen as korrespondent vir die destydse Transvaler en Noord-Transvaler koerante, asook die Landbouweekblad. Hy was selfs die SAUK radiodiens se korrespondent hier uit die noorde.

Oom Hansie kan vandag nog nie stilsit nie. Hy is steeds aan die peuter met ‘n paar stoomenjin-modelle en maak graag meubels reg. Die volgende groot gebeurtenis waarop hy en tannie Corrie voorberei is vir hul 60ste huweliksherdenking op 18 Julie.

 

News - Date: 10 March 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: