ADVERTISEMENT:

 

Afgeneem kort ná afloop van dr. Ivan Meyer se gespreksessie Maandagoggend. Van links af staan Frits Ahrens, John Struwig, dr. Ivan Meyer, Leonora Els en Jacques Smalle.

Vra boere om verskoning, eis Louis Trichardt voorsitter

 

Die leier van die Demokratiese Alliansie moet verskoning vra vir sy uitlating dat boere grond gesteel het, het die voorsitter van die Louis Trichardt Boerevereniging, Mnr Fritz Ahrens, Maandag geëis. Ahrens was een van die gaste wat ‘n ontbytsessie op Louis Trichardt bygewoon het waar die Wes-Kaapse Minister van Finansies, dr. Ivan Meyer, die gasspreker was.

Ahrens het tydens vraetyd die DA se verteenwoordigers aangevat oor ‘n onlangse opmerking van die DA leier, Mnr Musi Maimane, dat daar grond is wat histories gesteel is. Maimane was ‘n gasspreker op Eusebius Mckaiser se 702-radioprogram en sou gesê het dat kompensasie betaal moet word, selfs al sou gevind word dat grond in die verlede gesteel is.

Ahrens het aangevoer dat landbou die grootste bydrae lewer tot die ekonomie in die streek en dat die boere wat hier woon hul eiendom op wettige wyse verkry het.

Meyer het geantwoord en Ahrens probeer verseker dat die DA landbou as ‘n prioriteit beskou, veral in die Wes-Kaap, waar hy betrokke is. Hy het belowe om die gesprekke rondom grondhervorming binne die party verder te voer.

Mnr Jacques Smalle, provinsiale leier van die DA, het die party se beleid herhaal dat grondhervorming ‘n plek in die land het, maar beklemtoon dat dit nie sonder vergoeding mag geskied nie.

In sy praatjie het Meyer uitgewei oor die suksesse en programme wat in die Wes-Kaap ingestel is waar die DA aan bewind is. Hy het Limpopo as ‘n “failed state” beskryf, waar die kundigheid beskikbaar is, maar nie benut word nie.

Meyer se raad was dat ‘n infrastruktuur-geleide benadering gevolg word. Dit behels dat die beskikbare fondse gekanaliseer word na die herstel en onderhoud van infrastruktuur. Wat opleiding betref, is dr. Meyer se voorstel dat die stelsel van gratis onderwys vir almal mee weggedoen word en vervang word met ‘n stelsel waar gratis vakleerlingskappe aangebied word. Dit sal, volgens hom, opleiding in praktiese beroepe soos loodgieters en elektrisiëns aanmoedig.

Smalle het meer uitgewei oor die beoogde spesiale ekonomiese sone wat beplan word noord van die Soutpansberg. Alhoewel hy nie teen sulke ontwikkelings gekant is nie, is die DA bekommerd oor die onderhandelingsprosesse wat nie in plek is of afgehandel is nie. Dit sluit onderhandelings in met rolspelers soos SANRAL. Hy is ook bekommerd omdat dieselfde maatskappye wat in die Bosasa-skandaal gemeld word, ook hier betrokke is.

Tydens die vraesessie het nog ‘n plaaslike sakeman, Mnr Rampie Gilfillan, gesê dat die DA realisties moet wees oor hul kanse om goed te doen in Limpopo tydens die komende verkiesing. “Die DA gaan nie hier regeer nie,” het hy dit gestel en gevra hoe hulle die verkiesing benader.

Smalle en Meyer het saamgestem dat die uitdaging in Limpopo groot is. Volgens Smalle is die DA die party in die provinsie wat die vinnigste groei. “Niemand het gedink dat Modimolle en Thabazimbi gaan val nie,” het Smalle gesê, met verwysing na die DA se oorwinnings in dié twee munisipaliteite. Sy mening was dat koalisieregerings ‘n realiteit gaan word in baie munisipaliteite. “Dit is ‘n skaakspel wat wag,” het hy gesê.

News - Date: 16 March 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: