ADVERTISEMENT:

 

Me. Riekie Steyn se Toyota Corolla was minder gelukkig en moes afgeskryf word nadat sy in die trop beeste ingery het. Foto verskaf.

Vrae oor waarom daar nie opgetree word nie?

 

Verskeie vrae word gevra waarom daar nie opgetree word teen die talle straatsmouse wat veral in die Levubu-omgewing toegelaat word om in die padreserwe onwettige strukture op te slaan en daarvandaan sake te doen nie.

Volgens me. Lana Hoffman, stigterslid van die Levubu Concern Group, word hierdie kwessie telkens opgebring in die gereelde Rural Safety-vergadering wat by die polisiestasie in Levubu gehou word. Hoffman sê sy is tydens die laaste vergadering van hierdie forum wreed ontnugter toe ‘n amptenaar opgemerk het dat hulle nie nou teen hierdie straatsmouse kan optree nie, aangesien dit te naby aan die verkiesing is.

Nog ‘n kwessie wat telkens bespreek word tydens hierdie Rural Safety-vergadering is die kwessie van rondloperdiere. Hoffman sê egter dat dit vir haar uiters frustrerend is dat sake wat tydens die vergadering bespreek word feitlik nooit genotuleer word nie. “Dit is hoekom daar niks gedoen word nie, want daar is geen rekord van wat gesê of belowe is nie,” het Hoffman gesê.

Die probleem van rondloperdiere, veral beeste, op die streek se paaie is ‘n lewensgevaarlike realiteit. Daarvan kan Koos en Riekie Steyn getuig. Ná gimnastiekoefening die aand van 4 Maart het Riekie en haar drie seuns, Innus (17), Douwe (14) en Fourie (12), vanaf Louis Trichardt teruggery na hulle woning op die Piesanghoekpad. Dit was net na 19:30. Skaar was hulle uit die dorp uit of Riekie het in ‘n trop van tussen 18 en 20 beeste, wat in die pad gestaan het op die R524, ingejaag. Sy het twee beeste morsdood gery, terwyl die Toyota Corolla waarin hulle was totaal afgeskryf is. “Met die genade van Bo het almal van hulle ongedeerd uit die wrak geklim,” het Koos Dinsdag gesê.

Koos ry self elke dag die bus op die R524 tussen Louis Trichardt en die Universiteit van Venda (Univen) in Thohoyandou. Hy sê die probleem van rondloperdiere in die pad, veral vanaf Tshakuma, is algemeen. “Vir ons wat die pad elke dag ry is dit nie meer so erg nie. Vir ander is dit egter ‘n nagmerrie,” het Koos gesê. Hy het verwys na ‘n vrou wat vir ‘n kort rukkie saam met hulle werksaam was by Univen. Sy het egter bedank omdat die rit na en van Thohoyandou vir haar net te “skrikwekkend” was.

Die frustrasie wat Hoffman ervaar, asook ander ongelukkig padgebruikers, is dat daar blykbaar verwarring bestaan oor wie verantwoordelik is vir wetstoepassing in hierdie kwessies. Dit sluit in klaarblyklike verwarring oor in wie se verantwoordelikheidsgebied dele van Levubu val – is dit nou die Makhado of die Vuwani Munisipaliteit? Dit blyk weer ‘n klassieke geval te wees van “tussen die hand en die mond val die pap op die grond.”

In ‘n soeke na antwoorde is die Makhado Munisipaliteit, die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) en die Road Agency Limpopo (RAL) genader vir kommentaar.

Teen druktyd is nog geen kommentaar van Makhado ontvang nie. SANRAL en RAL het egter geantwoord.

Volgens SANRAL se nasionale woordvoerder, mnr. Vusi Mona, is hulle slegs verantwoordelik vir die R524. Alle ander paaie in die Levubu-area val onder die RAL se beheer.

Mona het gesê dat hulle bewus is van die probleem van rondloperdiere, veral in ‘n 5km radius om die plaas Green Farms en nader aan Levubu. Hy sê die rede hiervoor is plaashekke wat oop of onbeman gelos word en SANRAL-amptenare spandeer ure om diere se eienaars op te spoor.

Volgens Mona het hulle ‘n span wat die R524-roete patrolleer vir rondloperdiere, dooie diere en beskadigde plaasheinings. “Van tyd tot tyd kry hulle klagte van dooie diere on die padoppervlakte; die mees onlangse was ‘n insident op 4 Maart,” het Mona gesê. Hy het verwys na Riekie se ongeluk.

RAL het in antwoord gesê dat hulle bewus is van die toename in onwettige strukture (padstalletjies) langs provinsiale paaie in die hele Limpopo. Volgens wet, het RAL woordvoerder mnr. Ben Manyathela gesê, is die RAL verplig om hierdie onwettige strukture te verwyder. “Die wet vereis egter dat, voordat enige strukture verwyder word, daar ‘n bewusmaking moet plaasvind onder alle inwoners. Vir die laaste paar maande het RAL baie gedoen [advertensieveldtogte] ten opsigte van bewusmaking, met die idee om daarna die strukture te verwyder,” het Manyathela gesê. In die geval van Levubu het hy gesê die RAL was onbewus van die probleem, maar dat hulle dadelik ‘n span sou uitstuur om aandag te gee aan die probleem.

Tot op hede, het Hoffman gesê, het baie mense vir haar gesê sy sal nie die situasie op Levubu se paaie kan regkry nie. “Baie mense het vir my gesê ek mors my tyd om die kwessie aan te spreek. Nou mors ek maar my tyd,” het Hoffman gesê. Intussen bly sy optimisties dat daar teen die oortreders opgetree gaan word.

 

News - Date: 30 March 2019

Recent Articles

Search for a story:

 

Een van die twee beeste wat me. Riekie Steyn doodgery het net buite Louis Trichardt op die R524 na Levubu. Haar drie seuns was saam met haar in die kar. Gelukkig het hulle ongedeerd uit die wrak geklim. Foto verskaf.

Shared caption

Shared caption

Die Road Agency Limpopo (RAL) het hierdie week gesê hulle was nie bewus van die probleem van onwettige strukture (padstalletjies) in die padreserwe in Levubu nie, maar dat hulle dadelik ‘n span sou uitstuur om die probleem aan te spreek. Foto’s verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: