ADVERTISEMENT:

 

Bossie Mostert en sy verloofde, Ronél Klopper. Foto verskaf.

Bekende grootwildjagter deur buffel gegaffel

 

Dit is nie aldag dat jy deur ‘n buffel aangeval en deurboor word en dan nog lewe om die storie te vertel nie. Dit is presies wat met die 39-jarige mnr. Bossie Mostert van Limpopo Big Game Safaris gebeur het.

Bossie sterk tans in die MediKliniek in Tzaneen aan, nadat hy verlede Vrydag twee keer deur ‘n gekweste buffel op ‘n plaas in die Waterpoort-omgewing gegaffel is. Die Zoutpansberger het hierdie week met sy verloofde, die 41-jarige Ronél Klopper, gesels.

Die drama het verlede Dinsdag, 2 April, begin toe ‘n kliënt van Bossie ‘n massiewe buffelbul op ‘n plaas in die Waterpoort-omgewing gekwes het. Die gewonde dier het ‘n goeie bloedspoor gelos wat gevolg kon word. Die spoor is gevolg en teen laat Donderdag het die buffel begin sirkel in ‘n sekere gebied.

Bossie en twee spoorsnyers, Robert Chisaze en Bethuel Mathoko, is vroeg Vrydagoggend uit om weer die spoor op te tel. As hulp het hulle twee professionele jagters, Herman Scheepers en Dieter Prinsloo, op bystand gehad.

In ‘n stadium het Bossie-hulle op baie vars spore afgekom. Dit was ongeveer 08:00. Hulle het hul ligging aan Herman-hulle per radio gekommunikeer en gevra dat Herman en Dieter moet begin inbeweeg. Kort daarna het Bossie, Robert en Bethuel van die bakkie afgeklim en letterlik net ‘n paar treë die bos begin instap, toe storm die gekweste buffel.

Die buffel het op die ongewapende Robert afgestorm. Bossie het dadelik vir Robert uit die pad gestamp en kon een skoot afgevuur kry op die buffel. Bethuel kon ook ‘n skoot afkry, maar toe was die buffel reeds bo-op Bossie.

Die buffel het Bossie twee keer gegaffel. Die eerste keer is sy regterbeen oopgeruk van net bo sy knie tot by sy lies. Die tweede keer het die beneukte buffel sy linkersy net bokant die heup deurboor.

‘n Swaer verwonde Bossie kon skuiling vind in ‘n bos, terwyl Robert agter ‘n klein Mopanieboompie gaan skuil het.

“Dit was presies 08:23 wat my foon gelui het,” het Ronél gesê. Dit was Bossie. “Die oproep het my yskoud laat word. Hy het net gesê: ‘Bokka, ek is lief vir jou’. Ek het gesê dat ek ook lief is vir hom en gevra of hulle al die buffel gekry het. Toe sê hy: ‘Bokka, ek het baie seergekry ... Bly jy by die lodge, hulle is op pad’,” het Ronél gesê.

Herman en Dieter was binne minute ná die aanval op die toneel. Hulle het gedoen wat hulle kon om die bloeding te stop en dadelik per bakkie deurgejaag na die Zoutpansberg Privaathospitaal. Hier is sy toestand gestabiliseer en hy is Vrydagmiddag daarvandaan oorgeplaas na die MediKliniek in Tzaneen. “Die dokters het dit beskryf as ‘n wonderwerk en jy kon die verbasing op die familie se gesigte sien dat hy nog leef,” het Ronél gesê. Te midde van die skade het die buffel al Bossie se belangrikste slagare en organe gemis.

Bossie is direk teater toe vir ‘n vier-uur-lange operasie om die skade aan sy buik te herstel. “Hy is gelukkig verskriklik fiks … Die dokters kon dadelik opereer, omdat sy hart so sterk is,” het Ronél gesê. Maandag is hy weer teater toe om die skade aan sy been te begin herstel. Buiten vir ‘n paar gebreekte ribbes, het hy geen ander frakture gehad nie.

“Dit gaan baie goed met Bossie,” het Ronél Woensdagoggend gesê. Sy het bygevoeg dat hy intussen darem al weer ‘n paar treë kon loop.

Volgens Ronél herleef Bossie egter nog kort-kort die nagmerrie. Daar is veral een gebeurtenis wat hom geweldig ontsenu. “Toe hy daar in die bos gelê het, het die buffel na hom gedraai en hulle het vir wat soos ‘n ewigheid gevoel het stip na mekaar gestaar. Die buffel het omgedraai en ook na Robert gestaar, maar toe weer teruggedraai na Bossie en vir hom gestaar. Die buffel het daarna die bosse in gestap,” het Ronél vertel.

Hoe lank Bossie nog in die intensiewe eenheid sal moet bly, is nie seker nie. Volgens die dokters kan hy dalk teen die naweek oorgeplaas word na ‘n gewone saal. Intussen sê Ronél dis net die Here se beskermende hand en Bossie se geloof wat hom gered het. “Die Here is groot en alle glorie aan Hom!" het Ronél gesê. Sy het bygevoeg sy reël eerder vir die betaling van Bossie se mediese rekening as om ‘n begrafnis te reël.

Wat die buffel betref? Dié is ‘n dag later nie ver vanwaar hy Bossie gegaffel het nie ‘n finale doodskoot gegee.

 

News - Date: 13 April 2019

Recent Articles

Search for a story:

 

Die buffel wat vir Bossie gegaffel het is Saterdag ‘n finale doodskoot gegee. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: