ADVERTISEMENT:

 

Wyle Giel Nel (77). Foto verskaf.

Oom Giel het diep spore in die sportwêreld getrap

 

Dit was voorwaar ‘n hartseer naweek vir inwoners van die Soutpansberg, met talle bekendes wat oorlede is. Vir die Nel-familie was dit ‘n dubbele terugslag met die dood van ‘n pa en skoonma.

Inwoners het Saterdagoggend met die hartseer nuus wakker geword dat die welbekende en aktiewe Giel Nel gedurende die vroeë oggendure in die Zoutpansberg Privaathospitaal oorlede is. Vir dogter Elzabé Stewart, soos ook vir die res van die familie, was dit ‘n skok. Minder as 24 uur later sou sy ook haar skoonma, Rina Stewart, aan die dood afstaan (lees ander berig).

Oom Giel, soos almal hom geken het, het regtig geen bekendstelling nodig nie. As jongman was hy ‘n formidabele sportman. Sy liefde vir sport het oorgespoel in ‘n liefde vir gimnastiek en letterlik honderde kinders het deur die jare by hom onderrig ontvang.

Oom Giel is op 19 Januarie 1942* in die Arlington-distrik naby Lindley in die Vrystaat gebore. Hy het sy laerskool- en hoërskoolloopbaan op Lindley voltooi, waar hy in matriek hoofseun was. Soos genoem het oom Giel ‘n liefde vir sport gehad en hy het op hoërskool en universiteit jaarliks Vrystaatkleure vir atletiek verwerf. Hy was ook ‘n kranige rugbyspeler en het op universiteit rugby gespeel vir die Shimlas.

Ná oom Giel sy onderwysgraad by die Universiteit van die Vrystaat verwerf het, het hy begin skoolhou op Cornelia in die Vrystaat. Hy is in 1964 met die liefde van sy lewe, Renette,  getroud en vier kinders (Ferreira, Esther, Elzabé en Tielman) is uit die huwelik gebore.

Oom Giel het deur die jare onderwys gegee by skole en onderwyskolleges in Cornelia, Pietersburg, Louis Trichardt, Phalaborwa (Frans du Toit), die Venda Onderwyskollege en die Universiteit van Venda. Later sou hy werk as vakadviseur by die Soutpansberg onderwyskringkantoor. As gekwalifiseerde skeidsregter het hy verskeie atletiekbyeenkomste by skole en kolleges georganiseer deur die jare.

Oom Giel het homself ook as gimnastiekafriger en beoordelaar vir seuns bekwaam en as LO-onderwyser (liggaamlike opvoeding) gimnastiekklasse aangebied by Hoërskool Louis Trichardt (1972/73) en by Hoërskool Frans du Toit (1974 tot 1980).

In 1982 het hy en Renette die Louis Trichardt Gimnastiekklub gestig, waarvan hy deel was as provinsiale afrigter en nasionale beoordelaar tot en met November 2018. Oom Giel het ook vir baie jare op die destydse Verre-Noord Gimnastiekbestuur en later op die Limpopo Gimnastiekbestuur as ondervoorsitter gedien. Hy het verskeie beoordelaars- en afrigterskursusse in die afgelope 50 jaar aangebied en was ‘n mentor vir vele. Oom Giel was ook ‘n ywerige hengelaar, passievolle sportondersteuner en het ‘n uitsonderlike groot liefde vir lees en die natuur gehad.

“Ten spyte van longkanker wat die afgelope paar maande sy liggaam afgetakel het, het hy ‘n blymoedige gees behou en elke terugslag as uitdaging eerder as struikelblok ervaar. Tot en met die einde was sy positiwiteit en veggees aansteeklik - dieselfde karaktereienskappe wat hy oorgedra het aan sy kinders en kleinkinders,” het Elzabé gesê.

‘n Gedenkdiens vir wyle oom Giel vind Donderdag (vandag) op 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente plaas.

Die familie het die gemeenskap van Louis Trichardt bedank vir hulle omgee, liefde en ongelooflike ondersteuning die afgelope 38 jaar. “Julle was deel van ons ouers se lewens. Dit was hul passie om met die jeug van ons dorp te werk en het elkeen gekoester. Ons wil dokter Gaigher in besonder bedank wat altyd beskikbaar was en ons pa met liefde en deernis hanteer het,” het die familie gesê.

(* Die aanvanklike berig het die datum verkeerdelik aangegee as 1924)

News - Date: 21 April 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: