ADVERTISEMENT:

 

Die 34-jarige mnr. Ferdi Jacobs, afgeneem waar hy Woensdagmiddag gewag het op verdere behandeling van sy sny- en steekwonde by die Zoutpansberg Privaathospitaal.

Derde plaasaanval in drie weke

 

Aanvalle op plase in die Soutpansberg blyk nou ‘n weeklikse gebeurtenis te wees, met die 35-jarige mnr. Ferdi Jacobs wat Woensdagoggend die jongste slagoffer geword het. Hierdie was die derde aanval op ‘n plaas in drie weke in die streek.

Jacobs tree as plaasbestuurder op vir ‘n maatskappy op ‘n plaas langs die Witvlag-pad. Hy is kort voor 11:00 deur twee mans in sy plaashuis oorval.

“Ek was op pad om my vuurtoring te gaan uitsorteer, toe dog ek laat ek sommer vir my kos kry by die huis. Ek het deur die huis gestap en skaars vyf sekondes in die kombuis gesit, toe hoor ek hier is voetstappe in die huis,” het Jacobs kort ná die aanval gesê. Snaaks genoeg, het Jacobs gesê, het hy nogal gesit en wonder of hy nie moet wag dat die voetstappe na hom toe kom nie.

Na ‘n rukkie het Jacobs egter besluit om liewer self te gaan ondersoek instel. Dit was net daar waar een van sy aanvallers vir hom agter die deur gewag het.

Die verdagte het hom gegryp en nader geruk. “Hy het dadelik begin slaan,” het Jacobs gesê en bygevoeg dat hy steeds nie seker is watter wapens hulle by hulle gehad het nie. Wat wel seker is, is dat die een aanvaller definitief ‘n mes by hom gehad het, aangesien Jacobs verskeie snye en ‘n paar diep steekwonde aan sy arms en bene opgedoen het. “Ek het my fight ingekry en het die een seergemaak. Die ander een het my onkant gevang,” het Jacobs gesê.

Wat laasgenoemde betref, het Jacobs na die ander aanvaller verwys. Dié het hom van agter met iets oor die kop geslaan. “Die volgende oomblik was dit soos ‘n skokgevoel. Ek het nie eers gesien die ander ou kom van agter nie,” het Jacobs gesê.

Gelukkig vir Jacobs het sy aanvallers in daardie stadium besluit om die hasepad te kies. Alhoewel van sy arbeiders naby die huis was, het niemand van hulle die aanvallers gesien nie.

“Ek het myself op die vloer gekry en was baie duiselig. Ek weet nie eers hoe ek in die kamer gekom het waar my selfoon was nie. Daar kon ek begin bel en skreeu vir hulp,” het Jacobs gesê. Dit was juis een van die plaaswerkers naby aan die huis wat sy hulpkrete gehoor en hom te hulp gesnel het. Verdere hulp is toe ontbied.

“Weet jy, dit het so vinnig gebeur. Ek weet net die een het ‘n vlek soos ‘n brandmerk op die gesig,” het Jacobs gesê. Behalwe bietjie kontant wat in die huis was, het Jacobs gesê, vermis hulle nie regtig enige iets anders nie. “Maar alles is maar nog ‘n gemors,” het hy bygevoeg.

Jacobs is gevra of hy homself gelukkig ag om die aanval te oorleef het. “Kom ek sê vir jou, die geluk deel dink ek nie het al ingeskop nie. Ek is maar nog kwaad en daar is baie dinge wat op jou emosies inspeel,” het Jacobs gesê.

Die aanval op Jacobs volg bietjie meer as ‘n week ná die wrede aanval op die  80-jarige tannie Joekie Nortjé en haar seun, die 62-jarige Johan Nortjé. Die twee is deur vyf mans op hul plaas Nooitgedacht net buite die dorp op Maandag, 27 Mei, oorval, erg aangerand en beroof. Johan het ernstige kopbeserings opgedoen en sal op 12 Junie ‘n breinskandering kry om te bepaal of daar permanente skade is. Sy ma het snye en kapwonde opgedoen, onder meer met ‘n panga. Die skade aan haar hande is so goed as hulle kon deur dokters herstel. “Dit gaan baie goed met hulle al twee. Ek praat gereeld met Johan en my ma kry gereeld fisioterapie vir haar hande,” het tannie Joekie se ander seun, Dippie, gesê.

Een verdagte is kort ná die aanval op die Nortjé-familie in Tshikota aangekeer. Die 30-jarige Keith Kurimakwaramba van Zimbabwe het op 30 Mei in die hof hier verskyn op onder meer twee klagte van poging tot moord. Kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag by navraag gesê die ander vier verdagtes is nog op vrye voet.

Intussen is die 51-jarige Annette Kennealy, bekende plaaslike kunstenaar en aktivis teen plaasaanvalle, verlede week op die familieplaas begrawe. Sy is na bewering op haar plaas Welgevonden deur haar plaaswerker op Maandag, 20 Mei, verwurg en met ‘n hamer doodgeslaan. Die plaaswerker, die 40-jarige Kenny Ramatshimbila, is ure ná haar liggaam ontdek is gearresteer en voor die hof gebring. Hy sal in aanhouding bly tot sy volgende hofverskyning op 1 Julie.

 

News - Date: 07 June 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: