ADVERTISEMENT:

 

Eldine Pelli, maatskaplike werker, en Andries Smal, bestuurder van Bergcare, voor die nuwe heining en bord by die Huis van Genade.

Nuwe baadjie vir Huis van Genade

 

Die Huis van Genade, ‘n deurgangshuis vir behoeftige bejaardes, het ‘n nuwe baadjie gekry. ‘n Nuwe heining is rondom die huis aangebring en verskeie opknappingsprojekte is voltooi.

Die Huis van Genade is een van Bergcare se projekte. Bergcare is ‘n nie-winsgewende organisasie wat poog om hulpverlening aan behoeftiges in die streek te koördineer. Die diensorganisasie se hoofprojek is die kospakkies wat elke twee weke aan meer as 70 gesinne uitgedeel word, maar Bergcare is ook betrokke op ander terreine.

In 2016 is ‘n huis in Douthwaitstraat aan Bergcare beskikbaar gemaak om te gebruik as ‘n oorgangsfasiliteit vir bejaardes. Dié huis het vroeër jare behoort aan tannie Sophie van der Lith, wat verskeie hulp-aksies vanuit haar huis bedryf het. Die huis het ook sy naam te danke aan haar betrokkenheid by hulpverleningsprojekte.

Die huis is stelselmatig opgeknap en oorgeverf. Die tuin het ook aandag gekry, sodat dit as ‘n groentetuin kan dien vir inwoners.

Volgens mnr. Andries Smal, bestuurder van Bergcare, maak die huis voorsiening vir drie individue of selfs drie egpare. “Dit gebeur dat bejaarde persone om een of ander rede op die dorp eindig sonder ‘n heenkome. Hulle word verwys na Bergcare en dan moet daar tydelike huisvesting vir die persone gevind word,” verduidelik Andries.

In elk van die gevalle word die omstandighede eers ondersoek en ‘n maatskaplike werker doen ‘n behoeftebepaling. Die maatskaplike werker sal dan ‘n aanbeveling maak en, indien plek beskikbaar is, word die persoon of persone by die Huis van Genade geakkommodeer.

Tydens hul verblyf word die inwoners aangemoedig om hulself besig te hou met handwerk, soos om plante in die groentetuin te verwerk. Die plantjies word dan op vlooimarkte verkoop vir ‘n ekstra inkomste vir die persoon wat dit geplant en versorg het.

 

News - Date: 15 June 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: