ADVERTISEMENT:

 

Skade aan pype rede vir kroniese watertekorte

 

In wat nou al ‘n gereelde gebeurtenis geword het, was Louis Trichardt se krane telkens sedert verlede Donderdag weer droog.

Dit blyk egter dat nie almal se krane droog was nie. Sommige het water gehad, ander nie. Dit het gerugte tot gevolg gehad dat munisipale amptenare, doelbewus of omdat hulle vergeet, nalaat om stopkrane weer oop te draai nadat daar aan stukkende waterpype gewerk is. Te midde van die droë krane wou baie inwoners ook weet waar die Vhembe Distriksmunisipaliteit se watertenkwaens is wat water aan inwoners moet voorsien in geval van wateronderbrekings. Van die inwoners wat by die Zoutpansberger gekla het, het gesê hulle het gehoor dat nie een van Vhembe se watertenkwaens meer werk nie.

Te midde van die kroniese wateronderbrekings was die antwoorde van Vhembe oor die rede(s) vir die tekorte maar min. Plaaslike DA-raadslid Brian du Plooy het ook min sukses gehad. “Ek probeer die ouens bel, maar hulle druk die foon dood in my oor,” het Du Plooy gesê.

In ‘n soeke na antwoorde het die Zoutpansberger Maandag vir mnr. Moses Shivambu, munisipale woordvoerder van Vhembe, gevra wat aanleiding gegee het tot die watertekorte in die dorp die afgelope week.

Volgens Shivambu is verlede week se watertekorte veroorsaak deur skade aan die toevoerpyplyn vanaf die Albasinidam wat aangerig is deur kontrakteurs by die nuwe Makhado Crossing. Hy het gesê dat hulle tegnici dadelik aan die probleem aandag gegee het en dat die watertoevoer teen Saterdag herstel is.

Dit was egter nie die einde van Vhembe se kopseer nie.

Dinsdag het Shivambu laat weet dat die watertoevoer na Louis Trichardt onderbreek is, weer as gevolg van skade aan die hoof toevoerlyn na die dorp. Die skade het plaasgevind by die plaas Takala. “Die skade sal ‘n watertekort na Louis Trichardt en Tshikota tot gevolg hê,” het Shivambu gesê. Hy het egter bygevoeg dat tegnici reeds na die toneel gestuur is om die skade te herstel. In dieselfde asem het hy om verskoning gevra aan inwoners vir enige ongerief wat hierdie kroniese watertekorte weens skade veroorsaak. “Normale watervoorsiening sal hervat sodra die skade herstel is,” het hy gesê.

Shivambu het hom nie uitgespreek oor beweringe dat munisipale amptenare doelbewus of omdat hulle vergeet, nalaat om stopkrane weer oop te draai nadat beskadigde pype herstel is nie. Hy het wel gesê dat Vhembe se watertenkwaens steeds tot diens van die gemeenskap is. Oor waar om hierdie tenkwaens op te spoor in tye van watertekorte, het Shivambu gesê dat hulle hul plaaslike wyksraadslid moet skakel. Alternatiewelik het Shivambu gesê, kan hulle ook mnr. Ofentse, Vhembe se senior tegniese bestuurder, skakel by tel. 074 914 4059 in ernstige gevalle van nood.

 

News - Date: 12 July 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: