ADVERTISEMENT:

 

Die 45-jarige Tony Strydom, wat in Julie 2016 vermoor is. Foto verskaf.

Nuwe verwikkelinge in opspraakwekkende moordsaak

 

Nog nuwe verwikkelinge in die moordsaak van die 45-jarige mnr. Tony Strydom van Louis Trichardt het oor die afgelope weke opgeduik.

Tony se liggaam is op 2 Julie 2016 in die veld, nie ver van waar hy gewoon nie het op een van die Ridgeway-kleinhoewes buite die dorp, deur sy twee seuns, Hendrik (25) en Pieter (23), gevind. Hulle het saam met hul pa en Tony se tweede vrou, Rieta (née Brown), op die kleinhoewe gewoon.

Volgens Hendrik en Pieter se destydse verklarings aan die polisie het hulle na hul pa gaan soek toe dit begin donker word en hy nie huis toe gekom het nie. In daardie stadium het die familie aangevoer dat Tony vroeër die dag alleen op die plot se skietbaan sou gaan teiken skiet het.

Sedert sy liggaam gevind is, was die omstandighede wat gelei het tot sy dood ‘n raaisel. Die nadoodse ondersoek sou aan die lig bring dat hy dood is vanweë ‘n enkele koeëlwond in sy rug. Dit het die moontlikheid van ‘n skietongeluk uitgeskakel. Dan was daar die moontlikheid dat hy geskiet is tydens ‘n rooftog. Al wat egter vermis was vanaf die toneel was sy vuurwapen. Sy persoonlike besittings en beursie was nog in sy bakkie. Weens die bevindinge van die nadoodse ondersoek het die polisie ‘n moordsaak geopen. Die saak is later na ‘n geregtelik doodsondersoek verander en toe later gesluit vanweë ‘n gebrek aan leidrade en inligting.

Die saak sou egter vroeër vanjaar ‘n dramatiese wending neem nadat Tony se vrou Rieta (66) en seun Hendrik op 5 April in die hof op Louis Trichardt sou verskyn het op klagte van die moord op Strydom. Hulle is elk op R1 000 borg vrygelaat. ‘n Paar weke later het Pieter hom aan die polisie in Standerton oorhandig in verband met die dood van sy pa en is hy saam met sy broer Hendrik en stiefma Rieta in die beskuldigde bank geplaas. Ook hy is op borg van ‘n R1 000 vrygelaat. Die drie se verskyning in die hof hou klaarblyklik verband met ‘n verklaring wat Rieta weens ‘n skuldige gewete afgelê het oor wat presies die dag op die plaas gebeur het. Die verklaring is egter nie in die hof toelaatbaar nie, aangesien dit nie voor ‘n landdros afgelê is nie maar voor ‘n lid van die polisie.

Hendrik en Pieter het verlede Vrydag, 2 Augustus, weer in die hof op Louis Trichardt verskyn, dié keer sonder Rieta. Die hof het bevestig dat Rieta intussen oorlede is, alhoewel die spesifieke detail hieromheen nie beskikbaar is nie. Die saak kon egter nie voortgaan nie, aangesien Pieter sonder ‘n prokureur by die hof opgedaag het en die saak uitgestel moes word na 1 November. Dit het intussen aan die lig gekom dat die moordwapen wat gebruik is om Tony mee te skiet vanuit ‘n boorgat op die kleinhoewe herwin is.

 

News - Date: 11 August 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: