ADVERTISEMENT:

 

‘n Emosionele Marilee van der Merwe word deur haar man Bennie bygestaan op die toneel waar haar leeukinders Duke, Lea en Nooi doodgemaak is. Foto verskaf.

“Ek het nog nooit in my lewe so gehuil nie”

 

Van koning van die oerwoud tot verminkte karkasse en bloedplasse in die Bosveldstof...

“Ek kan nie die woorde kry om my woede te beskryf nie,” het Marilee van der Merwe gesê nadat stropers die afgelope naweek drie van haar pragleeus op hul plaas net buite Louis Trichardt vergiftig en daarna twee van hulle se koppe en pote afgesny het.

Marilee en haar man Bennie is al vir ‘n geruime tyd besig met ‘n navorsingsprojek vir die daarstelling van ‘n skoon bloedlyn vir leeus en om die probleem van te veel inteling aan te spreek. Die projek vind plaas in samewerking met Natuurbewaring. Die drie leeus wat doodgemaak is, is ook redelik welbekend aan inwoners. In 2017 het die Zoutpansberger die plaas besoek pas nadat Duke, ‘n pragtige Kalahari leeumannetjie, Lea, ‘n Kalahari leeuwyfie, en Nooi, ‘n gewone “goue leeu”, hul opwagting op die plaas gemaak het. Die drie trotse leeus is Saterdagaand/Sondagoggend wreed in hul kamp op die Van der Merwes se plaas doodgemaak.

“Toe ek Sondagoggend vanaf my honde-opleiding terugkom, het my man vir my op die stoep gewag. Toe begin hy huil en sê vir my Duke-hulle, ons kinders, is dood,” het Marilee gesê. In daardie oomblik het die nuus haar so ontstel dat sy net daar op die stoep inmekaar gesak het en begin huil het.

Volgens Marilee het die stropers vergiftigde varklewer in die leeus se kampe gegooi. Die gif, het sy gesê, was so sterk dat selfs die brommers en vlieë wat op die oorblywende stukkies lewer gaan sit het net daar gevrek het.  

Met Marilee se aankoms by die leeukampe waar Duke, Lea en Nooi dood gelê het, moes ‘n emosionele Marilee deur Bennie bygestaan en vertroos word. Duke en Lea se kop en pote is afgesny. Vir een of ander rede is Nooi, wat dragtig was, se kop en pote nie afgesny nie. Die vermoede bestaan dat iets die stropers die skrik op die lyf gejaag het. “Ek het nog nooit in my lewe so gehuil nie. Jy kry nie woorde uit nie ... ek moes hulle beskerm het! Dit is my werk en ek kon dit nie eers regkry nie,” het Marilee gesê.

Dierebeskerming is ‘n passie van Marilee. As parasitoloog het sy ook ‘n string kursusse in wildbeheer en -bestuur agter die blad en sy is by die AVCASA (Association of Veterinary and Crop Associations of South Africa) geakkrediteer. Om met die navorsingsprojek te begin het baie harde werk gevat, met Duke, Lea en Nooi wat spesifiek vir dié doel aangekoop is. “Ons is nie oop vir die publiek nie. Ons het net ‘n permit vir teling in gevangenisskap, wat ons twee jaar gevat het om te kry. Ons het baie geveg en baie baklei hiervoor,” het Marilee gesê.

Dit is juis hierdie passie vir die beskerming en bevordering van leeus waarom Duke, Lea en Nooi se dood Marilee verpletterd gelaat het. “In die publiek se oog is enige leeuboer ‘n lelike ding ... Geld is nie die kwessie vir ons nie. Ons het hulle nie gekry om geld te maak nie. Ons verafsku dit as mense hier opdaag om na die leeus te kyk. Hulle is nie sirkusdiere wat geparadeer moet nie. Hulle was hier vir ons plesier en passie,” het Marilee gesê.

Oor die omstandighede wat gelei het tot die leeus se dood is daar baie vrae. Die leeus is in ‘n kamp binne ‘n tweede kamp aangehou. Al die drade was geëlektrifiseerd en gekoppel aan ‘n SMS-stelsel. Selfs al gaan sit daar ‘n duif op die draad of ‘n takkie val daarop, het Marilee-hulle ‘n SMS gekry. “Dat die leeus gestroop kon word was altyd in ons agterkop. Daar was nie een keer dat ons nie uitgegaan het as ‘n alarm afgegaan het nie. Ons maak seker, want dit is net daardie een dag wat jy besluit om nie uit te ry nie, dan gebeur dit,” het Marilee gesê.

Wat die naweek verkeerd gegaan het, weet niemand nie. Die stropers het die leeus vergiftig, die kampe se drade geknip, die kampe binnegegaan en die leeus bo-oor die geëlektrifiseerde drade uitgetrek, sonder dat enige alarm afgegaan het of SMS gestuur is. “Ons het regtig uit ons pad gegaan om die leeus te beskerm. Hulle [die stropers] is definitief goed ingelig. Dit is professionele ouens. As jy ook kyk na die snitte wat hulle gemaak het. Hulle het presies geweet waar om wat te sny,” het Marilee gesê.

Buiten vir die aanvanklike skok van die dooie leeus het daar nog ‘n skok vir Marilee-hulle gewag. Sowat 300m vanaf die kamp het die polisie Duke en Lea se koppe en pote gevind. Dit was ‘n gru-toneel, met die twee leeus se gesigte wat oopgekap is om hul tande in die hande te kry en hulle pote waarvan die naels uitgeskeur is, vermoedelik bestem vir die Oosterse medisynemark.  “Die swewende bene (floating bones) van die leeus is die duurste en mees gesogte per gram. Dit is waarvoor die Oosterse lande gaan. Dit is ‘n been in die skelet wat nie geheg is aan enige ander been nie. Hulle het nie hiervoor gegaan nie. Hierdie was nie vir die leeubeen mark nie. Hierdie was net vir die naels en tande,” het Marilee gesê.

Marilee-hulle het ná die afhandeling van die polisieondersoek op die plaas besluit om hul drie “kinders” te begrawe. “Ek het al gehoor van ander leeutelers wat in sulke gevalle hul leeus slag en die bene verkoop, maar my kinders het waardigheid. Ek het hulle begrawe,” het Marilee gesê.

Wat die toekoms betref, het Marilee gesê dat hulle sal aangaan met die projek. Hulle is in die proses om die veiligheid van die oorblywende groep leeus, almal werpsels van Duke, Lea en Nooi, nog meer op te skerp.

Wat moontlike arrestasies betref, is Marilee hoopvol. “Ek kan regtig vir jou sê ek is verbaas oor die polisie van Polokwane se bystand ... Hulle was net so ontsteld oor wat gebeur het,” het Marilee gesê. Die ondersoek is oorgeneem deur die polisie se Bedreigde Spesies Eenheid. Teen druktyd was daar nog geen aanduiding van enige vordering in die saak nie.

(Die omstandighede waaronder Marilee se drie leeus doodgemaak is, stem ooreen met die wyse waarop stropers Popallin Ranch se totale witleeu-teelgroep die afgelope paar maande uitgewis het. Die laaste van die leeus is in Julie op soortgelyke wyse vergiftig en hulle koppe en pote afgesny. Maande nadat die stropers begin het om stelselmatig die leeus te stroop by Popallin, is daar tot op hede nog geen aanduiding van enige arrestasies nie).

 

News - Date: 25 August 2019

Recent Articles

Search for a story:

 

Van koning van die oerwoud tot bloedplas langs die heiningdraad waar stropers Duke se kop en pote afgesny het. Foto verskaf.

Die pragtige sewejarige Duke, ‘n Kalahari leeumannetjie, in lewe. Foto verskaf.

Die driejarige Kalahari leeuwyfie Lea waar stropers haar uit haar kamp gesleep het en haar kop en pote afgesny het. Foto verskaf.

‘n Lid van die polisie se Bedreigde Spesies Eenheid in Polokwane neem monsters van die sesjarige Nooi om te bepaal watter gif die stropers gebruik het om haar dood te maak. Sy was dragtig gewees. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: