ADVERTISEMENT:

 

Wyle Cecil Nel (83) is oorlede. Foto verskaf.

Een van Soutpansberg se groot “bome” het geval

 

Een van die Soutpansbergstreek se groot “bome” het geval. Bekende oud-onderwyser en boer vanuit die Musina-distrik mnr. Cecil Nel is op 6 Augustus in die ouderdom van 83 oorlede.

Cecil Nel is op 21 Februarie 1936 in die destydse Messina gebore en het hier grootgeword. Hy was tot in Graad 8 op skool in Messina, maar moes toe na Louis Trichardt gaan omdat hier nie ‘n plaaslike hoërskool was nie.

In die buurdorp het hy uitgeblink op sportgebied en vanaf Graad 10 vir die hoërskool se eerstespan as losskakel uitgedraf. In matriek het hy ook as atleet sy merk gemaak en ‘n goue medalje in die 440-treë item by die Interbond-byeenkoms in Pretoria verower. Hy het Verre-Noord verteenwoordig in rugby, atletiek, tennis en later ook ringtennis.

Cecil het veral uitgeblink op die rugbyveld en het ná skool losskakel vir Noord Transvaal se B-span gespeel. Hy is in 1960 gekies om as senter vir Noord Transvaal teen die All Blacks uit te draf, maar moes weens 'n kniebesering onttrek.

Ná hy sy matriek in 1954 voltooi het, was hy as 'n geologiese assistent by die destydse kopermyn in Messina werksaam. Hy het egter besluit om 'n onderwysloopbaan te volg, wat hy met 'n groot passie uitgeleef het. Baie van die streek se jongmense is deur hom in die klas onderrig en op sportgebied afgerig.

By Normaal Kollege Pretoria het hy sy vrou, Lucy, ontmoet. Hulle is in 1962 getroud en twee seuns, Cecil Henry en Gerhard, is uit dié huwelik gebore.

In 1974 het Cecil die onderwys verlaat en met 'n voltydse boerdery begin. Hy was bekend en bemind in die boeregemeenskap en was vir jare die voorsitter van Nzhelele Boerevereniging. Hy het ook op die Landboukredietraad, skoolkomitee en kerkraad gedien.

Volgens sy familie was Cecil ‘n hardwerkende en eerlike persoon, iemand om na op te sien en van wie almal steeds met lof praat. “Ons dank ons Hemelse Vader vir die vol en geseënde lewe wat Cecil kon geniet het,” skryf hulle in die huldigingsbrief tydens die begrafnisdiens.

Die gedenkdiens het op 14 Augustus vanuit die NG Kerk Musina-gemeente plaasgevind.

Hy laat sy vrou Lucy, twee seuns, Cecil Henry en Gerhard, en hul gades, Carin en Trudie na. Daar is ook drie kleindogters, Ciska, Amor en Eloise. Sy twee broers, Daan en Eman, en twee susters, Mariaan en Evelyn, leef ook nog.

News - Date: 05 September 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: