ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. Johan van Tonder (75) van Levubu. Foto verskaf.

Johan van Tonder was 'n steunpilaar in die gemeenskap

 

Inwoners van die Soutpansberg het met hartseer kennis geneem van die dood van mnr. Johan van Tonder (75), ‘n steunpilaar van die Levubu- en Louis Trichardt-gemeenskap. Hy is op Sondag, 1 September, in die onkologie-afdeling van die Wilgers Hospitaal in Pretoria oorlede.

Johan het die afgelope tyd chemoterapie en bestraling teen kanker ontvang, wat sy liggaam geweldig afgetakel het. “Sy vegtersgees teen die siekte was kenmerkend en ‘n voorbeeld vir ons as familie, asook vir elke ander persoon wat teen dieselfde siekte baklei,” het die familie gesê.

Hermanus Johannes van Tonder is op 3 Mei 1944 op Viljoenskroon in die Vrystaat gebore. Hy het as agtjarige seun in 1952 op Levubu aangekom, waar hy sy laerskoolloopbaan voltooi het en sy hoërskoolloopbaan op Louis Trichardt. Ná skool het hy by die destydse Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) aangesluit en na ‘n kort loopbaan in die SAP het hy ‘n instrukteurspos by ‘n mynskool in Stilfontein aanvaar.

Johan is in 1967 getroud met sy ou skoolliefde, Nellie Erasmus. In 1973 het hy teruggekeer na Levubu en begin om saam met sy oorlede pa, Danie van Tonder, te boer. Hy het hom gou onderskei as ‘n ywerige boer en was die laaste jare voor sy afsterwe ‘n suksesvolle avokado- en makadamianeutboer.

“Johan was ‘n groot gesins- en familieman. Onder die kinders en kleinkinders van die familie was hy die geliefde oom. Vriende by hom het nie te kort geskiet nie en hulle het daarvan gehou om saam met hom te kuier,” het die familie gesê.

Johan het diep spore in die Levubu- en Louis Trichardt-gemeenskap getrap. Hy het die gemeenskappe op talle vlakke vir jare gedien en was ‘n leier by uitstek. So het hy vir jare as direkteur op die koöperasie se direksie gedien, asook op die skoolkomitee van Levubu Laerskool. Hy was ook betrokke by die Levubu Rugby- en Tennisklub. Tydens Johan se rugbyloopbaan het hy vir Noord-Transvaal se o.20-span en vir Wes-Transvaal se seniorspan as senter gespeel.

“Sy positiwiteit in die lewe en sy jonkheid van gees was kenmerkend. Johan sal onthou word as ‘n persoon wat altyd omgegee het vir ander en altyd ‘n helpende hand uitgereik het. Hy laat baie diep spore na en sal gemis word in die gemeenskap van Levubu en Louis Trichardt, asook deur sy familie en vriende,” het die familie gesê.

Wyle Johan se begrafnisdiens vind eerskomende Vrydag, 6 September, om 11:00 vanuit die NG Kerk Levubu-gemeente plaas. Hy word oorleef deur sy vrou, Nellie, kinders Francois, Daleen, Jaco en Michelle, asook nege kleinkinders en een agterkleinkind.

 

News - Date: 06 September 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: