ADVERTISEMENT:

 

Niel Botma (junior) wat saam met Niel senior Hi-Per Steelworks in Louis Trichardt bedryf, staan tussen die skade wat die naweek deur ‘n vuur by die besigheid veroorsaak is. Gelukkig het die vuur homself “uitgewoed” en het die familie nie alles in die brand verloor nie.

Familie bly brand was nie erger nie

 

Die Botma-familie van Louis Trichardt het die afgelope naweek byna beide hul besighede verloor vanweë ‘n misterieuse brand.

Die familie bedryf NB Feeds en Hi-per Steelworks vanaf ‘n huurperseel op die hoek van Klein- en Jeppestraat. Volgens eienaar Niel Botma moes die brand reeds Saterdagaand op die perseel uitgebreek het, maar hulle het self eers Sondag ná kerk daarvan uitgevind. “Niemand het ons laat weet nie,” het Niel gesê. Alhoewel hulle ‘n alarmstelsel het, het die stelsel geen aanduiding gegee dat daar fout is nie. “Ons het Sondag ná kerk hiernatoe gekom, want Mariska [Niel se vrou] kon nie haar beursie kry nie, en ons het vermoed sy het hom by die werk vergeet,” het Niel gesê.

Met hul aankoms by die besigheid het hulle probeer om die alarmstelsel af te sit. “Maar niks het gebeur nie. Ons het toe maar oopgesluit, en dit was toe dat ons die skade sien,” het Niel gesê.

Volgens Niel was daar nog ‘n digte rookwolk in die stoor, met die aanvanklike vuur wat nog gesmeul het. “Ons het met ‘n brandblusser en emmers water die res van die smeulende materiaal geblus,” het Niel gesê.

Wonderbaarlik blyk dit dat die brand in ‘n groot mate danksy “eksterne hulp” uitgewoed het. “Ek het orals brandblussers. Wat ons dink gebeur het, is dat een van die brandblussers weens die hitte begin stukkend brand het, toe spuit hy sy inhoud uit. Die vuur moes na regte verder gebrand het, maar dit het nie. Dit het gestop,” het Niel gesê. Met die koerant se besoek aan die perseel Maandagoggend het die brandblusser nog daar gestaan. Die brandblusser was leeg, maar die veiligheidspennetjie was nog nie uitgetrek nie. Op die een kant het daar iets wat lyk soos ‘n bol skuim uitgepeul. “Ek glo dit was daardie brandblusser wat die vuur gekeer het,” het Niel gesê.

Wat ook al die rede was hoekom die vuur homself uitgewoed het, Niel-hulle is dankbaar daarvoor want hulle het nie versekering nie. “Gelukkig het die vuur net ons sandblaasruimte afgebrand,” het Niel gesê. Dié afgekampte gedeelte was geleë in ‘n klein houtkantoortjie in een van die hoeke van die stoor. Niel sê hulle is baie bly daar was nie meer skade nie, ten spyte daarvan dat die vuur in ‘n stadium so intens was dat dit aluminium gesmelt het.

Wat die oorsaak van die brand betref, het Niel gesê hulle is nie seker nie. Die gebou se versekeraar moes nog teen Maandag kom ondersoek instel. Dit wil wel lyk asof ‘n elektriese fout die brand kon veroorsaak het. Reg langs die houtkantoortjie was ‘n kragdistribusieboks  waarvan al die koperkabels se plastiek feitlik heeltemal weggesmelt het. Dit het ingesluit die dik hooftoevoerkabel, asook alle kabels in die dak. Die hele stoor se fluoressentligte het ook om een of ander rede ontplof, met die buise wat in stukke op die grond gelê het. Nog ‘n wonderwerk vir Niel-hulle is dat die vuur nie na die voorste gedeelte van die sinkstoor versprei het nie, waar tonne droë voer, insluitend grasbale, gestoor word. Alhoewel die plastiek van die ligte se kragkabels so warm geword het dat dit gesmelt het, het die gesmelte plastiek afgedrup op die droë voer maar niks aan die brand gesteek nie.

Oor presies hoeveel skade die vuur aangerig het, was Niel-hulle teen Maandag nog nie seker nie. “Daar is wel ernstige skade aan die gebou, maar dit sal die eienaar se versekering bepaal,” het Niel gesê. Behalwe vir hul sandblaastoerusting wat in die slag gebly het, asook hul voertuig-hyser wat moontlik erg beskadig is, was Niel se grootste vrees dat sy masjinerie vanweë ‘n moontlik elektriese stuwing beskadig kon wees. Groot was hul vreugde toe hulle Dinsdag kon uitvind dat die res van hulle masjiene nie seergekry het nie. “Hulle het vir ons noodkrag kom aansluit en die masjiene kon aanskakel, wat Niel-hulle toegelaat het om aan te gaan met hul sake,” het Mariska Woensdag gesê. “Gelukkig het die vuur uitgebreek in ‘n deel van die fabriek waar daar nie baie vlambare goedere was nie. Ons is baie bly dit was nie erger nie,” het Niel gesê.

 

News - Date: 15 September 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: