ADVERTISEMENT:

 

Wyle tannie Lettie Pretorius (84). Foto verskaf.

Binnelandse Sake se tannie Lettie oorlede

 

Die altyd glimlaggende tannie Lettie Pretorius van Louis Trichardt is Maandag, 9 September, na ‘n kort siekbed in die Zoutpansberg Privaathospitaal oorlede. Sy was 84 jaar oud gewees.

Gebore op 22 September 1934, was tannie Lettie ‘n vrou wat geleef het vir haar Here, haar man tot sy afsterwe op 22 September 2010, haar kerk, haar kinders en kleinkinders. “Verder het sy haar uitgeleef deur ander te help en te dien waar sy kon. Barmhartigheid was heel bo aan haar lysie ná haar familie,” het tannie Lettie se seun, pastoor Rassie Pretorius, gesê.

 Meeste inwoners van Louis Trichardt sal vir tannie Lettie onthou vir haar jarelange betrokkenheid by die plaaslike Departement van Binnelandse Sake waar sy vanaf 1978 tot en met haar aftrede werksaam was. “Sy sal onthou word vir haar vriendelikheid en liefde vir mense. Sy het altyd ‘n glimlag op haar gesig gehad, soos elke foto van haar getuig. As daar iemand was waarop jy kon staatmaak, was dit tannie Lettie,” het past. Pretorius gesê.

Wyle tannie Lettie en haar oorlede man, oom Rassie, het hulle lewe lank in die Nederduits Hervormde Kerk gedien. “Vandat ek kan onthou het sy Sondagskool gegee. Ek wil sê dat honderde kinders deur haar Sondagskoolklas gegaan het. Haar liefde vir haar Here was altyd op haar tong. Sy het Hom gedien met haar hele hart tot die einde toe. Haar Bybel en ander heilige boeke soos sy dit genoem het, was elke aand sonder uitsondering gelees. As daar iemand was wat haar Bybel geken het, was dit tannie Lettie,” het past. Pretorius gesê.

Tannie Lettie was bekend daarvoor dat sy nie gekla het nie. As enige iemand haar sou vra hoe gaan dit, sou sy altyd antwoord: “Goed dankie. Ek het niks om oor te kla nie, die Here sorg vir my. Ek het kos, klere en ‘n dak oor my kop. Daar is ander mense wat baie slegter af is as ek.” “Ons verloor ‘n moeder wat vir seker gemis gaan word, maar die samelewing verloor ‘n dienskneg en ‘n vriendin. Ons as familie is egter dankbaar dat sy nou saam met haar man by ons hemelse Vader is. Sy het haar man na sy afsterwe ongelooflik baie gemis, maar nou is hulle weer by mekaar in die hemel sonder pyn of hartseer,” het haar seun gesê.

‘n Roudiens vir wyle tannie Lettie vind eerskomende Vrydag, 20 September, om 15:00 vanuit die Hervormde Kerk op die hoek van Stubbsstraat en Forestryweg plaas. Sy word oorleef deur haar seun Rassie en skoondogter Karin, dogter Ansie, dogter Alta en skoonseun André, 9 kleinkinders en 10 agterkleinkinders.

Die familie het hul dank uitgespreek teenoor almal, insluitend vriende en familie en die Soutpansberg-gemeenskap, vir die boodskappe van vertroosting en ondersteuning. ‘n Spesiale woord van dank het gegaan aan die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal, dr. Anton Stroebel, dr. Anneke Malan, ds. Susan Oosthuizen, Elsje Linde (vir die blomme) en Dries Nel van MFS.

 

News - Date: 21 September 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: