ADVERTISEMENT:

 

Die pragtige klein duikertjie wat verlede week in Duikerstraat deur die Louis Trichardt DBV gered moes word. Foto verskaf.

Duiker ontduik nie DBV in Duikerstraat

 

Die Louis Trichardt DBV moes verlede week bontstaan om ‘n duiker in Duikerstraat te red.

Die duiker is die eerste keer opgemerk op Maandag, 16 September, toe inwoners van Alwynstraat ‘n helse rumoer gehoor het. Dit was ‘n duiker wat op een of ander manier in ‘n inwoner se erf tussen Leeu- en Elandstraat ingekom het en in die palissadeheining vasgevang geraak het. Die inwoner en omstanders kon gelukkig baie versigtig die bokkie los kry, maar die het dadelik dieper in die erf ingehardloop en spoorloos verdwyn.

Die volgende dag het die plaaslike DBV se inspekteur Lawrence Khodobo omstreeks 08:30 ‘n oproep van ‘n inwoner ontvang wat gerapporteer het dat dieselfde duikertjie homself vasgevang het by een van die woonstelle op die hoek van Eland- en Duikerstraat.

Khodobo was spoedig op die toneel, maar moes versigtig wees. Hy het geweet die duiker het reeds baie spanning ervaar en dat enige vasgekeerde dier baie gevaarlik kan wees. Tog kon hy daarin slaag om man-alleen die duiker te vang en sonder enige verdere beserings agter in die DBV se bakkie te plaas. Die duiker het in daardie stadium ‘n besering aan sy linkersy gehad wat hy vermoedelik opgedoen het toe hy die vorige aand in die palissadeheining vasgesit het.

Khodobo het, net om seker te maak die bokkie was in ‘n toestand om weer in die natuur vrygelaat te word, dit geneem na die DBV se kliniek. Na ‘n vinnige mediese ondersoek is daar bevind dat die duiker se besering nie so ernstig was nie en dat dit weer vrygelaat kon word.

Om te verhoed dat die duiker weer sy pad na die woonbuurt vind, het Khodobo die diertjie op ‘n plaas op die Witvlag-pad vrygelaat. ‘n Videogreep van hoe die bokkie vrygelaat word is te siene op die DBV se Facebook-blad.

Khodobo het ná afloop van verlede week se voorval gesê dat inwoners kan verwag om meer en meer wilde diere in die woonbuurte te sien. Hy het verduidelik dat die veld tans nog baie droog is en dat die diere heel moontlik dieper die dorp inbeweeg op soek na weiding. Die talle veldbrande wat die afgelope tyd om die dorp geheers het kon, volgens Khodobo, ook diere die dorp in verwilder het. Wat laasgenoemde betref, het hy inwoners versoek om hom so spoedig moontlik te skakel indien hulle wilde diere in die dorp opmerk. Hy kan geskakel word by tel. 082 965 5151.

 

News - Date: 27 September 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Veruscka van der Linde

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: